Seekatvissery in Valsbaai gestaak ná walvis vrek

Die Bryde-walvis van agter. (Foto: Simon Elwen/Sea Search)

Die Wes-Kaapse departement van omgewingsake, bosbou en visserye het Vrydag die vissery van seekatte in Valsbaai met onmiddellike inwerkingtreding opgeskort.

Dít kom nadat ʼn Bryde-walviskalf Maandag gevrek het nadat dit in die toue van ʼn visfuik vir seekatte verstrengel geraak het. Barbara Creecy, minister van omgewing, bosbou en visserye, het bevestig die opskorting van seekatvissery in die gebied is weens kommer oor walvisse wat verstrengel raak en die gevolglike “ontydige en wrede dood” van hierdie diere.

Creecy sê sy het onafhanklike wetenskaplike advies aangevra oor praktiese maatreëls wat ingestel kan word om sulke voorvalle te voorkom. Die departement het intussen met visserye in die gebied gekonsulteer en daar is ooreenkom dat die moratorium op seekatvissery van krag sal bly totdat die kwessie verder ondersoek is en moontlike voorkomende maatreëls ingestel kan word.

Sea Search, ʼn navorsingsgroep wat hom beywer vir die bewaring van seesoogdiere, het vroeër vandeesweek op sy Facebook-blad bevestig die Bryde-walvis wat Maandag gevrek het, het in ʼn visfuik vir seekatte verstrengel geraak. Volgens die groep was die walvis vermoedelik deel van ʼn klein groep walvisse wat naby die kus bly en nie soos die res migreer nie.

Tou wat om die walvis verstrengel geraak het. (Foto: Sea Change Project)

Volgens die groep is navorsing met ʼn akkurate skatting van die totale walvisbevolking nie beskikbaar nie, maar ʼn onlangse studie het bevestig ʼn vorige skatting van sowat 583 walvisse is min of meer akkuraat. Sea Search beweer 12 walvisse het oor die afgelope klompie jaar aan die kus in fuike verstrengel geraak, waarvan agt gevrek het.

Luidens ʼn verklaring deur die departement van omgewingsake, het die departement deur die jare praktiese maatreëls deur middel van permitvoorwaardes ingestel om dié probleem hok te slaan. Volgens die departement is spesiale sinklyne met ekstra gewigte in 2017 ingestel en was daar geen walvisvrektes verlede jaar nie.

“Tans is gesprekke aan die gang oor die moontlike gebruik van ‘akoestiese vrystellingsboeie’ om die nut vir vertikale lyne te minimaliseer. Hierdie opsies moet nog getoets word, maar dit bied hoop om die verstrengeling van walvisse in seekatfuike te verminder of heeltemal te elimineer.”

Albi Modise, woordvoerder van die departement, sê seekatvisserye het reeds begin om hul toerusting uit Valsbaai te verwyder. Gebiede waar die meeste interaksies met walvisse voorkom, word eerste hanteer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

Born Free ·

Iemand in China eet seekat,so ons sal n walvis doodmaak sodat die ou in China sy seekat kan eet! Net soos die renoster, die Iitermagog en haaivinne! Siek wereld! Geld is mos ons baas!

marco polo ·

Jy het seker nog nooit seekat geeet nie. Dis heerlik, maar in SA word dit calamari genoem.

Francois Joubert ·

Marco Polo, as ek kan reghelp, ek het ook so gedink op skool. Later besef jy kannie calamari ringe uit ‘n seekat sny nie. Dus, seekat (‘octopus’) is seekat en wanneer reg gaargemaak is dit beslis heerlik. Calamari kom van inkvis (‘squid’), chokka in die volksmond (‘Cape Hope squid’), en wanneer jy dwars oor die ‘tube’ sny kry jy calamari ringe.

Cherokee ·

Soos Francois jou reeds geleer het marco polo, calamari is nie seekat maar inkvis. En dit is ook nie heerlik, soos jy sê nie, maar smaak soos rubber. Die enigste wat ek ooit lekker calamari geëet het, was op ‘n Italiaanse skip, voorberei deur ‘n Italiaanse kok. Voor dit en steeds daarna, is dit smaakloos en smaak na taai rubber.

