Die nasionale seereddingsinstituut (NSRI) het in ʼn verklaring gesê ʼn Skotse man (61) en Ierse vrou (49), albei Wes-Kaapse inwoners, is in die voorval dood. Nog ʼn Ierse burger, ʼn 66-jarige man, wat ook op die seiljag was ten tyde van die voorval, het ongedeerd daarvan afgekom.
Volgens die NSRI is drie van hul reddingspanne saam met beamptes van die Transnet nasionale haweowerheid, die SAPS, die polisie se duikeenheid en provinsiale nooddienste omstreeks 04:30 na die toneel tussen Bokpunt en Gansekraal ontbied.
“Met hul aankoms het hulle die seiljag, Tara, wat in stukke gebreek was, op die rotse aan die kus gevind. Die oorsaak van die ongeluk is nog nie bekend nie en dit is nie duidelik of die seiljag omgeslaan het voordat dit gestrand het nie,” het die NSRI gesê.
Die oorlewende passasier kon daarin slaag om tot op die strand te kom en het hulp ontbied. Volgens die NSRI was die seiljag vanaf Kaapstad na Langebaan onderweg.
Die liggame van die oorledenes is na die forensiesepatologiedienste geneem. Intussen word die familie deur die onderskeie buitelandse konsulate bygestaan.
Die polisie kon op navraag van Maroela Media nie die voorval bevestig nie, maar die NSRI het gesê ʼn geregtelike doodsondersoek is begin. Die Suid-Afrikaanse Maritieme Veiligheidsowerheid (SAMSA) sal ook die voorval ondersoek.
Tog jammer dat erwere see vaders met al die toerusing nog so iets oorkom.
See is nie ‘n speelmaat nie.