Seemanne sterf ná ontruiming

Argieffoto Via MarineTraffic.com

Twee seemanne is Woensdagaand in ʼn Durbanse hospitaal dood nadat hulle met ʼn helikopter uit ʼn vragskip ontruim moes word.

Clifford Ireland, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Durban, het gesê die NSRI is Woensdag om 16:00 in kennis gestel dat twee semanne dringend uit ʼn vragskip ontruim moes word.

Die vragskip, Agios Fanourios, was onderweg van Abidjan in die Ivoorkus na Durban en was in daardie stadium 92 seemyle oos van Oos-Londen.

“Die mans, ʼn 53-jarige Panamees en ʼn 53-jarige Filippyn, was bewusteloos en het vermoedelik aan malaria gely,” het Ireland gesê.

Ireland het gesê weens die ver afstand kon ʼn seereddingsvaartuig nie na die vragskip gestuur word nie en is paramedici van Netcare 911 en NSRI-reddingswemmers met ʼn lugmaghelikopter na die skip geneem.

“Toe hulle daar aankom, is die bemanning na die skip toe afgehys. Die mans was in die sorg van die skip se mediese personeel en was in ʼn ernstige toestand. Hulle is in die helikopter gelaai.”

Die seemanne het omstreeks 23:00 by ʼn hospitaal in Durban aangekom waar dokters en verpleegsters by paramedici oorgeneem het. Ten spyte van volgehoue pogings om die mans se lewens te red het albei in die hospitaal gesterf.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Buitestander ·

Hoekom solank gewag om die seemanne hospitsliseer word?

Skim ·

@ Buitestaander onthou jy van die verwoestende winde wat die kuslyn getref het?…. soms laat die toestande dit nie toe om te red wanneer gered moet word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.