‘Sekspastoor’ hoor oor aansoek om aanklagte terug te trek

Timothy Omotoso, Lusanda Solani en Zukiswa Sitho in die hof. Foto: ANA.

Regter Mandela Makuala het Maandag ʼn aansoek in die hooggeregshof in Port Elizabeth dat talle aanklagte teen ʼn Nigeriese pastoor en sy twee medebeskuldigdes teruggetrek word, van die hand gewys.

Timothy Omotoso (58) en sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Solani (36) en Zukiswa Sitho (28), se regsverteenwoordiger het vroeër vandag ʼn aansoek gebring om te versoek dat al die aanklagte teen die drie teruggetrek word.

Omotoso, Solani en Sitho staan tereg op altesaam 63 aanklagte van onder meer mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en sameswering om ʼn ander persoon te help om ʼn seksuele misdaad uit te voer.

Die twee vroue word daarvan aangekla dat hulle Omotoso gehelp het om landwyd jong meisies te werf wat na bewering vir seksuele uitbuiting gebruik is.

Peter Daubermann, die drie se regsverteenwoordiger, het vroeër aangevoer die akte van beskuldiging wat deur die staat voorsien is, is “ernstig foutief” en voldoen nie aan die vereistes van die grondwet nie. “Die beskuldigdes het die reg om van behoorlike besonderhede voorsien te word rakende die aanklagte teen hulle sodat hulle daarop kan antwoord. Die akte van beskuldiging voldoen nie aan hierdie vereiste nie,” het Daubermann gesê.

Hy het aangevoer tye en maande word nie in die akte van beskuldiging gespesifiseer nie en in sommige gevalle word daar ook nie ʼn jaartal genoem vir wanneer die beweerde oortredings begaan is nie. Hy meen die akte van beskuldiging voldoen nie aan die toepaslike wetlike vereistes nie en die saak moet daarom van die rol geskrap word aangesien dit inbreuk maak op sy kliënte se reg tot ʼn regverdige verhoor.

Daubermann het spesifiek na ʼn beweerde verkragting verwys wat volgens die staat glo in Israel plaasgevind het, maar dat geen tyd, datum of plek deur die staat voorsien is nie. Hy het aangevoer die staat maak eenvoudig net staat op inligting wat deur die klaers aan hulle voorsien is.

Rakende die kwessie oor die presiese datums het staatsaanklaer Nceba Ntelwa gesê die oortredings is op verskillende tye gepleeg. Ntelwa het gesê dit word op die klagstaat aangedui hoe die beskuldigdes met elke bewering verbind word.

Die verdediging het nog ʼn aansoek gebring om die hof te versoek om die staat te dwing om meer besonderhede bekend te maak. Daubermann het hier aangevoer die staat het nie die spesifieke wetgewing uitgelig waarop hulle staatmaak om gemeenskaplike doel of sameswering te bewys nie.

“Om te sê daar is genoegsame besonderhede is ongegrond en die staat is verplig om te antwoord. Wat is die waarskynlikheid dat nie een enkele klaer kan bepaal wanneer ʼn beweerde oortreding plaasgevind het nie?” het Daubermann gevra.

Maroela Media het vroeër berig Omotoso is op 20 April verlede jaar in hegtenis geneem op aanklagte van mensehandel. Hy het glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en die Verenigde Koninkryk bestuur, en het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van dié kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle glo seksueel misbruik het.

Die pastoor se aansoeke om borgtog is by twee vorige geleenthede van die hand gewys aangesien hy as ʼn vlugrisiko bestempel is. Sy medebeskuldigdes is in November verlede jaar in hegtenis geneem en is tans op borgtog van R2 000 uit.

Die saak is tot Dinsdagoggend uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Johann cb ·

As die regter so besluit het, is daar merite in die saak! Die beskuldigde is al byna 18 maande in aanhouding. Dankie dat die gereg sy gang gaan!

Alida ·

Laat hom asb sit vir ewig. Klagtes en vieslike sake word te maklik teruggetrek en die mense hou nie op daarmee nie.

Manie ·

Geen teken van anc,eff, en da????. Ongelukkig ook geen busse wat mense aangery hof toe???

Manie ·

Geen anc,eff,da by die hof. Nogal opvallend. So baie slagoffers seker nie belangrik vir die partye

AW ·

Read –
Rule of Law by Glynnis Breytenbach with Nechama Brodie : 2017;
Glynnis explain why it is so important to have a correctly drafted “charge sheet / indictment.”

Manie ·

Dertig meisies wat se lewens moontlik verwoes is lyk my is nie belangrik vir die politieke partye om op te ruk soos met die verskyning van die wit man van dros.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.