Seksklagte: Seun getuig teen oudafrigter

hof-hamer

Argieffoto

Die eerste getuie in die saak teen die waterpolo-afrigter van die Parktown Boys’ High School wat skuld beken het op sekere seksuele aanklagte teen hom, is Dinsdag geroep.

Collan Rex (22), wat ook eens op ʼn tyd ʼn leerder by dié skool was, het vroeër die maand in die Palm Ridge-hooggeregshof skuld beken op 144 seksuele aanklagte teen hom.

Staatsaanklaer Arveena Persad het Dinsdag die eerste getuie, ʼn 17-jarige seun, geroep. “Ken jy vir Collan Rex?” het Persda aan die seun gevra. “Hy was my waterpolo-afrigter en koshuisvoog in 2016,” het die seun geantwoord.

Volgens die seun het Rex aan sy privaatdele gevat en seks gesimuleer terwyl hulle klere aangehad het. “Het die beskuldigde enige iets anders aan jou gedoen?” wou Persad weet. “Hy het my gewurg deur met sy arm om my nek my kop vas te druk.”

Die seun het verder getuig Rex het by talle geleenthede die seuns se koshuiskamers binnegekom nadat hulle studeer het en dat hy dan met van die seuns gestoei het. Volgens die seun het dit in 2016, toe hy in gr. 9 was, omtrent 10 keer gebeur.

Daar het glo ook ʼn soortgelyke voorval in die waterpolo-stoorkamer gebeur waar Rex glo so rof met die seun gestoei het dat hy in ʼn stadium nie kon asem kry nie.

Persard het die seun hierna uitgevra oor ʼn video wat geneem is. “Ons was op pad na ʼn waterpoloklub-wedstryd en het in die koshuis se ontspanningsarea gewag toe Rex met ons begin stoei het. Hy het een seun na ʼn ander kamer getrek, maar ek is nie seker wat ná dit gebeur het nie. Hy het ʼn ander seun in die bors geskop en saam met ons gelê en aan ons privaatdele gevat.”

Volgens die seun het Rex ook een keer tydens ʼn toernooi in Durban saam met een van die seuns in ʼn stort geklim.

William Robertse, Rex se regsverteenwoordiger, het die seun uitgevra oor die wurggreep wat Rex glo met die seuns gedoen het. “Het julle net gespeel of het hy rusie met jou gemaak?” Die seun het gesê dit was nie ʼn rusie nie en dat Rex lukraak ʼn seun gekies het om dit mee te doen.

Die seun het getuig hy het in ʼn stadium ʼn hegte band met Rex gehad tot dinge verander het. Robertse wou by die seun weet hoekom hy nie aan Rex gevra het hoekom hy hom wurg nie. “Ek was bang vir hom. Hy het ons laat glo dit was normaal. Ons het hom as een van ons vriende gesien.”

Daar is ook gefokus op ʼn voorval waar Rex die rolprent 50 Shades of Grey gekyk het. Volgens die seun het Rex hom geroep om na die sekstonele in die rolprent te kyk. Volgens die seun is die rolprent pornografie. “Hy het my op my hand gebyt. Hy sou ons ook aan ons testes gryp.”

Robertse het egter aangevoer 50 Shades of Grey is nie pornografie nie, en dat Rex die rolprent gekyk het en die seun hom genader het om te sien wat gebeur.

Regter Johnson wou later by die seun weet hoekom hy so lank gevat het om ʼn verklaring by die polisie af te lê. “Ek ignoreer pynlike voorvalle, maar toe ek die merk gesien het waar hy my gebyt het, het ek onthou. Voor dit het ek daarvan probeer vergeet en my lewe weer aanmekaar probeer sit.”

Die staat het hierna ʼn 18-jarige seun geroep om te getuig. Hy het ook oor die wurggrepe en stoeiery getuig. Hy het voorts getuig van voorvalle waar Rex seks met die seuns gestimuleer het terwyl hulle klere aangehad het en hoe hy aan die seuns se geslagsdele gevat en vir hulle gesê het om te fluit.

Die saak duur Woensdag voort.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Johan ·

Hoekom vat die sex klaers altyd so lank voor hul kla. .maar as die k woord gebruik word weet almal dit die volgende dag.

jakes ·

Daar is siek mense daarbuite. Kan selfs jou buurman of vriend wees wat sulke afskuwelike goed aanvang. Sluit toe en gooi die sleutel weg.

Erika ·

En Dit is n Afrigtig -Hy is n volwassene wat sy posisie misbruik het vir sy eie Selfsug…Dit is Siek Wonder of dieselfde met hom gebeur het.. by dieselfde skool.. .. Geen wonder Kinders word Produkte van siek samelewing nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.