Sekerheidswagte vas vir moord by myn

(Argieffoto: pixabay)

Twee sekerheidswagte van ʼn myn het Woensdag in die hof verskyn in verband met ’n moord, kaping en poging tot roof by ’n goudmyn in Noordwes oor Desember.

Kapt. Tlangelani Rikhotso, woordvoerder van die polisie, sê in ’n verklaring die sekerheidswagte, onderskeidelik 31 en 34 jaar oud, is vroeër vandeesweek in Setlagole in hegtenis geneem.

Dít volg nadat ’n groep gewapende rowers na bewering twee ander sekerheidswagte van ’n myn op 20 Desember oorval en gyselaar geneem het. Hierna het hulle die sekerheidswagte se diensmotor gebruik om toegang tot die myn te kry. Die verdagtes het glo nóg ’n sekerheidswag buite die aanleg doodgeskiet om toegang te verkry.

Die verdagtes het daarna ’n vuurwapen op mynwerkers, asook hul twee gyselaars, gerig. Die verdagtes het toe gate in die mure van die myn geboor en springstof gebruik in ’n poging om toegang tot die myn se smelthuis te kry.

Volgens Rikhotso kon die verdagtes egter nie daarin slaag nie en het op die vlug geslaan.

Die Valke is nou op die spoor van ’n persoon wat moontlik inligting rakende die voorval kan verskaf. ’n Beloning is ook uitgeloof vir besonderhede oor die persoon se bewegings.

Inligting kan by ao. Kaketso Ntsimane by 082 337 8725 of die Misdaad Stop-nommer 0860 10111 aangemeld word. Inligting sal as vertroulik hanteer word.

Rikhotso sê die twee sekerheidswagte wat na bewering by die voorval betrokke is, sal na verwagting weer op 14 Januarie in die Atamelang-landdroshof verskyn vir ʼn formele borgtogaansoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.