Seksklagtes teen modelbaas: ‘Hy het sy kinders blootgestel’

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Dawie de Villiers in die hof Foto: ANA

Die staat het Dinsdag tydens die verhoor van Dawie de Villiers, die Johannesburgse modelbaas wat tereg staan op verskeie aanklagte, wat verkragting insluit, gesê die hof moet die getuienis van sy kinders aanvaar en hom daarvan aankla dat hy hulle aan pornografie blootgestel het.

Staatsaanklaer Arveena Persad het tydens slotbetoë in die Johannesburgse hoogerregshof, wat in Palm Ridge gesit het, aangevoer De Villiers moes nie sy seun en dogter aan kaal vroue blootstel nie, maar moes hulle eerder beskerm, aangesien hulle in sy sorg was.

Persad het verwys na die getuienis wat vroeër in die verhoor deur De Villiers se kinders gelewer is. Hulle het getuig hulle het kaal modelle by hulle gesien. Persad het van die getuienis wat deur De Villiers se seun gelewer is, aan die hof voorgelees. “Hy het getuig hy het die borste van ʼn kaal meisie gesien. Net haar vagina was bedek maar hy kon haar boude sien”.

Regter Cassim Moosa het gevra of dit as pornografie sou kwalifiseer as die kind byvoorbeeld televisie gekyk het en toe ʼn vrou gesien het met ʼn deurtrekker aan.

Persad het gesê dit is nie dieselfde situasie nie, omdat hierdie ʼn kwessie van blootstelling is en dat hy, as die vaderfiguur, hulle hieraan blootgestel het.

Die staat voer aan die seun het die waarheid vertel en het geen rede het om leuens te vertel nie.

De Villiers se dogter het vroeër in die verhoor getuig sy het na die badkamer gegaan en gesien hoe meisies van klere verwissel. Persad het aangevoer De Villiers het geweet die modelle ruil hul klere, maar steeds sy dogter aan die geslagsdele en borste van die vroue blootgestel.

Regter Moosa het toe gevra of dit dan pornografie is as die meisie saam met haar maats gaan swem en sy hul geslagsdele sien as hulle hul swemklere aantrek? Persad het weereens gesê die situasie is heeltemal anders, omdat die modelle nie haar maats is nie en ook baie ouer as sy is.

Persad het saamgestem die hof sal moet besluit wat as blootstelling van ʼn kind aan pornografie beskou kan word, ingevolge die Wet op Seksuele Misdrywe.

De Villiers staan tereg op talle aanklagtes wat verkragting, seksuele aanranding, seksuele gereedmaking, intimidasie, bedrog en die besit van kinderpornografie insluit. Hy het skuldig ontken op alle aanklagte.

Lees alle vorige berigte oor Dawie de Villiers hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Griki ·

Dit klink vir my of die staatsaanklaer na strooihalms gryp. Wat van die oorspronklike klagte – is daar enige bewyse daarvoor?

Wonder-maar-net ·

Ek weet nie wat die ander klagtes op gegrond is nie, maar as dit waaraan die kinders blootgestel is, moet ek seker ook in die tronk gaan sit. My sesjarige dogtertjie is gereeld by my en/of haar sestienjarige sussie in die kamer terwyl ons aantrek. My vierjarige seuntjie bad nog op die ‘odd occation’ saam met my, en al doen mens jou bes is daar iets wat dan en wan deurglip op tv wat nie vir hulle oe bedoel was nie. Dit klink meer vir my soos ‘n bitter eks wat die saak aanhandig gemaak het?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.