Seisoenwerkers slaags op Robertson

Seisoenwerkers raak slaags in Robertson. (Foto: Skermgreep van video op Twitter)

Die Wes-Kaapse polisie se eenheid vir openbare orde hou die situasie tussen seisoenwerkers in Robertson dop nadat twee groepe werkers vandeesweek slaags geraak het.

Verskeie werkers is beseer toe ’n groep van Lesotho en ’n groep van Zimbabwe mekaar vroeg Donderdag in die Nkqubela-nedersetting gepak het. Niemand is egter tydens die botsing dood soos daar in sosialemediaplasings beweer word nie.

Die botsing tussen die twee groepe spruit glo uit ’n voorval waartydens die een groep sogenaamd besit van ’n eiendom oorgeneem het, sê brig. Novela Potelwa, polisiewoordvoerder. Die polisie het egter ingegryp en die verdagtes het gevlug.

Volgens Potelwa is sosialemediaberigte dat seisoenwerkers tydens botsings in Robertson dood is en kinders “gekap” is, loutere onsin.

“Die berigte word weerlê as fopnuus wat daarop gemik is om onnodige paniek te veroorsaak.”

Dit blyk egter dat daar wel paniekerigheid onder inwoners heers met sommige wat Donderdagaand voor die plaaslike polisiestasie gaan skuil het uit vrees vir nog aanvalle.

Die polisie ondersoek tans ’n saak van openbare geweld terwyl die polisie, munisipaliteit, departement van arbeid en plaaslike landbougemeenskap ’n bemiddelingsrol tussen die twee groepe probeer speel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.