‘Sekspastoor’: Lidmate wil interdik bekom teen politieke partye

Timothy Omotoso. Foto: ANA.

Drie persone wat aanvoer hulle is lede van die omstrede Jesus Dominion International Church (JDI), onder leiding van verkragtingbeskuldigde pastoor Timothy Omotoso, het ʼn dringende aansoek in die hooggeregshof in Port Elizabeth ingedien om betogers te verhoed om voor hul kerk te vergader.

Die respondente in die saak is die ANC-vroueliga, ANC-jeugliga en Ekonomiese Vryheidsvegters.

Gemoedere was hoog toe ʼn groep betogers van verskeie politieke partye en burgerlike organisasies verlede maand buite die plaaslike tak in Noordeinde betoog en geëis het dat die kerk sy deure sluit.

Die Nelson Mandela-munisipaliteit het in daardie stadium gesê geen kerk in die stad het gesluit nie en ʼn program sal van stapel gestuur word om alle kerkpersele te ondersoek om seker te maak dit word bedryf kragtens munisipale wetgewing.

Die lidmate voer in die hofsaak aan die politieke partye skend hul grondwetlike reg om hul godsdiens te beoefen. Hulle het die hof versoek om politieke partye te verhoed om binne 200 m van die kerk in Govan Mbekirylaan te betoog.

Nthombo Mbaza het in ʼn beëdigde verklaring ontken JDI is ʼn kultus en gesê verkragting en buite-egtelike seks is teenstrydig met die kerk se leer en geloof van die lidmate van JDI.

Mbaza het gesê die politieke partye het bloot besluit om ʼn kerk te sluit “sonder dat Omotoso of die kerk skuldig bevind is aan enige onbehoorlike gedrag”. Sy het gesê die polisie het niks gedoen om “intimidasie” te verhoed nie en lidmate word verhoed om kerk by te woon.

Die ANC-vroueliga voer aan die drie individue is nie lidmate van JDI nie, en ook nie JDI-bestuur nie en hulle besit nie die kerkgebou nie. Die vroueliga het gesê die betogings het ʼn maand gelede plaasgevind en bevraagteken waarom die aansoek “dringend” is, wanneer weke reeds verby is en daar geen stappe gedoen is nie. Volgens hulle het die aansoekers ook versuim om strafregtelike klagtes aanhangig te maak by die polisie.

Nontombi Nama, streekskoördineerder van die ANC-vroueliga, het gesê die organisasie wil nie die kerk sluit nie. Sy voer aan dit was die SAPD en die metropolisie en voer aan hulle moet ook by die saak aansluit.

Die EFF het nog nie reageer op die aansoek nie.

Regter Thembekile Malusi het die saak tot volgende week Dinsdag uitgestel.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 aanklagte en 34 alternatiewe aanklagte wat mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, swendelary en sameswering insluit. Sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, staan tereg op aanklag dat hulle meisies van oor die land heen gewerf het sodat hulle seksueel uitgebuit kon word.

Die 58-jarige televangelis het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, gebring waar hy hulle na bewering seksueel uitgebuit het.

Die saak is intussen opgeskort toe regter Mandela Makaula ʼn aansoek om verlof tot appèl, op sy besluit vroeër dat hy nie van die saak sal onttrek of die saak teen Omotoso en sy twee medeskuldigdes sal terugtrek nie, van die hand gewys het.

Peter Daubermann, vir die beskuldigdes, het aangedui hulle sal hulself nou wend tot die hoogste hof van appèl.

Die saak is voorlopig tot 10 Desember uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

christa ·

tekens van die tyd! Misdade word gedoen onder die naam van die Here! almal is altyd predikers en kerke word gestig waar die misdade gepleeg word.

C ·

Hy is seker die hoof nar in die sirkus met sy valletjies hemp. Sluit hom vir ewig toe en kry klaar. Gooi sommer die sleutel in die see.

jakes ·

Dis verstommend om gedurig te hoor van ‘predikante’ wat die ergste goed denkbaar aanvang onder die vaandel van christenskap. die feit dat lidmate gemollisteer word, gras, rotte , Jeyes fluid en slange gevoer om word om te eet, is weereens n bewys dat n groot gedeelte van die samelewing siek en kranksinnig geword het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.