‘Seinblokkeerders die antwoord op selfone in tronke’

Argieffoto

Die Congress of the People (Cope) het Donderdag ʼn beroep op die departement van korrektiewe dienste gedoen om dringend selfoonseinblokkeerders in Suid-Afrikaanse tronke te begin gebruik.

Plaaslike media berig Timothy Omotoso, die Nigeriese televangelis wat tans op seksuele aanklagte in die St. Albans-tronk in Port Elizabeth aangehou word, is toegelaat om sy selfoon te gebruik om vanuit sy enkelsel deur middel van regstreekse video aan sy gemeentelede oor die hele land heen te preek.

Die departement ondersoek tans bewerings dat Omotoso voorkeurbehandeling in die gevangenis ontvang.

Tydens ʼn klopjag by die Johannesburg-Sentraal-gevangenis in Desember het bewaarders talle selfone binne tronkselle gevind, asook ander verbode items soos dwelms en gevaarlike wapens.

Dennis Bloem, nasionale woordvoerder van Cope, sê die party het betroubaar verneem dat selfone in tronke volop is en dat gevangenes vrylik met die buitewêreld kan kommunikeer. Selfoontoegang stel ook misdaadsindikate en dwelmhandelaars in staat om hul sake vanuit hul tronkselle te bedryf.

“Die groot getalle selfone wat in ons gevangenisse gevind word, is net oortjies van die seekoei. Daar bestaan geen twyfel nie dat selfone in absoluut alle gevangenisse gevind sal word,” sê Bloem.

“Ons kan nie verstaan hoekom dit so moeilik is vir die departement van korrektiewe dienste om hierdie [seinblokkerings-] tegnologie te installeer nie. Gevangenes wat toegang tot selfone het, skep die ernstige risiko dat huurmoorde van getuies, slagoffers, gemeenskapslede en selfs wetstoepassers en paroolbeamptes gereël kan word. Dit is noodsaaklik dat alle selfone uit tronkselle verwyder word óf die netwerke geblokkeer word tot voordeel van die samelewing.”

Bloem sê Cope sal ʼn dringende vergadering met Michael Masutha, minister van justisie en korrektiewe dienste, oor die kwessie versoek.

Tydens die 2016-staatsrede deur die president is ʼn seinblokkeringstoestel deur die departement van staatsekuriteit in die parlement geaktiveer, glo “om veiligheidsredes”. Dit het dit vir die media onmoontlik gemaak om vanuit die nasionale vergadering op hul rekenaars en selfone verslag te lewer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

15 Kommentare

zandra ·

‘n heerlike vakansie wat ons belasting betalers betaal, met al die voordele.
(ons werk en jy hou vakansie en maak geld, rook boom, snuif kat spuit heroine)
dis die waarheid tronke het die hoofkantoor geword vir misdaad
maar die regering ondersteun dit en sal nooit dit anders wil hê
kan ons almal nie net op ‘n ander planeet gaan bly

oud lid ·

hoe de Hek kan n bewaarder sy werk doen as hy die gevangene en sy mede lid moet oppas. Lede in beheer is vir mekaar bang asook vir die gevangene. Nee nooit weer wil ek n uniform dra nie. het my ondervinding 20jr gelede gekry. wil nie eers weet wat daar gebeur nie. jaag net my depressie deur die dak

ne ·

Hoekom is hy in die tronk? Gratis kos ens, ens….
Belastingbetalers onderhou hulle. Word soos konings behandel en more op straat doen hy dieselfde.

se net ·

Ek was by n gevangenis betrokke. Nog in die ou bedeling. As n gevangene opgeneem word, word sy gevinenteer. Van kop tot tone, sy moet uittrek en sodoende word seker gemaak hul het niks by hul. Daarna word hul elke dag ten minste eenkeer gevisenteer. En ook in die middel van die nag word verrassings visentering gedoen. As daar sel visentering gedoen is, was alles omgekeer. Ons was opgelei soos bloedhonde om te soek waar hul dinge kan wegsteek. Nou wonder ek net wat het van dit geword???????

LD ·

Verstaan ek reg ou lid? Jy vra hoe kan n bewaarder sy werk doen as hy n gevangene en sy mede lid moet oppas……?

Is dit nie n bewaarde se werk nie?
vra maar net, en as ek verkeerd is, help my asb reg

Katvis ·

Hoekom is dit nie al reeds in werking nie!!! Tronke is misdaad hoofkantore vir misdadigers. Neem al die lekker gadgets en tv weg en laat hul klippe kap, soos wat ‘n tronk veronderstel om te wees. Hoekom is jy in die eerste plek daar binne?

Hennie ·

Selfoon operateurs kan die antennas so posisioneer dat dit geen sein bied naby tronke nie. Maar omdat hulle geldgierig is wil hulle nie!

Basjan ·

As die selfoon seine geblokkeer word, kan die “wettige” selfoongebruikers (personeel ens) ook nie hul selfone gebruik nie.

Realis ·

Die sein blokkeerders is al in verskeie plaasaanvalle gebruik. So die regering het al heelwat aangekoop. Kanaliseer net ‘n paar na die tronke toe…

Elize ·

@LD. Lees reg. Oud lid bedoel die korrupte lede asook gevangene wat opgepas moet word. Ek is ook ‘n oud lid en weet wat bedoel word. Om jou kollegas op te pas en oë soos ‘n valk te hê is nie maklik nie. Daar is te veel lede wat te lekker geld maak met hulle korrupsie en geen trots op hulle werk nie.

A Mac ·

Basjan, dit sal nou nie skade wees as personeel nie hulle selfone kan gebruik nie. Met die gratis wifi sal hulle dalk meer werk en minder op die fone kuier of games speel. Maar heelas, sal daar so ‘n ingrypende stap teen die arme mense se menseregte gedoen word?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.