Secunda-hameraanval: Slagoffer vandag ter ruste gelê

Karin Louw en Lourens de Lange in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

Karin Louw en Lourens de Lange in gelukkiger dae. Foto: Verskaf

LET WEL: Maroela Media het vroeër berig die begrafnis sou Maandag plaasvind, soos aanvanklik aan ons gekommunikeer is. Karin Louw het Donderdagaand egter aan Maroela Media se Phillip Bruwer gesê dat die begrafnis eintlik reeds Vrydag om 11:00 plaasvind. Ons wysig die berig dienooreenkomstig. Ons vra verskoning vir enige misverstand of ongerief wat dit mag veroorsaak.

Lourens de Lange (23), een van die slagoffers wat gesterf het nadat vyf mense verlede Vrydag deur ʼn 19-jarige man lukraak met ʼn tweepondhamer in Secunda in Mpumalanga aangeval is, se begrafnisreëlings is bekend gemaak.

De Lange se verloofde, Karin Louw (23), het aan Maroela Media gesê die begrafnis is Vrydag om 11:00 vanuit die Lede in Christus Kerk se Secunda-gemeente in Wilfres Mallowsstraat.

Maroela Media het vroeër berig Louw en De Lange het Vrydag saam met hul tweejarige dogtertjie, Natilie, na die sakekern gestap toe ʼn man hulle met ʼn hamer aangeval het. Lees meer hier.

Die paartjie is ná die aanval na nabygeleë hospitale geneem. De Lange is Saterdag breindood verklaar en is Maandag om 15:00 dood verklaar. Louw, wat ook ses maande swanger is met hul tweede kind, is intussen ontslaan en sterk tuis aan. Sy het gesê haar ongebore dogtertjie het gelukkig niks oorgekom nie.

Die paartjie was glo die aanvaller se derde en vierde slagoffers. Die eerste twee, ʼn mnr. Potgieter en ene Thabo, is kort tevore daar naby aangeval. Die vyfde man, Themba Shabalala (45), is kort daarna in Roy Campbellstraat kritiek gewond en is later die dag in die hospitaal dood.

Die verdagte, Adam Muller, het Maandag in die Secunda-landdroshof verskyn op twee aanklagte van moord en drie van poging tot moord.

Buiten die aanklagte van moord en poging tot moord, word hy ook aangekla van opsetlike saakbeskadiging nadat hy glo ʼn winkel in die sakekern se venster probeer stukkend slaan het.

Die polisie het gesê die rede vir die aanval word nog ondersoek.

Muller moet weer op 28 April in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.