‘Sekspastoor’: Teistering is ongevraagd, sê prokureur

Timothy Omotoso Maandag in Port Elizabeth se hooggeregshof. Foto: ANA

Peter Daubermann, die Nigeriese pastoor Timothy Omotoso se prokureur, was uitgesproke ná hy deur ontstoke betogers buite die hooggeregshof in Port Elizabeth agtervolg en geteister is.

“Dit is onnodig en ongevraagd. Ek weet nie wat anders om te sê nie,” het Daubermann Donderdag aan die African News Agency (ANA) gesê.

Betogers, insluitend die #TotalShutDown-beweging, het Woensdag water na Daubermann gegooi en hom uitgejou. Hulle het gesê hy is ʼn “gemors” omdat hy ʼn “verkragter verdedig”. Hulle het geëis dat hy die saak laat vaar en gedreig dat hulle weet waar hy bly.

Polisiebeamptes het hom na sy motor begelei.

Die betogers het staatsgetuie Cheryl Zondi (22) ondersteun. Dit was haar derde dag onder kruisverhoor. Sy voer aan Omotoso het haar seksueel aangerand toe sy 14 jaar oud was.

Ondersteuners vir Omotoso en betogers wat die slagoffers ondersteun moes deur polisiebeamptes uitmekaar gejaag word toe hulle mekaar aangeval het.

Die betogers het ook ʼn vrou, wat hulle as Zoleka Ncapayi uitgeken het, uitgejou. Hulle beweer sy is ʼn maatskaplike werker en gesê sy “ondersteun ʼn verkragter”.

Daubermann word veroordeel vir sy vraagstelling aan Zondi. Die minister van vroue in die presidensie en die oorsigtelike portefeuljekomitee van haar departement teken beswaar aan teen “gewelddadige en onmenslike” vrae. Volgens hulle is dit “sekondêre viktimisasie”.

Die Kommissie van Geslagsgelykheid het gesê hy sal die prokureursorde nader om “onregverdige behandeling” van verkragtingslagoffers in die hof te bespreek.

Regter Mandela Makaula het tydens die verhoor Daubermann verhoed om met sy “onregverdige vrae” voort te gaan.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 hoof aanklagte en 34 alternatiewe aanklagte, insluitend mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, swendelary en sameswering om ʼn ander persoon by te staan om iemand seksueel aan te rand. Sy medebeskuldigdes Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho word daarvan beskuldig dat hulle vroue van oor die land gewerf het om hulle seksueel uit te buit.

Die 58-jarige televangelis het na bewering meer as 30 vroue en meisies van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga in KwaZulu-Natal geneem waar hy hulle seksueel uitgebuit het.

Die saak duur Maandag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

jakes ·

Ek wonder nog altyd hoe prokureurs of advokate mense kan verdedig wat verskeie klagtes in die gesig staar en dan nog ernstige klagtes ook nog? Gaan alles oor geld deesdae? Die prokureur in hierdie geval moet maar vat wat na hom toe kom want hy moes vooraf kon voorsien het dat die publiek hom nie goedgesind sou wees nie.

MS ·

IEMAND moet hulle seker verdedig sodat daar ‘n hofsaak kan wees en geregtigheid kan geskied. Hoe anders sal die verkragters gevonnis word? Mens kan mos nie net “vermeende” verkragters in die tronk gooi nie. Ongelukkig vir ons, is die hof en polisie korrup en geregtiheid seevier nie altyd nie. Die slagoffers word altyd soos kriminele behandel en dit is juis daarom dat so min slagoffers na vore kom en sake aanhandig maak by die polisie.

Onnodig ·

@Jakes. As jy vandag vals beskuldig word van n misdaad. Se bv verkragting. Sal jy wil he n prokureur of advokaat moet jou help? Ja jy sal. Dieselfde beginsel geld vir almal. Dit word n regverdige verhoor genoem. As dit nie gebeur nie, sal baie onskuldige mense in die tronk beland. Dit is dus onregverdig om n prokureur wat net sy plig doen so aan te val.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.