Seeskilpadjie van fabriek se dak af gered

Roofus in ‘n roomysbak.

“Ek het eers gedink dis ʼn speelding, maar toe beweeg die koppie.”

Marius Scholtz was Donderdag laatmiddag besig om ʼn antenna op die dak van ʼn dubbelverdiepingfabriek in St. Francis in die Oos-Kaap te installeer toe hy die skilpadjie gewaar het.

Scholtz werk vir ʼn Kaapse onderneming genaamd Ozone Marine Communications wat in die maritieme sektor werk. Hy was in Port Elizabeth en is toe versoek om ʼn maritieme radiostelsel by ʼn maatskappy genaamd Balobi te gaan installeer.

Volgens Scholtz moes die skilpadjie al sy krag gebruik om sy koppie skaars ʼn paar millimeter te beweeg. Die skilpadjie is in ʼn leë roomysbak met ʼn bietjie seewater gesit. “Hy was baie uitgedroog en gedehidreer. Hy het soos ʼn stuk biltong gelyk. Ek het nie baie hoop vir hom gehad nie, maar hy het glad nie moed opgegee nie.”

Die skilpadjie se een swempoot het ʼn hap uitgehad en daar word vermoed dat ʼn seemeeu of ander voël hom iewers gevang en op die dak laat val het.

Scholtz het nie geweet hoe om na die klein skilpadjie om te sien nie en het op die Twee Oseane-akwarium se webwerf op ʼn berig afgekom oor hoe om na ʼn seeskilpadjie om te sien. Hy het ook gelees wie om te bel indien jy raad nodig het waarna hy uiteindelik by Tracy Whitehead, die akwarium se koördineerder vir sy skilpadreddingsnetwerk, uitgekom het.

Roofus word gebad.

Nadat Scholtz by Whitehead raad gekry het, het hy die skilpadjie vir 30 minute in ʼn houer vol water gesit. “Hy het al hoe meer lewe begin toon. ʼn Regte klein vegter. Ek het hom drooggemaak en in ʼn houer met ʼn handdoek geplaas soos daar vir my gesê is. Ek het hom weer in die water gebad voor ek bed toe is.”

Die skilpadjie is intussen Roofus gedoop. Scholtz het die Vrydagoggend groot geskrik toe dit gelyk het of Roofus nie wil beweeg nie. Hy het egter onthou dat Whitehead gesê het seeskilpadjies kan baie slaap. Roofus het so 15 minute later meer begin beweeg waarna Scholtz hom weer in ʼn houer water geplaas het.

Roofus is hierna na die Bayworld-akwarium in Port Elizabeth geneem. “Ek hoop hy sal volkome herstel, weer vrygelaat kan word en ʼn goeie lewe hê – dit is my droom vir hom,” het Scholtz gesê.

Maryke Musson, hoof van die Two Ocean Education Foundation, het Scholtz geloof vir sy optrede. “Roofus is ʼn baie gelukkige skilpadjie. Hy het so te sê geen kans op oorlewing gehad of om op daardie dak gevind te word nie, maar dit klink of Marius op die regte tyd op die regte plek was.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Helene ·

Mooi einde vr Roofus. Hoop ook hy Sal weer vrygelaat word!

ElizeK ·

Te dierbaar.
Mooi artikel te midde van spanning oor virus.
Goed gedoen Marius.

Schalk N ·

Welgedaan Marius, jy is DEFINITIEF Roofus asook die hele Maroela-Fontein se HELD… ????

Jean ·

Dit was nou die mooiste storie wat ek in ‘n lang tyd gelees het. Welgedaan aan die barmhartige Samaritaan!

Amatambo ·

Dankie vir so ‘n mooi storie te midde van al die
“gloom & doom” wat deesdae die nuus oorheers. Mag ROOFUS ‘n lang en gelukkige lewe hê… Enige kans vir opvolg berigte oor hierdie oulike kleinding???

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.