Seiljag sink ná dood van vaarder

Die vaarder se liggaam is Saterdag aan boord van sy seiljag gekry (Foto: NSRI)

Die liggaam van die 60-jarige seiljagvaarder wat dood op sy seiljag naby Stilbaai in die Wes-Kaap aangetref is, het Sondag saam met dié vaartuig gesink.

Volgens Craig Lambinon, woordvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI), is die seiljag Sondag op sleeptou geneem om na die Mosselbaai-hawe te neem, maar die vaartuig het sowat 12 seemyl (sowat 22 km) van dié kusdorp gesink.

“Die polisie se duikeenheid oorweeg die moontlikheid om die liggaam uit die seiljag wat gesink het te verwyder,” sê Lambinon.

Volgens Lambinon sou die vaartuig aanvanklik Saterdag na Mosselbaai gesleep word, maar gure weersomstandighede het dit egter nie toegelaat nie. Die polisie en Wes-Kaapse gesondheidsdienste sou dan die liggaam van die seiljagvaarder van die vaartuig verwyder.

Die operasie is Sondag hervat.

Maroela Media het vroeër berig ’n soektog na die seiljag, genaamd Panacea, het verlede Maandag begin nadat bekommerde familielede van die seiljagvaarder niks van hom in drie dae gehoor het nie. Die vaarder was alleen aan boord.

Die seiljag het op Vrydag 12 Augustus uit die hawe van Tafelbaai, Kaapstad, onderweg na Mosselbaai vertrek.

Tydens ʼn uitgebreide soektog het ʼn helikopter Vrydagmiddag (19 Augustus) die seiljag ongeveer 30 seemyl (sowat 56 km) suidsuidwes van Stilbaai gewaar. Die vaarder is dood op die seiljag aangetref.

“Die vaarder se familie is deur die owerhede ingelig oor die jongste verwikkelinge,” aldus Lambinon.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Maria ·

Dit is tragies. Hoop die man en sy skip kan herwin word. Toon ook weereens hoe uitstekend die NSRI te werk gaan

Henning ·

Ek verstaan nie waarom hulle nie eers die ligaam verwyder het van die seiljag af voor hulle hom op sleeptou geneem het nie

Hennie Biebouw ·

Waarom het hul nie die liggaam herwin en aan wal gebring voor die boot op sleeptou geneem was nie?

Swerwer ·

Sò hartseer, meegevoel en simpatie met die oorledende se familie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.