‘Sekspastoor’: Hof hoor skokgetuienis van misbruik, manipulasie

Timothy Omotoso. Foto: ANA.

WAARSKUWING: Die besonderhede in die berig is grafies van aard en kan sensitiewe lesers ontstel.

Cheryl Zondi (22) het Woensdag ontstellende besonderhede bekend gemaak van die beweerde seksuele aanranding wat sy moes deurmaak, glo aan die hand van die Nigeriese pastoor Timothy Omotoso.

Omotoso (58) staan tereg op aanklagte van onder meer verkragting en mensehandel in die Port Elizabeth-hooggeregshof.

Zondi het toestemming gegee dat sy geïdentifiseer mag word en het emosioneel aan die hof vertel dat Omotoso sowat ʼn jaar nadat sy by die Jesus Dominion International (JDI)-kerk aangesluit het haar begin misbruik het.

Hy het glo gedreig om haar gesin te laat vermoor as sy iemand sou vertel.

Omotoso en sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, was merkbaar ongemaklik met die videokameras op hulle gerig terwyl Zondi oor die gru-besonderhede getuig het.

Zondi, ʼn aspirantsangeres wat deel was van ʼn jeuggroep, het in 2009 op die ouderdom van 13 teen haar ma se wense by die kerk aangesluit. Sy het gereeld saam met vriende die JDI-tak in Secunda besoek en toe gehoor van ʼn nasionale samekoms wat deur Omotoso in Durban aangebied sou word.

Sy het ʼn plan gemaak om dié saamtrek by te woon en het vertel hoe sy stomgeslaan was deur die musiek.

Toe sy weer terugkeer na Secunda het ʼn plaaslike pastoor vir Zondi gesê Omotoso het gehou van die manier waarop sy sing. Haar kommunikasie met Omotoso het volgens haar begin toe iemand vir haar die pastoor se nommer gegee en haar “opgelei” het oor hoe om met hom te praat.

Omotoso en sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho. Foto: ANA.

“Ek moes hom elke liewe dag bel en tot vyf keer per dag SMS. Hy wou weet van al my bewegings. Hy het dieselfde vrae bly vra, oor my liefdeslewe en hoe ver ek wou hê hy moet met my gaan,” het sy gesê.

Zondi het in trane uitgebars en gesê: “Ek was 14 jaar oud, ek hét nie ʼn liefdeslewe gehad nie, ek het nie ʼn kêrel gehad nie, ek het nog nie ʼn seksuele ervaring gehad nie. Hierdie konstante vrae het my verwar.”

Daar was toe nóg ʼn kerkgeleentheid in Durban en Zondi het gesê sy wou dit bywoon. Sy het aan die hof gesê ʼn paartjie van die JDI- plaaslike kerk het vir haar buskaartjie betaal en toe sy in Durban aankom, het Omotoso gereël vir ʼn taxi om haar na die geleentheid te vervoer.

Ná die diens het Zondi saam met Omotoso en sogenaamde “elite”-vroue na ʼn huis in Umhlanga gereis. Sy is toe in kennis gestel van die reëls van dié huis wat deur tussen 20 en 30 meisies bewoon is. “Daar is vir my gesê ons moet skoon en mooi versorg wees en tot vier keer ʼn dag stort.”

Hulle is volgens haar ook nie toegelaat om te lank te slaap nie.

Hulle is ook net van een maaltyd per dag voorsien en sy het beskryf hoe Omotoso stukkies kos en lekkers na hulle sou gooi terwyl die vroue hom aan sy voete sou prys en hom “onbehoorlik” druk.

Zondi het gesê sy is opdrag gegee om Omotoso te ontmoet in wat sy gedink het was sy kantoor, maar wat sy later vasgestel het eintlik sy slaapkamer is.

Toe sy in die kamer kom, het Omotoso onder die lakens op die bed gelê en sy is opdrag gegee om langs hom te gaan sit. Omotoso het toe glo dieselfde vrae oor haar liefdeslewe gevra. “Hy kon sien ek is verward. My antwoorde het opgeraak, maar hy het net aanhou vra. Hy het gesien ek is deurmekaar en het gesê ek mag gaan.”

Zondi (toe 14) sê Omotoso het opgestaan uit die bed, haar ʼn druk gegee, aan haar bra-bandjie getrek en haar terug op die bed gestoot. Sy was in dié stadium ten volle geklee.

“Ek was in skok, ek het net daar gelê – verlam. Hy het bo-op my kom lê, aan my gevat en met sy hande oor my lyf gevoel. Hy het gelag en die tyd van sy lewe gehad.”

Omotoso se vrou. Foto: ANA.

Dié aand is Zondi na bewering weer na Omotoso se kamer geroep en opdrag gegee om in die bed langs hom te klim. “Ek het in die bed geklim en hy was besig om aan homself te raak. Hy het vir my gesê ek moet vry wees en doen net wat ek wil. Ek was 14, ek het nie verstaan wat hy vir my sê nie.”

Omotoso het haar toe opdrag gegee om haar nagrok uit te trek. “Ek was nou kaal saam met wie ek gedink het ʼn man van God was. Ek was steeds ʼn maagd, so hy was versigtig om nie te ver te gaan nie.”

Die hof het gehoor Omotoso het toe aan die slaap geraak en gesnork terwyl hy half bo-op haar gelê het.

Zondi sê toe hy opstaan, het hy gebid en vir God gevra om hulle te vergewe. Hy het vir haar gesê wat tussen hulle gebeur het, is ʼn verbond. “Hy het vir my gesê ek liewer nie iets sê nie, want ʼn man van God kan nie tronk toe gaan nie.”

