‘Sekspastoor’-verhoor: Getuie ‘oorweldig’ deur ondersteuning

Cheryl Zondi in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Cheryl Zondi, die vrou wat wyd geloof is vir haar dapperheid nadat sy teen die sogenaamde “sekspastoor”, Timothy Omotoso, getuig het, het Vrydag almal bedank wat haar gedurende haar getuienis ondersteun het.

“Ek is so oorweldig. Ek weet nie waar om te begin nie. Ek kan nie glo hoeveel ondersteuning ek ontvang nie; passievolle, onwrikbare ondersteuning deur mans en vroue, oud en jonk,” het Zondi in ʼn verklaring gesê. “Baie dankie vir jul liefde, onwrikbare ondersteuning en volgehoue gebede.”

Zondi het verder gesê om ʼn vrou in vandag se wêreld te wees, is ʼn uitdaging op sy eie en vroue vind hulself voortdurend in omstandighede waar hulle hul waardigheid moet verdedig. “Watter stryd ek ook al hier voer, dit is dieselfde stryd wat elke ander vrou daarbuite moet voer,” het sy gesê.

Sy het gesê sy is verstom oor die duisende boodskappe, twiets, kommentare en huldeblyke wat ingestroom het sedert sy vir die eerste keer in die getuiebank verskyn het. Sy het by die publiek gepleit om net soveel ondersteuning te toon vir Omotoso se ander vermeende slagoffers wat ook in die saak gaan getuig.

“Ons kan dit nie alleen doen nie en ons het julle nodig. Mag elke hart wat ons ondersteun uitermatig geseën word. Ek bedank julle. Ons bedank julle.”

Zondi het Woensdag vir die derde dag in die hooggeregshof in Port Elizabeth verskyn waar sy deur adv. Peter Daubermann, vir die verdediging, kruisondervra is in die verhoor teen Omotoso wat tereg staan op aanklagte van verkragting en mensehandel.

Die 22-jarige vrou het vroeër getuig hoe Omotoso haar, op die ouderdom van 14, na bewering verkrag en seksueel aangerand het nadat sy in 2009, toe sy 13 jaar oud was, by die Jesus Dominion International (JDI)-kerk aangesluit het.

Die Nigeriese pastoor staan tereg op 63 hoofaanklagte en 34 alternatiewe aanklagte van onder meer mensehandel, verkragting, seksuele aanranding, rampokkery en sameswering met ʼn ander persoon om ʼn seksuele misdaad te pleeg.

Sy twee medebeskuldigdes, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho, word daarvan beskuldig dat hulle meisies van reg oor die land gewerf het vir doeleindes van seksuele uitbuiting.

Die 58-jarige televangelis het na bewering meer as 30 meisies en vroue van verskeie takke van sy kerk na ʼn huis in Umhlanga in KwaZulu-Natal laat kom waar hy hulle glo seksueel uitgebuit het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

willem Botha ·

Ek verstaan glad nie hoekom hierdie nuuswaardig is nie.
Wat het van die Kfc 4 geword?
Wat beteken die verandering aan die voorgestelde vuurwapen wet?
Wat is die nuutste oor die skrapping van die stil.
Wat het geword van floyd shiwambo se aanranding saak op die kaapstadse joernalis?

Keuses ·

Willem Botha. Dit is nuuswaardig…seker maar net vrouens wat sal verstaan. Ons waardeer en bid vir elke slagoffer.

Keuses ·

Dankie Willem. Ek verstaan ook wel waarvandaan jy kom. Niks is meer nuuswaardig waar blankes betrokke is nie…tensy die media jou as ñ skurk, rasis en alles wat sleg is kan uitwys. My frustrasie daarmee skiet ook die hoogtes in. Maar onhou God slaap nie…so moenie dat die wêreldse dinge jou ontneem van simpstie en medelye met ander se swaarkry nie. Hou jou eie siel gesond! Ek probeer maar elke dag…soms swaarder as ander dae…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.