Seekoei-berig sensasiewekkend

Jessica die mak seekoei Foto: sausagetree.co.za

Jessica die mak seekoei Foto: sausagetree.co.za

Jessica die mak seekoei sal nooit doelbewus iemand beseer nie, het ʼn man wat glo deur die dier aangeval is, Dinsdag gesê.

“Ek werk al twee jaar lank met haar, sy ken my en ek het toere saam met die mense gedoen,” het Stephen Jansen van Rensburg gesê.

Die 14-jarige seekoei het Jansen van Rensburg Saterdag omstreeks 14:00 gebyt toe hy sy hand in haar bek gedruk het.

“Daar is geen manier dat sy enigiemand doelbewus sal beseer nie, miskien slegs per ongeluk. Kyk maar na my hand, maar dit was nie doelbewus nie. Ek wens mense wil ophou om die storie so sensasioneel te maak.”

Jansen van Rensburg het gesê ʼn berig wat Dinsdag in die Beeld-koerant verskyn het, is vol sensasie oor die voorval. Die koerant het berig paramedici op die toneel het gesê Jansen van Rensburg het saam met sy meisie en vriende geswem toe Jessica glo op hulle afpyl. Hy is gebyt omdat hy glo met die dier gestoei en haar probeer keer het.

Die koerant het die paramedikus Pieter Papdorf aangehaal wat gesê het Jessica se eienaars was meer bekommerd oor die getraumatiseerde Jessica as die bloeiende Jansen van Rensburg. Hulle het die seekoei glo na ʼn rustige plek geneem en haar masseer om haar te laat bedaar. “Hy het baie gebloei. Sy linkerduim het aan ʼn velletjie gehang,” het Papdorf aan Beeld gesê. “Die spier is geskeur en die res van sy hand is baie erg beseer.”

Jansen van Rensburg het egter gesê dit lyk baie erger as wat dit is. Hy het gesê hy het sy hand in Jessica se bek gedruk en sy het haar mond toegemaak en ʼn klein tandjie het die gewebde deel van sy linkerhand tussen sy duim en wysvinger deurboor. “My duim hang definitief nie aan ʼn velletjie nie,” het hy gesê. “ʼn Klein stukkie vel is al wat vermis word, dit is regtig nie ernstig nie. Dit het baie erger gelyk.”

Hy het gesê selfs die dokter by die hospitaal was verbaas dat hy met ʼn helikopter soontoe gehaas is.

Tonie Joubert, Jessica se eienaar, het gesê die berig is “vol nonsens” en onwaar.

Louise Joubert, eienaar van die SanWild-bewaringsgebied, het egter aan Beeld gesê sy het met Tonie Joubert gepraat en hom gewaarsku dat dit gevaarlik is om ʼn seekoei aan te hou. “ʼn Mak seekoei is gevaarliker as ʼn wilde een, omdat hy nie bang is vir mense nie,” het sy gesê. “Jessica verander in ʼn moordwapen en dit is die eienaar se skuld.”

Mario van Rooyen, Tonie se buurman, het aan die koerant gesê hy vrees vir sy kinders omdat dit die tweede keer binne vier weke is dat Jessica iemand aanval. Tonie het egter gesê dit is nie die waarheid nie, en bygevoeg die paramedikus het “alles gedramatiseer”. “Dit is ʼn klomp nonsens,” het Tonie gesê. “Jessica is wêreldbekend en 14 jaar oud. Die berigte is nie waar nie.”

Tonie het Jessica grootgemaak nadat hy haar in 2000 op die oewer van die Blyderivier opgespoor het. Sy was ʼn paar uur oud en haar naelstring was nog aan haar vas. Sy is deur vloede in Mosambiek meegesleur en het toe op die oewer van die rivier beland waar Tonie haar gevind het. Sy bly nou saam met die gesin naby Hoedspruit in Limpopo.

Jessica, wat in Maart haar 14de verjaarsdag gevier het, is een van die land se bekendste mak diere. Sy weeg meer as 1 400 kg en is ʼn rolprentster met haar eie aanhangersklub en webwerf. Klik hier om nog oor Jessica te lees. Sy is dol oor Rooibostee en drink daagliks tot 20 liter daarvan. Sy loop in en uit die Jouberts se huis soos sy wil en slaap buite op die stoep op ʼn matras saam met haar beste maats, vyf Engelse bulterriërs.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

carel ·

1) Ek stem saam – dit wys net hoe swak ons verslaggewing geword het – hulle berig nie oor feite nie.
2) Dan verstaan ek dat die mense aangetrokke is tot die dier wat hulle hans grootgemaak het – maar dit bly n wilde dier – kyk so jaar of wat gelede is daar n man deur sy “mak seekoei” wat hy ook self groot gemaak het gedood by Orkney.

Tammy ·

Jessica is n liefdevolle dier wat mense ken. Ek wil graag die klomp afgunstige mense wat haar altyd prober afkraak of sleg maak baie mooi vra om asseblief op te hou daarmee. As jy minderwaardig teenoor die mense en hulle dier voel bly net stil. Deur jou minderwaardige optrede doen jy jouself net skade aan, Wat moet ons die “publiek” van die julle dink? Niks heeltemal niks. Ja, ek koop na 30 jaar as intekenaar vir die afgelope 18 maande gladnie meer die Beeld nie!!!!Wil dit nie verniet ontvang nie.

Nina ·

Ai…watse punte wen die ou deur haar te verdedig? Hy weet sekerlik net so goed soos die res van ons dat sy steeds wild bly! Maar SEKERLIK behoort hy OOK te weet of die dier hom aangeval het, aan dal nie…..

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.