Sea Harvest-aanleg gesluit weens nienakoming van Covid-19-regulasies

(Argieffoto: ANA)

Die departement van arbeid in die Wes-Kaap het die deure van een van die provinsie se grootste werkgewers tydelik gesluit omdat hy nie aan Covid-19-regulasies voldoen het nie.

Sea Harvest in Saldanhabaai aan die Weskus noord van Kaapstad, het Woensdag verskeie kennisgewings ontvang nadat ʼn gesondheidsinspekteur bevind het die aanleg oortree bepalings van die Wet op Beroepsgesondheid, het die departement in ʼn verklaring gesê.

Die departement het verbodkennisgewings vir Sea Harvest se produksielyn en ingange uitgereik. Die verbod is uitgebrei na subkontrakteurs wat ook op die perseel werk. Die kennisgewing beteken dat geen werk gedoen mag word nie in die afdelings waarvoor die kennisgewings uitgereik is.

“Sea Harvest, wat meer as 1 400 werkers in diens het, was in besit van ʼn risikobepaling. Dit het egter nie enige van die jongste Covid-19-regulasies bevat nie. Dit is ʼn groot probleem, veral omdat meer as 80 werkers reeds Covid-19 opgedoen het. ʼn Sosiale afstand is ook nie gehandhaaf nie,” het die departement gesê.

Dit is kommerwekkend dat “sommige van die grootste rolspelers in die ekonomie” nie voldoen aan Covid-19-regulasies nie, het David Esau, die hoofinspekteur van die Wes-Kaapse departement van arbeid en indiensneming, gesê.

Die Weskus is toenemend besig om ʼn Covid-19-brandpunt te word en almal sal moet help om die verspreiding van die virus te bekamp. “Die werkgewer moet voldoende bewys lewer dat stelsels in werking gestel is om al die probleme uit te stryk. Die werkgewer moet ook bewys dat die geraakte afdelings behoorlik ontsmet is vir die kennisgewing om omgekeer te word,” het Esau gesê.

Volgens hom is inspeksies nie daarop gemik om ondernemings te straf nie, maar om die verspreiding van die virus te verhoed. “Die bedoeling is nie om ondernemings permanent te sluit nie, maar om hulle te dwing om aan Covid-19-regulasies, soos uiteengesit in wetgewing, te voldoen.”

Die inspektoraat sal die aanleg weer besoek om te verseker dat minimum standaarde vir alle werkers en subkontrakteurs geld. As die inspekteur tevrede is dat aan alle maatreëls voldoen is, kan Sea Harvest sy werksaamhede hervat.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.