‘Seksdade’ met seuns: Pleegouer getuig

Die beskuldigde en sy vrou wag buite die hof vir die verrigtinge om te begin (11 Junie 2018). Foto: Maroela Media

Waarskuwing: Die berig bevat grafiese besonderhede en kan sensitiewe lesers ontstel.

Die verhoor teen ʼn pa van Limpopo wat daarvan beskuldig word dat hy twee van sy vier minderjarige kinders na bewering oor ʼn tydperk verskeie kere verkrag, seksueel aangerand en glo pornografiese video’s van dié voorvalle gemaak het, het Maandagoggend in die Modimolle-streekshof begin.

Die beskuldigde se naam mag nie genoem word nie om die identiteit van sy kinders te beskerm. Die saak is aanvanklik vertraag nadat die beskuldigde se regsverteenwoordiger tyd versoek het om eers met sy kliënt oorleg te pleeg.

Toe die hofverrigtinge hervat is, het die staatsaanklaer, adv. Liezl del Frate, ʼn aansoek ingedien dat die verrigtinge in camera aangehoor word om die identiteit van die slagoffers te beskerm. Die verdediging het nie die aansoek teengestaan nie. Landdros Peter Manthata het daarna die versoek toegestaan en lede van die publiek en die media is gevra om die hof te verlaat.

Een van die slagoffers se pleegpa sal na verwagting vanoggend getuig.

Maroela Media het vroeër berig die beweerde seksuele aanrandings het aan die lig gekom toe een van die man se seuns in pleegsorg geplaas is en in 2015, toe hy ses jaar oud was, vir sy pleegma daarvan vertel het.

Die presiese datums en tydperk waarin die beweerde oortredings plaasgevind het, is nie bekend nie. Volgens ʼn bron na aan die saak het die egpaar in hierdie tyd rondgetrek tussen die Modimolle- en Bela-Bela-omgewing en dit is waar die oortredings plaasgevind het.

Die staat voer aan dat die pa die seun, nou nege jaar oud, en sy broer, nou tien jaar oud, gedwing het om seksdade met hom en mekaar uit te voer. Daar was glo soms ook ʼn tweede onbekende volwasse man betrokke. Die staat voer ook aan dat die beskuldigde van ʼn tweede onbekende man geld ontvang het in ruil vir seksdade met een van die seuns. Die pa word ook daarvan beskuldig dat hy video’s gemaak het tydens die beweerde seksuele aanrandings.

Die staat beweer ook die pa het die kinders opdrag gegee om voor ʼn ander onbekende volwasse man uit te trek en dat hy een van die seuns glo met die vuis geslaan het.

Die pa staan tereg op 14 aanklagte wat twee aanklagte van verkragting, asook seksuele aanranding, sameswering tot ʼn seksuele oortreding, seksuele uitbuiting van ʼn kind, kinderverwaarlosing en aanranding insluit.

Die beskuldigde se vrou, wat ook die ma van die slagoffers is, was Maandagoggend saam met die beskuldigde by die hof om hom te ondersteun. Daar is tot dusver nog geen aanklagte teen haar aanhangig gemaak nie. Dit is nie duidelik of die vrou van die beweerde seksuele oortredings bewus was nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

17 Kommentare

jongste oudste gewildste
Johanna Botha

Dan sit hy ook seker sondag heel ordentlik en vroom nogal voor in die kerk en maak verder grappies om die braaivleis vuurtjie as hulle praat van die buurman se seun wat hare sny ….die mnr is n groot skande vir die mensdom !

kas

Die pa het dit aan sy kinders gedoen en die ma ondersteun hom by die hof.So sy draai haar rug op haar kinders.Glo sy hy is onskuldig of is hy onskuldig.Ek glo dy het nie meer toesig oor die kinders nie.Het sy regtig niks geweet nie.

SNEL

En die ma van die kinders ondersteun hom. Wie ondersteun die kinders. Dis siek.

kas

Uit die mond van die suigeling hoor jy altyd die waarheid.Waar was die ma of was sy bang vir die pa of het sy ook geld gekry en stil gebly.Het die kinders haar nooit betrek by die saak nie of met haar gepraat oor dit wat met hulle gebeur nie.Dit is vir my ondenkbaar om te glo die ma het niks geweet nie byna onmoontlik.Of is die kinders gedreig om haar nie te betrek nie.

Kinders kan nie hulself verdedig nie

Net voor my tweede kind se gebore is, was daar aantuigings gemaak dat my man met my dogter “lol”. Ek het sonder twyfel vir hom gesê, “jy is ‘n groot mens, jy kan jouself verdedig, my dogter is klein, en ek sal haar by staan in hierdie proses”. Op die ou end van die dag was die aantuigings onwaar, en dit het my huwelik gekos, maar ek sal elke dag, oor en oor, my kinders verdedig, al kos dit my huwelik. As kind was ek op 6 verkrag, ek sal vir my kind baklei tot die bitter einde… Hierdie ma… Lees meer »