‘Sekspastoor’: Polisie-hoë ondersteun getuies by verhoor

Timothy Omotoso en sy twee vermeende medepligtiges, Lusanda Solani en Zukiswa Sitho tydens ʼn vorige hofverskyning (Foto: Raahil Sain/ANA)

Bongani Mkongi, adjunkminister van polisie, het Donderdag by die Port Elizabethse hooggeregshof opgedaag ter ondersteuning van die getuies in die verhoor teen die sogenaamde “sekspastoor”, Timothy Omotoso.

Adv. Terry Price, vir die verdediging, is as ʼn senior regsverteenwoordiger by die saak betrek. Price sal na verwagting twee aansoeke bring. Een sal wees vir verlof tot appèl teen regter Mandela Makaula se weiering om hom aan die saak te onttrek en die ander teen Makaula se vroeëre besluit om nie die klagte teen Omotoso en sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, te skrap nie.

Die moontlikheid bestaan dat die saak lank vertraag kan word.

Mkongi het aan die media gesê hy woon die verrigtinge by om jong meisies en die getuies in die saak te verteenwoordig. “As hulle nie beskerm word nie sal geen jong meisie ʼn saak aanhangig maak as hul verkrag en misbruik word nie. Ek glo ons getuies is ons geliefde dogters,” het hy gesê.

Intussen het betogers voortgegaan om te sing en te betoog buite die hofgebou. Die metropolisie moes minstens een gespanne situasie ontlont toe ʼn struweling tussen die twee opponerende groepe, dié wat Omotoso ondersteun en dié wat teen seks- en geslagsgebaseerde misdade betoog, uitgebreek het.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 hoofaanklagte en 34 alternatiewe aanklagte van onder meer mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en sameswering met ʼn ander persoon om ʼn seksuele misdaad te pleeg.

Sulani en Sitho word daarvan beskuldig dat hulle meisies van reg oor die land gewerf het vir doeleindes van seksuele uitbuiting.

Die 58-jarige televangelis het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga in KwaZulu-Natal laat kom waar hy hulle glo seksueel uitgebuit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.