Sekerheidsbeampte vas vir motorkaping

‘n Silwer pistool is in die man se besit gevind (Foto: Verskaf)

’n Sekerheidsbeampte is Maandag in Katlehong, Gauteng, in hegtenis geneem nadat hy en drie van sy makkers glo ’n motor gekaap het.

Volgens brig. Brenda Muridili, polisiewoordvoerder, was polisielede omstreeks 01:00 besig met patrollies toe hulle na ’n huis in Ramokonopi-Oos ontbied is. Daar het ’n man hulle in kennis gestel dat hy by sy huis in sy Audi A4 gekaap is.

“Volgens die slagoffers het vier mans op hom toegesak. Een van die mans – wat ’n weerkaatsbaadjie aangehad het – het ’n pistool op hom gerig,” sê Muridili.

Die polisie het die man na die polisiestasie geneem om ’n saak van motorkaping aanhangig te maak.

“Onderweg na die polisiestasie het die slagoffer die man geïdentifiseer wat die pistool op hom gerig het. Die polisie het gestop en die man deursoek en ’n silwer pistool in sy besit gevind.”

Die man het erken dat hy vroeër by die kaping betrokke was.

“Die polisie het verder vasgestel dat die pistool gelisensieer en geregistreer is in die verdagte se naam, wat as sekerheidsbeampte werksaam is by ’n maatskappy wat aan die polisie bekend is.”

Die verdagte is in hegtenis geneem en word by die Katlehong-polisiestasie aangehou. Hy sal na verwagting eersdaags in die Palm Ridge-landdroshof verskyn.

Die polisie is steeds op soek na die gekaapte voertuig en drie verdagtes.

Kol. Piet Erasmus, die stasiebevelvoerder van die Katlehong-polisiestasie, het die polisielede geloof vir hul goeie werk om die verdagte so spoedig vas te trek.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

SjN ·

Knap gedaan, wolf in slaap klere, hoop hy bring die die ander uit en word swaar gestraf.

Swerwer ·

Dit is absoluut verregaande. Daar is niemand wat meer vertrou kan word nie. Hoop die knaap
gaan ordentlik gevonnis word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.