
Pastoor Timothy Omotoso in die hooggeregshof in Port Elizabeth (Foto: Raahil Sain/African News Agency/ANA)
ʼn Omstrede televangelis wat van verkragting en mensehandel beskuldig word, het Donderdag in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn vir sy aansoek om borgtog.
Pastoor Timothy Omotoso, oorspronklik van Nigerië, is al sedert sy inhegtenisneming by die Port Elizabeth- internasionale lughawe in April 2017 agter tralies. Hy is saam met twee vroue in hegtenis geneem wat glo meisies en vroue gelok het sodat Omotoso hulle kan uitbuit.
Omotoso het al talle kere tevergeefs aansoek gedoen om borgtog.
Sy regspan maan nou die hof om die saak te heroorweeg. Die hofsaak begin Maandag.
Terry Price, vir Omotoso, sal ook ʼn aansoek bring om te bepaal hoekom daar soveel vertragings was in die saak. Die verdediging maan die hof om getuienis en bewyse, wat deur die twee staatsgetuies gebring is, te verwerp. Die vroue het getuig oor seksuele mishandeling wat hulle oor ʼn lang periode moes deurgaan terwyl hulle lede was van Omotoso se gemeente.
Die voorsittende regter het in die hof gesê die hofsaak, wat aanvanklik vandeesweek sou plaasvind, is uitgestel weens Omotoso se aansoek. “Ek moet hierdie aansoek oorweeg en daarom moes die hoofsaak tot Maandag uitgestel word. Nou sê julle dat die getuie, wat moontlik sou help dat ons die aansoek hierdie week sou kon afhandel, nie hier is nie en dat sy eers Maandag beskikbaar sal wees? Dit beteken ons sal onmoontlik nie die aansoek hierdie week nog kan afhandel nie,” het die regter aan Price gesê.
Price voer aan hy het eers ter elfderure uitgevind sy getuie is nie voor Maandag beskikbaar nie. Hy maan die hof om Dinsdag die hoofsaak te laat begin, omdat dit nie verband hou met die aansoek om borgtog nie. Hy het ook die vinger na die staatsaanklaers gewys en gewaarsku as hulle nie gereed is om Dinsdag met die saak te begin nie, is dit duidelik dat die staat “speletjies speel”.
O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.
12 Kommentare
Laat hulle sit! Nou ewe skielik speel die staat shame ons weet dit hoor. Julle is stadig en agter die tyd
Is hierdie saak nou nog nie afgehandel nie? Ongelooflik.
Hierdie Karakter is nie ‘n Pastoor nie.
As die pastoor skuldig is verdien hy om gestraf te word…..onder die vaandel van pastoor doen hy meer skade as goed
Hy is nie’n pastoor nie-van Nigerië kan jy maar weet die mensehandel.