Volgens Zondi het die misbruik vir twee en ʼn half jaar aangehou en ook oorgegaan na orale seks toe sy hoërskool toe gegaan het. Sy het toe ʼn bekende figuur in die kerk geword en sou oor naweke na Durban reis op Omotoso se onkoste. In dié tyd was sy deel van sy “Grace Galaxy”-koor en sou dit die rookskerm wees waaronder sy na sy huis sou reis.

Zondi het gesê sy en ander meisies het ver saam met Omotoso gereis, tot in Israel en Nigerië. Die seksuele misbruik het voortgegaan by hotelle en gastehuise. Sy het hom beskryf as ʼn leuenaar, mishandelaar, ʼn jagter en ʼn narsis, hoewel die mense wat die kerk bywoon hom as “God se beste vriend of selfs half-God” beskou het.

Zondi sê Omotoso het vrees ingeboesem by sy volgelinge. As enigiemand gekies het om JDI te verlaat sou hulle sterf of in verdagte omstandighede verdwyn.

Omotoso se vrou, Taiwo, het gelag tydens Zondi se getuienis.

Zondi sê sy het nie die kerk verlaat nie omdat sy gevrees het vir haar en haar ma se lewe. In 2012 het haar familie besluit om na Gauteng te verhuis – dit het Omotoso glo woedend gemaak.

In 2013 het sy verlief geraak op iemand in haar hoërskool en ʼn kerkgeleentheid misgeloop om ʼn skoolgeleentheid by te woon. Sy en ʼn seun het mekaar gesoen by dié skoolgeleentheid.

Die pastoor het daarvan te wete gekom en Zondi is oorval deur oproepe. Haar ma het oor die foon vir ʼn vrou van die kerk gesê dat Zondi nie meer ʼn lid van JDI sal wees nie.

Teen 2014 het Zondi haar matriek voltooi. Sy is gediagnoseer met depressie en het ook haar eie lewe probeer neem.

Cheryl Zondi (22). Foto: ANA.

Zondi het getuig dat sy teen 2015 (toe sy 19 was) besluit het om terug te keer aangesien sy afsluiting nodig gehad het. Sy het dit gemis om in die kerk te sing en is deur ou vriende aangemoedig om terug te kom aangesien dinge volgens hulle verander het.

Sulani het glo ʼn vliegtuigkaartjie van Johannesburg na Port Elizabeth gereël en Omotoso het daarvoor betaal. Sy het gesê by ʼn gastehuis in Port Elizabeth het Sulani en Sitho haar vergesel om Omotoso te sien. Toe sy hom sien, het sy in trane uitgebars.

“Ek het verwag ek gaan die woorde ‘ek is jammer’ hoor, maar in plaas daarvan het hy gesê ‘ek vergewe jou’. Hier was ek op 19 terug in dieselfde situasie en ek het in daardie oomblik geweet niks het verander nie.”

Dieselfde seksuele misbruik het weer begin, maar dié keer het Omotoso gedreig as sy weer die kerk sou verlaat, sou sy sterf.

Zondi was toe vier maande terug in die huis in Umhlanga, maar is glo nie toegelaat om dit te verlaat nie.

Zondi het getuig dat sy gaandeweg ʼn plan beraam het om te ontsnap en dit toe gedoen het.

Die saak is tot Maandag uitgestel vir kruisondervraging.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

linda ·

wat my verstom is hoekom niemand ooit iets gese het
was hulle betaal?
hoe word jy so lank misbruik sonder om iets te doen ????
jys nie ‘n boom nie, jy kan beweeg?
seker dom, maar voor die vroue hoeveel ander het onder sy leuns gelewe
hoop hulle sluit jou ver weg!

Ryan ·

Waar is die anc vroueliga en eff, blf, da-vrouens dan nou? Hier is dan ‘n man wat sy “amp” beweerlik misbruik het om mensehandel te dryf, meisies en vrouens te misbruik/molesteer/verkrag.

Willie ·

Verstommend hoe iemand so met ander lewens kan mors onder die dekmantel van die Bybel… Dis siek verby, en sy trawante is kop en een mis?

Karolis ·

Aan die einde van hierdie verhaal sal jy kan agterkom, alles gaan oor ‘n geldjie.

Marie Visser ·

Skandelik hoe die naam en kerk van ons Drie-Enige God deur die goddelose vir eie gewin misbruik word , arme meisiekind.

Gert ·

Marie Visser, ongelukkig is die Kerk vol van dit, skynheiliges wat elke Sondag vroom in die banke sit om gesien te word, intussen horders geraamtes in die kas…

Alida ·

Nugter weet hoekom hierdie duiwel nog losloop. Handel die saak af en sluit hom toe. Walglik en van die duiwel besete.

Nettie ·

Hoe vind mens uit of ‘n “sterfling” ‘n god of semi-god is?

Jy sny sy ***** af en kyk of hy bloei – en ás hy bloei, los jy hom tot hy “huis toe” gaan.

bren ·

Dis geweldig onstellend. Die meisies het seker klere, geld etc gekry. Ons besef nie hoe erg sommige van die mense se lewens is nie. Ons white privilage. Dis baie hartseer; hoop hierdie vark kry lewenslank vir die misbruik van die meisies. Sy trawante ook.

Ag asb ·

Ek stem met alles saam wat jy sê, behalwe die woorde ‘white privilage’. Ja, sommige mense is bevoorreg (enige kleur) en ander is minder bevoorreg (enige kleur). Daar is nie n ding soos ‘WHITE privilage’ nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.