Sekretarisvoël kritiek ná aanhouding

Die sekretarisvoël wat gered is. (Foto: DBV)

ʼn Sekretarisvoël is Dinsdag in ʼn haglike toestand in Kroonstad in die Vrystaat aangetref nadat hy glo ʼn geruime tyd in ʼn hok sonder water en voldoende kos aangehou is.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), het Vrydag aan Maroela Media gesê dat dié voël erg gedehidreer, ondervoed en 50% onder sy normale gewig gevind is. Hy ly ook aan nierversaking en sy vlerkvere is geknip.

Meyer vertel dat ʼn reddingspoging van stapel gestuur is nadat die DBV in Virginia, Vrystaat, klagtes ontvang het van ʼn sekretarisvoël wat in ʼn hok aangehou word.

Die natuurbewaring-organisasie van die Vrystaat het op die voël beslag gelê waarna hy na die Bloemfonteinse dieretuin geneem is. Die DBV in Bloemfontein het van hom te hore gekom en die voël is Dinsdagaand na die Johannesburg Wildlife-rehabilitasiesentrum vir verdere behandeling geneem.

Meyer het gesê die eienaar van die sekretarisvoël was glo duidelik oningelig oor wat dié bedreigde roofdier behoort te eet. “Sekretarisvoëls is absolute karnivore,” het sy gesê. “Dié voël is ten tyde van sy aanhouding slegs pap gevoer. Daar was ook geen water in sy hok nie.”

Die sekretarisvoël wat gered is. (Foto: DBV)

Sy vertel dat die voël se toestand teen Donderdag nog kritiek was. Hy is op ʼn drip geplaas en ontvang steeds medikasie en antibiotika in die hoop dat hy ten volle sal herstel. Die voël sal ook vir die volgende ses maande rehabilitasie moet ontvang sodat sy vlerkvere kan teruggroei. Hy sal ook weer moet leer om te vlieg.

“Ons het die beste wat jy kan kry wat versorging betref, maar sy kans op oorlewing is op die oomblik 50/50,” het Meyer gesê. Sy erken dat hulle Dinsdag geen hoop gehad het dat hy sal oorleef nie, maar dat sy kanse op oorlewing nou effens beter lyk. “Die sekretarisvoël is so skaars en mooi spesie, ons wil regtig help om hom te red.”

Meyer vertel dat die ideaal sal wees dat dié voëlsoort, wat op die land se rooi lys vir bedreigde spesies is, glad nie in gevangenskap aangehou word nie. Sy verduidelik dat sekretarisvoëls in die oop veld vrylik moet kan rondbeweeg en hul eie kos soos rotte, muise en slange moet kan vang.

Dit was nie onmiddellik duidelik of daar enige strafregtelike stappe teen die persoon wat die voël aangehou het, gedoen gaan word nie. Dit is ook nie duidelik hoe lank die voël deur die persoon aangehou is nie.

Meyer het gevra vir hulp van die publiek aangesien dié voël vir die volgende ses maande heeltyds sorg sal benodig. Sy sê dat sy grootste behoefte op dié stadium kos sal wees sodat hy weer op die been kan kom. Donasies kan deur middel van die DBV se SMS-lyn, webtuiste of Facebook-blad gedoen word.

SMS Bloemspca na 42646 (elke SMS kos R30).

Die hok waarin die sekretarisvoël aangehou is. (Foto: DBV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

27 Kommentare

jongste oudste gewildste
AG asb tog

Ja aai praat maar met my oor opvoeding en education en die arme eienaar het nie geweet nie maar EERSTENS hoekom hou jy ‘n sekretarisvoel aan as jy nie WEET hoe om hom te versorg nie en TWEEDENS is die basiese behoefte WATER , niemand kan sonder water nie, nie eers ‘n plant nie . so hoekom word daar altyd verskoning vir hierdie tipe mense gesoek? Honde aan kettings SONDER WATER .. voels sonder WATER in hokke .. varke sonder kos en water op ‘n plaas, perde sonder water en kos by die WEERMAG .. hoekom is dit ‘n VERSKONING… Lees meer »

Ondersteuner

Daar moet strafregtelik teen die persoon opgetree word!!!

Foxi

Hoe wreed kan die mens tog wees! En dit is net waarvan ons weet. ???

Ondersteuner

Daar moet strafregtelik teen die persoon opgetree word.

Naas Vermaak

Sms gestuur -word gou gesond voeltjie – een van die mooistes wat ons het!