‘Sekspastoor’ en kie hoor dán oor appèl

Timothy Omotoso en sy medebeskuldigdes in die hof. Foto: Raahil Sain /ANA

Die verhoor van die sogenaamde “sekspastoor”, Timothy Omotoso, is Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth uitgestel hangende uitspraak oor twee aansoeke om verlof tot appèl.

Regter Mandela Makaula sal Dinsdag uitspraak lewer oor die aansoek van verlof tot appèl om hom van die saak te onttrek sowel as sy weiering om die aanklagte teen Omotoso se medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, terug te trek.

Die verdediging het reeds aangevoer dat hulle wil hê die saak moet in die appèlhof in Bloemfontein aangehoor word. Indien die aansoeke nie toegestaan word nie, beplan hulle om direk ʼn petisie by die appèlhof in te dien.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, het rakende die terugtrek van die aanklagte gesê ʼn ander hof kan moontlik tot ʼn ander beslissing kom. Hy het gesê die verdediging is daarop geregtig om sy verdediging voor te berei maar dat die klagstaat nie belangrike besonderhede, soos die tyd, datum en plek waar die misdade glo plaasgevind het, bevat nie.

Betogers buite die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Volgens Price is die aanklagte vaag en is die akte van beskuldiging een van die swakstes wat hy nog gesien het. Hy het bygevoeg dit is onmoontlik vir die beskuldigdes om behoorlik te pleit en voor te berei weens die vaagheid van die aanklagtes.

Rakende Makaula se weiering om hom aan die saak te onttrek, het Price herhaal dat Makaula hom moet onttrek weens sy uitlatings aan die staatsgetuie Cheryl Zondi. Makaula het vroeër gesê die aansoek is sonder meriete.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 hoofaanklagte en 34 alternatiewe aanklagte van onder meer mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en sameswering met ʼn ander persoon om ʼn seksuele misdaad te pleeg.

Sulani en Sitho word daarvan beskuldig dat hulle landwyd meisies gewerf het vir doeleindes van seksuele uitbuiting.

Die 58-jarige televangelis het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga in KwaZulu-Natal laat kom waar hy hulle glo seksueel uitgebuit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

alida ·

Hierdie maniak verdien geen voorregte behalwe as om tronk toe gestuur te word vir ‘n BAIE BAIE lang tyd. Sy prokureur weet dit maar as dit pap reen dan skep hy.

legens ·

Onverklaarbaar waarom gelowiges so behep is met die natuurlike funksie …. seks ? Hierdie self aangestelde manne van god wil aan die res van ons voorhou hoe hulle dink hulle god wil he ons moet optree , terwyl hulle self ,elke sodanige opgemaakte reel verbreek . sies man ! sluit hulle almal toe , die kindermolesteerders veral .

alida ·

Gelukkig is daar regters wat van beter weet en wat self jong kinders het. Ek glo nie een van die Appèlregters sal hom laat los kom nie. Hy sal nie sy streke los nie en hoort gedeporteer te word of in die tronk.

lee ·

Die duiwel is los – en dit onder die die naam van “pastoor en kerk”.

Hoe meer dae, hoe meer onheilighede.
Voorspel in my Bybel

Alida ·

Ag MM genoeg van hierdie gemors. Waar is die berig oor die treine wat CR beoog?

Sarel ·

Alida – die berig oor ” Treinfabriek” verskyn wel. As gevolg van die swak SA Regstelsel gaan die man nog vrygespreek word. Wat het van Dauberman geword.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.