Sekretarisvoël kritiek ná aanhouding

Die sekretarisvoël wat gered is. (Foto: DBV)

ʼn Sekretarisvoël is Dinsdag in ʼn haglike toestand in Kroonstad in die Vrystaat aangetref nadat hy glo ʼn geruime tyd in ʼn hok sonder water en voldoende kos aangehou is.

Reinet Meyer, senior inspekteur by die Bloemfonteinse Dierebeskermingsvereniging (DBV), het Vrydag aan Maroela Media gesê dat dié voël erg gedehidreer, ondervoed en 50% onder sy normale gewig gevind is. Hy ly ook aan nierversaking en sy vlerkvere is geknip.

Meyer vertel dat ʼn reddingspoging van stapel gestuur is nadat die DBV in Virginia, Vrystaat, klagtes ontvang het van ʼn sekretarisvoël wat in ʼn hok aangehou word.

Die natuurbewaring-organisasie van die Vrystaat het op die voël beslag gelê waarna hy na die Bloemfonteinse dieretuin geneem is. Die DBV in Bloemfontein het van hom te hore gekom en die voël is Dinsdagaand na die Johannesburg Wildlife-rehabilitasiesentrum vir verdere behandeling geneem.

Meyer het gesê die eienaar van die sekretarisvoël was glo duidelik oningelig oor wat dié bedreigde roofdier behoort te eet. “Sekretarisvoëls is absolute karnivore,” het sy gesê. “Dié voël is ten tyde van sy aanhouding slegs pap gevoer. Daar was ook geen water in sy hok nie.”

Die sekretarisvoël wat gered is. (Foto: DBV)

Sy vertel dat die voël se toestand teen Donderdag nog kritiek was. Hy is op ʼn drip geplaas en ontvang steeds medikasie en antibiotika in die hoop dat hy ten volle sal herstel. Die voël sal ook vir die volgende ses maande rehabilitasie moet ontvang sodat sy vlerkvere kan teruggroei. Hy sal ook weer moet leer om te vlieg.

“Ons het die beste wat jy kan kry wat versorging betref, maar sy kans op oorlewing is op die oomblik 50/50,” het Meyer gesê. Sy erken dat hulle Dinsdag geen hoop gehad het dat hy sal oorleef nie, maar dat sy kanse op oorlewing nou effens beter lyk. “Die sekretarisvoël is so skaars en mooi spesie, ons wil regtig help om hom te red.”

Meyer vertel dat die ideaal sal wees dat dié voëlsoort, wat op die land se rooi lys vir bedreigde spesies is, glad nie in gevangenskap aangehou word nie. Sy verduidelik dat sekretarisvoëls in die oop veld vrylik moet kan rondbeweeg en hul eie kos soos rotte, muise en slange moet kan vang.

Dit was nie onmiddellik duidelik of daar enige strafregtelike stappe teen die persoon wat die voël aangehou het, gedoen gaan word nie. Dit is ook nie duidelik hoe lank die voël deur die persoon aangehou is nie.

Meyer het gevra vir hulp van die publiek aangesien dié voël vir die volgende ses maande heeltyds sorg sal benodig. Sy sê dat sy grootste behoefte op dié stadium kos sal wees sodat hy weer op die been kan kom. Donasies kan deur middel van die DBV se SMS-lyn, webtuiste of Facebook-blad gedoen word.

SMS Bloemspca na 42646 (elke SMS kos R30).

Die hok waarin die sekretarisvoël aangehou is. (Foto: DBV)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

27 Kommentare

AG asb tog ·

Ja aai praat maar met my oor opvoeding en education en die arme eienaar het nie geweet nie maar EERSTENS hoekom hou jy ‘n sekretarisvoel aan as jy nie WEET hoe om hom te versorg nie en TWEEDENS is die basiese behoefte WATER , niemand kan sonder water nie, nie eers ‘n plant nie . so hoekom word daar altyd verskoning vir hierdie tipe mense gesoek? Honde aan kettings SONDER WATER .. voels sonder WATER in hokke .. varke sonder kos en water op ‘n plaas, perde sonder water en kos by die WEERMAG .. hoekom is dit ‘n VERSKONING ??? Laat ek sommer die wat NIE opgevoed is nie iets vertel GEEN DIER KAN SONDER WATER LEEF NIE, so daar het ons nou een basiese beginsel oorgedra . tweedens ‘n dier KANNIE LANK SONDER KOS KLAAR KOM NIE .. so gee hom ELKE dag kos soos JY elke dag eet .. en as jy nie WEET hoe om n dier te voer nie .. GEE HOM VIR DIE DBV of vir ‘n SHELTER . WORD WAKKER ASSEBLIEF.

Ondersteuner ·

Daar moet strafregtelik teen die persoon opgetree word!!!

Foxi ·

Hoe wreed kan die mens tog wees! En dit is net waarvan ons weet. ???

