Seks-tandarts hoor dán sy lot

Dr. Ian Venter probeer Dinsdag agter ‘n onbekende vrou wegkruip by die George-landdroshof. Toe hy lede van die media sien, het hy sy rug gedraai en die vrou het agter hom gaan staan.
Foto: Eugene Gunning

ʼn Tandarts, vroeër van Pretoria en deesdae in George woonagtig, sal in Oktober gevonnis word.

Dr. Ian Venter is reeds in April skuldig bevind op ’n klag van seksuele aanranding van ’n minderjarige seun. Die saak spruit uit ʼn voorval op die aand van 11 April 2015 toe Venter ʼn 13-jarige seun wat by sy huis in Heroldsbaai oorgeslaap het, seksueel betas het. Daarna is ʼn voorvonnisverslag aangevra.

Streekslanddros Francis Makamandela het Dinsdag die vonnisverrigtinge teen Venter tot 10 en 11 Oktober uitgestel.

Venter dien reeds ʼn vonnis van korrektiewe toesig uit vir ʼn soortgelyke voorval wat in 2011 plaasgevind het. Hy is later daaraan skuldig bevind dat hy seks met ʼn minderjarige seun in ʼn huis in Victoriabaai gehad het.

Die hofverrigtinge is voorheen al uitgestel omdat die verdediging nie gelukkig was met ʼn voorvonnisverslag van ʼn maatskaplike werker nie. Daar was na bewering onakkuraathede in die verslag en ʼn ander verslag is toe aangevra.

Tydens Dinsdag se hofverrigtinge het John Gillespie, Venter se regsverteenwoordiger, aangedui dat die nuwe verslag nie gereed is nie.

Dr. Ian Venter. Foto: Facebook

Die nuwe voorvonnisverslag, opgestel deur ʼn verteenwoordiger van die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Misdaadvoorkoming en die Herintegrasie van Ootreders (Nicro) in Kaapstad, sal eers in Oktober gereed wees. Die persoon wat daarby betrokke is, het ʼn hoë werkslading, is aangevoer.

Makamandela het gesê dit is onaanvaarbaar. Sy het gesê die hof kan nie die saak vir twee en ʼn half maande uitstel nie aangesien dit onregverdig is teenoor die slagoffer, die gemeenskap en Venter.

Makamandela het toe die hof verdaag sodat Gillespie kontak kon maak met Nicro se verteenwoordiger.

Later, met die hervatting, het Gillespie gesê hy het intussen telefonies kontak gehad met Nicro se verteenwoordiger. Die verslag sal teen 24 September gereed wees. Hy het self persoonlike verpligtinge en sal vir tien dae nie beskikbaar wees nie. Die verslag sal reeds in September aan die staat besorg word.

Makamandela het ingestem om die saak uit te stel, maar benadruk die datums 10 en 11 0ktober is finaal. Die saak sal dan voortgaan – met of sonder die verslag.

Venter se borgtog is verleng.

 

 

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Alida ·

Snaaks dat hy nou “skaam” is hy moes skaam gewees het voor die kinders wat hy gemolesteer het.

Tarien ·

Hoekom wegkruip? Pateties, vat jou straf. Een van dit is “name & shame”.

marous ·

Waarom roep die staat nie deskundiges om die onherroeplike skade wat hy ‘n kind aangedoen het te beklemtoon nie? Dis erger as moord!

Andre ·

Venter dien reeds ‘n vonnis uit vir ‘n soortgelyke oortreding, is weer skuldig bevind in April, maar hy is uit op borg? Hoe is die man steeds ‘n tandarts en waarom het die Geneeskundige Raad hom nie reeds geskrap nie? Ek wonder hoe Venter se kinders met hierdie vreeslike skandes wat hul pa veroorsaak moet saamleef.

elisa ·

Die mees skokkendeste vir my is dat daar baie mense (veral in George) en veral vroue is wat hom nog steeds verdedig (op die Internet) en aandui dat hy onskuldig is, dit is n sameswering, suggesties dat die kinders op een of ander manier hom valslik beskuldig (????!!!, vertel dit vir n slagoffer) ens. Baie sê reguit dat hulle hul kinders by hom sal vertrou. Ek bedoel – KOM AAN MENSE – die ou is ‘good looking and charming’ maar regtig, word wakker!

Sowaar? ·

Genugtig ek kan dit amper nie glo nie. Wat op aarde soek hulle by hom? Kan net my kop skud.

Johan ·

Elisa

Ek stem 100% saam met als wat jy gesê het behalwe jou laaste sin.Gaan kyk n bietjie in die George Harold na n onlangse foto van hom.

Die regtelsel is heeltemal verantwoordelik vie die uitstel van die saak en hy kom daarmee weg.

Hoe op aarde kan mense hom nog onderstuun en soos jy sê daar is nog steeds mense wat glo hy is onskuldig.

Het hy ooit aan sy familie gedink voordat hy in so gemors te laat beland het ?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.