Die Nigeriese pastoor en die twee vroue wat daarvan beskuldig word dat hulle hom glo gehelp het om meisies vir mensehandel en seksuele misbruik te werf se verhoor sal na verwagting Maandag in die hooggeregshof in Port Elizabeth begin.
Die drie word saam deur meer as 60 klagtes, wat rampokkery en verkragting insluit, in die gesig gestaar.
Die pastoor (58) wat op 20 April verlede jaar in hegtenis geneem is op aanklagte van mensehandel, het glo kerke in Port Elizabeth, Kaapstad, Johannesburg en die Verenigde Koninkryk bestuur, en het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van dié kerke na ʼn huis in Umhlanga, KwaZulu-Natal, geneem waar hy hulle glo seksueel misbruik het.
Volgens die staat was die beweerde slagoffers tot so jonk as 13 jaar oud. Hy staan ook tereg op aanklagte van verkragting en vyf aanklagte van bedrog omdat hy glo onwettig in die land is.
Sy medebeskuldigdes, ʼn vrou (36) van Durban en die ander vrou (28) van Port Elizabeth, het reeds skuld ontken op aanklagte wat mensehandel en seksuele misbruik insluit. Die vroue het glo die meisies van reg oor die land gewerf en hul bewegings gemonitor in die huise waar hulle aangehou is.
Al drie beskuldigdes word verteenwoordig deur Peter Daubermann.
Die pastoor se aansoeke om borgtog is by twee vorige geleenthede van die hand gewys aangesien hy as ʼn vlugrisiko bestempel is.
Die vroue is in November verlede jaar in hegtenis geneem en is tans uit op borgtog van R2 000.
WAAR IS DIE HOOG HEILIGE EEF EN ANC VROUELIGA NOU ? DAAR MOET TEN MUNSTE 50 DUISEND VOOR DIE HOF BETOOG HET !