Swartwolf ·

Uitstekend. Niks is die lewens van die diere werd nie. Gaan vang seekat in die diepsee.

Rudolph ·

O, so daar is nie walvisse in die diepsee nie? Die enigste verskil is dat die walvisse daar sal vrek sonder dat ons dit sien so dit sal ons dan nie pla nie. Die waarheid is dat ons glad nie nodig het om seediere dood te maak vir voedsel. Die lyding en dood wat ons daagliks pleeg is maar net vir ons smaak.

Nita ·

Waaragtig die mensdom sal nie rus tot hy elke dier op aarde uitgeroei het nie. Mammon regeer.

lewies ·

Nita, dit is die wortel van die hele probleem in SA. As die mense net hierdie afgod met handskoene wil hanteer

Christa ·

Wil almal die wereld wat God gemaak het uitwis. Is daar nie genoeg Kos op land nie dat die see in gevaar word.

Cherokee ·

Wonderwerke van Jesus in Matteus 14 en Johannes 6: Jesus het twee keer duisende gevoed met ‘n paar brode en visse.

Rudolph van Wyk ·

Ons smaak vir seekos veroorsaak nie alleen die lyding en direkte dood van biljoene onskuldig seediere nie maar ook die ongewenste dood van miljoene meer. Alles heeltemal onnodig want daar is geen voedingselement in seekos wat ons nie in plantvoedsel kan kry nie. Dink gerus daaraan volgende keer as jy voor jou platter inskuif by OB of JD

humor ·

Ja daar is seker maar genoeg kos op land maar ek soek nog steeds n galjoentjie elke Desmber hier aan die kus van SWA. Die kommentare hierbo ruk nou die dam onder die eend uit. Daar is absoluut niks fout om ook dit wat ons Skepper aan ons in die see vir ons gegee het te geniet nie. Dit moet net oordeelkundig en met verantwoordelikheid gebeur.

Rudolph van Wyk ·

Dit is interesant dat ons altyd Die Skepper probeer aanhaal as ons die marteling, mishandeling, uitbuit, en dood maak van diere probeer regverdig. Die Skepper het in Ou Testament tyd volksmoord, slawerny, steniging van owerspelige vroue (niks vir owerspelige mans) beveel. Selfs in die Nuwe Testament is slawerny gekondoneer. God se Plan A vir die skepping was dat die mens van plante sou leef, Na die sondeval en sondvloed is die eet van diere toegelaat. Nêrens is daar ‘n verpligting op ons geplaas om kalwers met hamers dood te slaan of om skape se keel af te sny om ons smakie na vleis te bevredig nie. Inteendeel, in die Nuwe Testament word ons goed geleer ‘doen aan ander soos jy aan jouself gedoen wil hê’. Genade, liefde, geregtigheid ens. Beskerm en sorg vir die swakkes. Nou vra ek, waar is die genade, geregtigheid, liefde, respek vir diere en God se skepping as ons kyk na ons wreedheid teenoor die swaktes van God se skepping? Ons hanteer lewende, voelende wesens as kommoditeite soos handsakke en toebroodtjies. Ons neem ‘n lewe vir niks meer as ‘n paar minute se smaak

Hennie ·

Rudolf, hoeveel “plaag” diere word dood gemaak vir jou groente,? Die sondeval het die dood van die mens tot n gevolg gehad. Plante lewe ook maar tog sou hulle moes dood gaan as diere hulle eet??

attie ·

Net soos die arme walvisse en renosters verdien die seekatte ook nie om op groot skaal uitgeroei te word nie. Die mensdom is vrate wat alles verwoes rondom hulle. Kalamari is nie seekat nie maar dis in elkgeval nie eens lekker nie. Ons renosters word uitgewis en nou ons seekatte ook, alles gaan Ooste toe. Al wat ons terugsit in die see is plastiek. As ek winkels toegaan neem ek my eie sak saam en weier die winkel se plastieksak, wat doen jy?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.