Secunda-man skiet vrou glo ná rusie dood

Hester O’Neill (49) is verlede week vermoor. (Foto: Verskaf)

“Ek het Hester doodgeskiet, jy kan haar maar kom haal. Bring sommer die polisie ook saam.”

Dít was na bewering die ysingwekkende woorde van Phillip O’Neill (70) aan die vriend van sy vevreemde vrou, Hester (49), kort nadat hy haar glo verlede Woensdagaand by hul huis in Secunda in Mpumalanga doodgeskiet het.

Hester het dié vriend, wie se naam op versoek nie geplaas word nie, op die betrokke aand om hulp gebel nadat O’Neill haar glo tydens ʼn argument aangerand het. Hester en O’Neill was van bed en tafel geskei en sy het die vriend sowat twee maande voor haar dood ontmoet. Die vriend het vir haar gesê om in haar motor te klim en dadelik na hom te ry.

ʼn Rukkie later is Hester egter van agter in die nek geskiet. Sy is op die toneel dood verklaar.

O’Neill het Vrydag op aanklag van moord in die Secunda-landdroshof verskyn.

Hester se suster, Catherine van de Merwe (47), het Woensdag aan Maroela Media gesê sy vermoed haar suster het op die aand van haar dood eindelik “die nuus aan O’Neill gebreek dat sy uit hul huis gaan trek en hom gaan los”.

Volgens Van de Merwe het die O’Neills ʼn stormagtige huwelik gehad en was dié huwelik op die rotse.

“Hy was ʼn jaloerse, besitlike man wat Hester van haar familie en vriende probeer weerhou het.

Catherine van de Merwe by haar suster, Hester O’Neill. (Foto: Verskaf)

“Hy was ook baie ouer as sy. Ons het nooit hul huwelik goedgekeur nie. Hulle was 12 jaar saam, maar my suster het veral die laaste vyf jaar bitter swaar gekry. Daar was goeie tye ook, maar dit was baie moeilik. Dit was sleg om my sussie so te sien,” het Van de Merwe, wat in Bethlehem in die Vrystaat woon, emosioneel gesê.

Van de Merwe het op die betrokke aand onmiddellik na Secunda gery nadat Hester se oudste dogter, Chané (24) de la Rouviere, haar gebel het om te sê O’Neill “het haar ma geskiet”.

Chané en kleinsus, Rhené (21), is uit Hester se vorige huwelik gebore.

Van de Merwe sê sy is verpletter ná haar suster se dood.

“Ons was ongelooflik na aan mekaar. Dit voel nog so onwerklik. Sy was ʼn borrelende, liewe mens en het nie verdien wat met haar gebeur het nie.

“Maak nie saak hoe moeilik dinge in jou huwelik of lewe gaan nie, jy het nie die reg om iemand anders se lewe te neem nie.”

Van de Merwe sê die familie het Vrydag hul eerste samekoms sonder Hester gehad. Dit was hul ouers, Chris en Lettie Smit, se 50ste huweliksherdenking.

“Ons het vir ons ouers ʼn verrassingsbraai gereël om hul huweliksherdenking te vier. Hester het so daarna uitgesien. Sy was ʼn familiemens en wou almal altyd bymekaarbring. Toe moes ons alleen, sonder haar bymekaarkom.”

Hester en Phillip O’Neill was van bed en tafel geskei. (Foto: Facebook / Hester O’Neill)

Van de Merwe sê sy hoop O’Neill word skuldig bevind en dat hy lank in die tronk sal sit.

“Ek hoop hy gaan tronk toe en dat dit vir hom hel is, want dis vir my hel sonder my sussie.”

Ridge Times berig dat O’Neill Vrydag weer in die hof verskyn waar hy om borgtog sal aansoek doen. Hy sal intussen in aanhouding bly. Hester se begrafnis sal op dieselfde dag plaasvind.

Hester laat nog ʼn suster, Christel Volschenk, en ʼn halfbroer, Jacques Smit, agter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

28 Kommentare

Miskruier ·

Ou bok jy sal eendag jou straf kry. Jong blare moet verder dink as wat hul neuse lank is.

