SEB ongeldig verklaar vir tenders

(Argieffoto)

Dit is ongeldig en ongrondwetlik vir staatsorganisasies om vooraf-diskwalifikasiekriteria, soos swart ekonomiese bemagtigingsvereistes (SEB), by tenders in openbare verkryging toe te pas.

Die hoogste hof van appèl het vandag met kostes in die guns van die sakegroep Sakeliga bevind. Die hof het bevind dat die Voorkeurverkrygingsregulasies van 2017 teenstrydig is met die Wet op die Raamwerk vir Voorkeurverkrygingsbeleid, 5 van 2000 en die Grondwet en dit gevolglik ongeldig verklaar. Die hof het ook bevind dat die minister van finansies wat dit destyds gepromulgeer het, Pravin Gordhan, ultra vires opgetree het, deur te reguleer asof hy wetgewende magte het.

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga sê die uitspraak is van groot belang. “Die Voorkeurverkrygingsregulasies van 2017 het staatsorgane toegelaat om tenders by voorbaat te diskwalifiseer, net omdat ʼn maatskappy byvoorbeeld nie 51% in swart besit was nie. Die hof het nou hierdie vooraf-diskwalifikasie as ongeldig en ongrondwetlik verwerp. Dit is ʼn belangrike stap in die regte rigting, naamlik om tenders te beoordeel op grond van besigheid en die waarde wat dit vir die publiek bied, in plaas van ras en ander politieke oorwegings,” het Le Roux gesê.

Die probleem met die gewraakte regulasies was dat dit ʼn oënskynlik klein, maar buitengewoon skadelike uitbreiding van BEE-wetgewing daargestel het. Sedert 2017 het dit aan staatsorgane ’n nuwe bevoegdheid geskenk, naamlik om hulle eie diskresionêre en arbitrêre minimum vereistes – in besonder SEB-vereistes – te stel waaraan ’n kontrakteur moet voldoen as hy enigsins net oorweeg wil word vir sake met ’n staatsentiteit. Voor hierdie regulasies kon staatsorgane wel SEB in ag neem, maar mag hulle dit slegs vir ʼn deel (ongeveer tussen 10% en 20%) van die totale punte, op basis waarvan tenders toegeken is, toegepas het.

“Ironies genoeg,” voeg Le Roux by, “is dit nou die geval dat minister Pravin Gordhan, wat hierdie regulasies in 2017 geïmplementeer het, as minister van openbare ondernemings weer die vrugte daarvan pluk. Ingevolge sy regulasies het staatsentiteite die afgelope jare dikwels voornemende kontrakteurs by voorbaat gediskwalifiseer as hulle nie 51% in swart besit is nie. Met ander woorde, hulle is vanuit die staanspoor gediskwalifiseer selfs sonder dat hul prys- en waardeproposisie oorweeg is.”

Die bevinding dat die regulasies onwettig is, is vir 12 maande opgeskort, om die huidige minister van finansies, Tito Mboweni, tyd te gee om dit reg te stel.

“Ons wys staatsorgane egter intussen op die duidelike bevinding teen vooraf-diskwalifikasie op grond van SEB- en soortgelyke kriteria. Die aangewese en moreel korrekte stap vir alle staatsorgane sal wees om, tot tyd-en-wyl die minister nuwe regulasies gepromulgeer, af te sien van vooraf-vereistes.”

Sakeliga spreek sy dank uit vir die waardevolle bydraes gelewer in die saak deur South African Property Owners Association (SAPOA), wat as amicus curiae tot die saak toegetree het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Pieter ·

Dankie Sakeliga. Pravin wys maar net hy weet niks van ekonomie en demokrasie af nie. Net nog ‘n failed kader.

daniel ·

Dit is blote onsin om te verwag dat die aandeelhoudjng 51% moet wees voordat n firma inaggeneem sal word. Wie gaan hulle in elk geval aan so n dwase besluit steur.
As dit n werklikheid was sou die meeste besighefe verkies het om hul deure te sluit? want ondergaan sou hulle in elk geval.

Andre ·

Vir SBE’s en “our people” was dit soos ‘n reuse bonus wat Pravin hulle geskenk het.

Persheks Adri ·

Wat het geword van jy’s beter gekwalifiseerd en kan die werk beter doen? Jammer om te sê maar BEE werk nie as jy wel die werk beter kan doen ander storie.

Gert Johannes ·

Dit gaan ne tom vel kleur nie om kwliteid of vermoë nie en al het Sakeliga die saak gewen, sal dit nog steeds die geval bly.

Jdb ·

Dankie Sakeliga, dit is inderdaad ‘n groot oorwinning.
Dis net jammer dat die beslissing vir 12 maande opgeskort is. In 12 maande gaan die staat eenvoudig die konstitusionele hof nader om die uitspraak om te keer. Gedurende die volgende 12 maande, terwyl wetgewing en die PFMA gewysig word, gaan duisende besighede steeds daarvan weerhou word om aan tenders deel te neem.

Ferryman ·

Nou moet afgesien word van Regstellende Aksie ook. Dit het ook ‘n effek daarop dat gekwalifiseerde mense nie aangestel word nie, en het die grootste bydrae gelewer tot kader ontplooieng wat die land baie skade aangerig het.

Martie Smartie ·

Wat Pravin Gordhan nie weet nie, blykbaar, is dat 80% of 100% wit besit dikwels nog steeds 90% swart werkerskorps beteken. So hy wil die hele werkerskorps v ‘n besigheid benadeel om die topbestuur by te kom – tipies ANC onlogika. Sy volgende regulasie is seker dat alle topbesture swart moet wees, dan kan hy die huidige gemors skrap

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.