‘Sean is ʼn wonderwerk’, eerste foto’s ná verbande af is

Sean Smith Dinsdag in die Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

Sean Smith Dinsdag in die Milpark-hospitaal. Foto: Verskaf

“Sean se gesig was gebrand en vol sere, maar nou lyk dit weer mooi. Dit is niks anders as ʼn wonderwerk nie”.

Só beskryf Amoré Jooste, ʼn gesinsvriendin en familiewoordvoerder, Dinsdag Sean Smit (16) se vordering presies ʼn maand en ʼn dag nadat hy so erg in ʼn fratsongeluk met petrol gebrand het dat hy dae lank in ʼn kritieke toestand was en onder verdowing gehou moes word.

Sean is Sondagaand uit die brandwaakeenheid van die Milpark-hospitaal in Johannesburg ontslaan en die gesin is vir die eerste keer weer toegelaat om ʼn foto van hom met ondersteuners te deel, aangesien hulle nie toegelaat is om foto’s te neem in die waakeenheid nie.

“Die verbande aan sy gesig is al ʼn ruk gelede afgehaal en hy herstel so vinnig dat dit ʼn wonderwerk is. Aanvanklik het sy dokters gedink hy sou ʼn veloorplanting aan sy nek en hande moes kry, maar hy het so goed herstel, dit lyk asof dit nie meer nodig gaan wees nie.”

Jooste het gesê Sean se bors is nog met verbande bedek, aangesien sommige van die wonde infeksie gekry het. “Sy dokters sal oor die moontlikheid van verdere velskraping en ʼn veloorplanting besluit sodra die infeksie weg is.”

Wanneer Sean se wonde beter lyk, sal hy na ʼn rehabilitasiesentrum oorgeplaas word as deel van sy lang pad na volkome herstel.

Mé-Lissa Smith, Sean se ma, het al Sean se ondersteuners bedank vir hul gebede, boodskappe en oproepe. “Ek waardeer dit opreg. Ek kan net sê ons dien ʼn groot God van wonders. Ek kan nie wag om my getuienis met almal te deel nie,” het sy gesê.

Maroela Media het vroeër berig Sean, ʼn leerder en inwoner van Theresapark in die noorde van Pretoria, het op 17 Oktober derdegraadse brandwonde aan sy hande, ken, nek en gedeeltes van sy rug, bors en arms opgedoen, toe sy hemp aan sy lyf aan die brand geslaan het in ʼn fratsongeluk met petrol. Hy het ook inwendige brandwonde opgedoen toe hy vlamme ingeasem het.

Hy is na die Unitas-hospitaal in Centurion geneem, waar dié private hospitaal hom op hul onkoste behandel het voordat hy na die Dr. George Mukari-staatshospitaal oorgeplaas is toe daar ʼn plek oopgegaan het. Daar is egter nie ʼn brandsorgeenheid by dié hospitaal nie en geld is ingesamel om hom na ʼn private hospitaal oor te plaas.

Sy verhaal het talle mense se harte aangeraak nadat dit in die media en op Jacaranda 94.2 se oggendprogram, The Complimentary Breakfast, se gewilde Good Morning Angels-insetsel gedeel is, waarna die publiek hul beursies oopgemaak het. Genoeg geld is ingesamel om hom na Milpark-hospitaal in Johannesburg oor te plaas.

Die fondsinsameling duur egter voort om vir toekomstige onkostes te betaal, aangesien Mé-Lissa, ʼn enkelma van vier kinders, nie ʼn mediesefonds het nie.

Lees vorige berigte oor Sean Smith op Maroela Media.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Ruby

Ons sel groep het gebid vir hierdie kind wat ons nie ken nie.

Sean, jy gaan nou net van krag tot krag.

Alle eer aan ons Hemelse Vader.

Liza

Ag hoe pragtig lyk hy nie, dankie Pappa Vader dat U hom so gedra het deur hierdie tyd….
Ons het so gebid vir jou Sean, sterkte vorentoe en jy sal in ons gebede bly…. Jy lyk awesome hoor……..

charlene

Ek het myself eers voorbrei voor ek die fotos oopgemaak het, en tie ek sy gesig sien begin ek huil. En dit van vreugde – hoeveel meer moes sy ma nie gehuil het nie as ek wat hom ken van die nuus soveel vreugde ervaar oor my naaste. God is groot mense. En God is oral – Ruby sê sy en haar sel groep het gebid, Ons het vir hom gebid en so baie ander mense. God het ons gebede verhoor. Sean jy is `n ongelooflike goeie mens wat `n wonderwerk is, mag God deur jou nog aan baie mense… Lees meer »

Johann

Want dieselfde Vader wat ons bedink VOORDAT ons in n moederskoot is…dieselfde Vader wat ons SKEP….dis dieselfde VADER wat VOLKOME GENEES! Dankie Vader!

Annalet van der Merwe

Go Sean go with God. net seen en voorspoed vir jou en jou gesin, byt vas