‘Sekspastoor’: Hof sê vandag oor verdediging se aansoeke

Timothy Omotoso tydens ‘n vorige hofverskyning. Foto: ANA.

Uitspraak word vandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth verwag in dié twee aansoeke wat die verdediging in die verhoor van Timothy Omotoso, die sogenaamde “sekspastoor”, en sy medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, gebring het.

Regter Mandela Makaula sal na verwagting uitspraak lewer oor die aansoek om verlof tot appèl om hom van die saak te onttrek sowel as sy weiering om die aanklagte teen Omotoso, Sulani en Sitho terug te trek.

Die verdediging het reeds aangedui hulle wil hê die saak moet in die appèlhof in Bloemfontein aangehoor word. Indien Dinsdag se verlof nie toegestaan word nie, sal hulle hul tot dié hof wend.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, het rakende die terugtrek van die aanklagte gesê ʼn ander hof kan moontlik tot ʼn ander beslissing kom. Hy het gesê die verdediging is daarop geregtig om sy verdediging voor te berei maar dat die klagstaat nie belangrike besonderhede, soos die tyd, datum en plek waar die misdade glo plaasgevind het, bevat nie.

Volgens Price is die aanklagte vaag en is die akte van beskuldiging een van die swakstes wat hy nog gesien het. Hy het bygevoeg dit is onmoontlik vir die beskuldigdes om behoorlik te pleit en voor te berei weens die vaagheid van die aanklagte. Oor Makaula se weiering om hom van die saak te onttrek, het Price gesê Makaula moes hom onttrek op grond van sy uitsprake teenoor staatsgetuie Cheryl Zondi.

Timothy Omotoso en sy medebeskuldigdes in die hof. Foto: Raahil Sain /ANA

Makaula het vroeër gesê die onttrekkingsaansoek is ongegrond en sonder meriete. Makaula meen ʼn redelike, objektiewe en ingeligte persoon sou nie die feit dat hy vir Zondi sterkte toegewens het met haar eksamens as bevooroordeling ervaar het nie.

Hy meen ook dit is gans te vroeg om ʼn opinie oor Omotoso, Sulani en Sitho te vorm aangesien hulle weergawe van die gebeure nog geensins aan die hof voorgehou is nie.

Price het op sy beurt aangevoer dat Makaula as bevooroordeeld beskou kon word deur die gemiddelde beskuldigde persoon.

Hy meen regverdigheid en onpartydigheid moet objektief gedemonstreer word. “Jy het herhaaldelik vir haar gevra, is jy oukei? Wil jy ʼn breek neem? Die beskuldigdes dink nou ‘hoekom is hy so vriendelik met haar’. Hoekom ‘dra’ jy haar?” het Price gesê.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 hoofaanklagte en 34 alternatiewe aanklagte van onder meer mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en sameswering met ʼn ander persoon om ʼn seksuele misdaad te pleeg.

Sulani en Sitho word daarvan beskuldig dat hulle landwyd meisies gewerf het vir doeleindes van seksuele uitbuiting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wolf ·

Ons het nie sulke mense in ons lamd nodig nie. Deporteer die sogenaamde pastoor dadelik asb.

Wonder Net ·

Daar is 63 hoofklagtes teen hom, maar net een getuie nl. Cheryl Zondi. Waar is die ander vroue dan?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.