Daleen ·

Die siek daad het niks met die ouderdomsverskil te doen nie!

KatjieDeKat ·

Miskien het sy juis gedink n ouer man is n veiliger verhoudings maat!

Misky ·

So hartseer as sulke tragiese dinge gebeur. As jy nie gelukkig is nie, vat jou goed en gaan. Laat die ander persoon aanbeweeg. Simpatie aan die familie en naasbestaandes.

Maritza ·

Was dalk nie ‘n goeie idee om klaar ‘n ander vriend te he as jy nog saam in een huis bly nie veral omdat die man so jaloers was

Waarnemer ·

Tragies….die wetter behoirt eintlik die doodstraf te kry…..jaloesie is n siek ding en om dan net iemand daaroir te vermoor!!!

Frank John ·

Wat gaan aan met die “manne”? Rugraatloos. Onseker van hulself. Lafhartig, ly aan verwerping en minderwaardig. Behandel vrouens sleg en dan dan waneer die vrou teen stand bied word hulle aangerand en selfs vermoor.

Racheltjie Debeer ·

Moordenaas behoort nie borg te kry nie en hul moet lewenslank opgesluit word sonder parool.

Swerwer ·

“‘n Ou bok like mos groenblare” en dit is afgryslik om ‘n ander se lewe te neem. Hoe op aarde kan die moordenaar nog aansoek doen om borgtog doen.

KatjieDeKat ·

Sy kon deur n man van haar eie ouderdom ook vermoor gewees het!

Swerwer ·

Stem. Maar mens verwag nie dat ‘n persoon van 70 tot so ‘n daad kan pleeg nie. Dit kom meer onder jonger mense voor .

Nierkie ·

Ek lag altyd as mense sê die tronk is ‘n 5-ster hotel. Alles behalwe. Die oom gaan maar swaar trek en goed so.

melaney ·

Stem. Elke vrou dra nie engelvlertjies nie. Maar om jou eggenoot dood te maak is totaal onaanvaarbaar.

Niklaas ·

Baie aantreklike vrou. Haar vriend moet maar bly wees dat hy nog lewe. Dis altyd gevaarlike situasies , sulke liefdes driehoeke en kan erge gevolge hê.

Martin ·

Die beskuldigde se borgtog moet summier afgekeur word deur die hof, hy verdien nie om vrygelaat te word in die samelewing nie. Die man het geen morele waardes nie en verdien om lank agter tralies toegesluit te word. My persoonlike opinie is dat indien hy skuldig bevind word dat hy die doodstraf verdien…

Toy ·

So onnodig, my innige simpatie aan die familie, Jy moet darem maar vreeslik kwaad wees om sover te gaan, spyt kom te laat.

Koen ·

Ag asseblief. Mense moet ruggraat kry en verantwoordelikheid aanvaar. Jou argument is verwerplik en veragtelik.

Duck ·

Al wat ek kan sè is “gemors’ as jy nie die lewe se druk kan aanvaar nie, Gly broer en los die ander alleen. Nou ja. To late for tears now

Darts girl ·

Hy het weer gedink as ek jou nie meer mag he nie dan mag niemand nie hoop hy word swaar gestraf

madels ·

Baie tragies, en verskriklik! Familie moet ook soms ingryp wanner hul n gevaarlike verhouding begin sien. Ek dink sóveel vrouens se lewens kon gered gewees het as familie vroeër opgetree het. Ek weet dis nie maklik nie maar as n man begin n vrou fisies aanrand dan moet families ingryp

AH ·

Makliker gesê as gedaan. Die monsters wat vroue so slaan en mishandel steek dit gewoonlik so weg dat dit moeilik is vir ander wat nie in dieselfde huis woon om die tekens te sien nie. Juis daarom word die slagoffers gewoonlik weggehou van vriende en familie af sodat daar nie kans is vir enigiemand om in te meng nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.