Ondersteuner ·

Daar moet strafregtelik teen die persoon opgetree word.

Naas Vermaak ·

Sms gestuur -word gou gesond voeltjie – een van die mooistes wat ons het!

Ai ·

As jy na die hok kyk kan jy sommer sien watter tipe mens die eienaar is. Sulke mense moet glad nie diere hê nie. Mak of wild.

Snowball ·

Kan nie iemand wees wat ‘n kenner is van voëls nie, ook nie iemand met ‘n gesonde verstand, of iemand wat lief is vir die natuur nie. So ‘n statige voël en hy word so verinneweer!

Willie ·

Joh dis hartverskerend! Hoe doen mense dit aan weerlose wesens? Mag hulle hard gestraf word!

Dawie ·

Hou ons asb ingelig oor sy vordering ek hoop regtig hy maak dit.

Nadia ·

Die foto van die hok verduidelik ook die omstandighede baie goed. Belaglik!

Ella ·

Vervolg die “eienaar” en gee hom n goeie straf waaruit ander kan leer.
Kyk hoe lyk dit waardie pragtigevoel aangehou is.
Ook sms gestuur en ek sal dit elke dag doen. Hoop hy kan nog gered word van n mens se vermetelheid en arrogansie.
Maroela laat weet asb dan en wan hoe dit met die arme voel gaan.

toy ·

Hoe dom moet jy wees om nie te weet ‘n dier eet en drink water net soos ‘n mens. Dit is wreed.

Hoekom, Hoekom diere so mishandel!! ·

Ek is vandag oortuig daarvan dat die Mens by verre die wreedste wese is.

Nienie ·

Niks in hierdie land word ontsien nie. Nie mens, plant of dier nie. Boos, boos.

Ronel ·

Jy vat die woorde uit my mond, Nienie! En so raak dit al erger!

E.K. die eerste ·

Verskriklik! Mense stuur asb sms na die nommer hierbo sodat almal kan help!!!

Nettie ·

Ruk gelede het ons so ‘n voël “gered” – dit het met ‘n plofslag in ons tuin “geland” nadat dit uit die lug geskiet is – met ‘n kettie nogal!

‘n Paar oproepe later het ons die voël na ons plaaslike veearts geneem, waar dit vasgestel is dat sy ‘n gebreekte bekkenbeen opgedoen met met die val. Sy is op die ou einde na ‘n wilde voël rehabilitasie sentrum in die Kaap geneem, waar sy goed aangesterk het en nou deel van die ‘inwonenende sekretarisvoël-gemeenskap’ vorm.

Lieflike voëls – ek kan nie verstaan dat, as jy nie weet wat so ‘n voël moet vreet nie, jy nie bietjie kan gaan nalees daaroor en dit voer wat dit nodig het nie, of dan die voël eerder maar vrylaat nie. Soos Nadia egter hierbo sê, as jy kyk na die toestand van die hok en die feit dat die voël se vere geknip is sodat dit nie kon wegvlieg nie, sê dit veel van die ‘eienaar’ daarvan.

Ek sê: vervolg hom/haar! Dieremishandeling sluit wreedheid teenoor wilde diere OOK in!!!!!!!!!

Nikita ·

Ai weet jy…maak n mens woedend. Mense wat dink hulle weet van diere en niks weet nie moet eerder sonder diere wees. Hy of sy is darem nou in goeie hande, wat n verligting. Ons hou duimvas die pragtige voel herstel volkome. Wat my ook vies maak sommer oor die algemeen is as mense diere van kleintyd af inneem of aankoop en baie liefies en aandag gee aan die diertjie net aan die begin, maar sodra daai diertjie groot en uitgegroei is word hy of uitgeskop, of hulle wil hom nie meer he nie…of die dier kry minder aandag, liefde en of word verwaarloos. Dit…dit is n skande! Diere word soos n mens se kinders, hulle vra tog nie baie nie. Sulke mense moet liewerste geen dier aanhou nie. MM hou ons asb op hoogde dankie. Baie sterkte aan almal wat betrokke is.

George ·

Sit die “eienaar” ook in ‘n hok en voer hom net pap en sonder water!

PJC ·

Wat is die ou wat dit gedoen het se naam of mag hy nou om een of ander rede nie geïdentifiseer word nie.

humor ·

Die hok bekommer my. Is dit soos ons land oor 25 -30 gaan lyk. Weet julle hoe mooi hierdie statige voel op n uitgestrekte Namibvlakte lyk?Daar is nie water om te drink nie, maar hulle kry genoeg vog in deur die diere, reptiele wat hul vreet.

Willem ·

Ek sien hier bo, onder die kommentare, nie één persoon wat met hulle wil ‘boer’, soos met leeus of renosters nie.

Renier Lubbe ·

Willem, daar is seker nie geld te make uit ‘n boedery met dié voëls nie, anders was daar lankal so ‘n boerdery of twee.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.