Seeskilpad gered ná haaiaanval

Jina die karetskilpad. (Foto: Saambr/Facebook)

ʼn Seeskilpad is verlede week by uShaka Marine World in Durban opgeneem, nadat sy ʼn onderonsie met ʼn tierhaai oorleef het. Dele van haar twee voorste swempote is skynbaar deur die haai afgebyt.

Lede van ʼn plaaslike duikskool wat aan die kus van Aliwal Shoal geduik het, het Saterdag gesien hoe die haai die karetskilpad aanval. Die haai het een van die skilpad se swempote bygekom, omgedraai en die ander een byna heeltemal afgebyt.

Die Suid-Afrikaanse vereniging vir marienebiologienavorsing (Saambr) het in ʼn Facebook-plasing gesê lede is na die toneel ontbied en het daarin geslaag om die beseerde skilpad na uShaka Marine World te neem.

“Sy is deur ʼn veearts ondersoek en het gelukkig nie erge bloeding opgedoen nie, ondanks die wonde aan haar swempote,” lui die plasing.

“Haar voorste swempote is deur die haai gebyt. Sy het net eenderde van haar linker- en tweederdes van haar regterswempoot oor.”

(Foto: Saambr/Facebook)

Die veearts het pynverligtingmedikasie vir haar gegee en haar in ʼn vlak swembad geplaas om te rus. Ondanks haar gebrek kan sy nog goed deur die water navigeer en na die oppervlak toe kom om asem te haal.

“Die veearts het haar Jina genoem, ʼn naam wat histories aan diegene gegee is wat oorwinnaars is.”

Saambr sê Jina se beserings is byna identies aan dié van Keena, ʼn ander karetskilpad wat in 2020 by uShaka Marine World opgeneem is.

Hoewel Keena intussen van haar beproewing herstel het, sal sy nooit weer op haar eie kan oorleef nie. Sy is wel ʼn bekwame inwoner van die bekende akwarium.

Die skilpadrehabilitasiespan sal Jina vir die volgende paar dae noukeurig dophou, deurlopend pynmedikasie gee en haar los om te rus totdat sy volkome herstel het.

“In hierdie stadium vat ons elke dag soos dit kom totdat haar toestand meer stabiel is,” sê Malini Pather, senior akwaris van Saambr.

“Ons hoop steeds dat sy sal oorleef en doen alles in ons vermoë om haar te help herstel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.