‘Sekspastoor’-verhoor: Regter weier versoek

Timothy Omotoso, Lusanda Sulani en Zukiswa Sitho Maandag in die hof. Foto: Raahil Sain/ANA

Regter Mandela Makaula het ’n aansoek om homself aan die verhoor van pastoor Timothy Omotoso te onttrek, van die hand gewys.

Makaula het dié beslissing Maandag in die Port Elizabethse hoofgeregshof gemaak en aangevoer dat die aansoek sonder enige meriete is. Hy het geen verdere redes verskaf nie.

Die versoek is deur die verdediging se Peter Daubermann gerig omdat hy aanvoer dat Makaula die staatsgetuie, Cheryl Zondi, voortrek.

Die aantyging spruit waarskynlik uit die feit dat Makaula vir Zondi voorspoed met haar eksamen toegewens het en haar terselfdertyd aanbeveel het om van die saak te vergeet en op haar toekoms te konsentreer, dit terwyl sy vir die gereg moet wag om sy gang te gaan.

Makaula het toe vir Zondi gesê dat sy ter wille van geregtigheid moet getuig. Dit het Daubermann genoop om aan te voer dat die hof Zondi se weergawe van die gebeure aanvaar het.

Daubermann het verder beweer dat die hof reeds vir Omotoso en sy medebeskuldige, Lusanda Sulani, skuldig bevind het.

“Regter Makaula het van Zondi ’n kruisvaarder vir geregtigheid gemaak en is bevooroordeeld teenoor my kliënt en die medebeskuldigdes. Hulle soek ’n regverdige verhoor en daarom vra ek die regter om homself aan die hofverrigtinge te onttrek.”

Hoewel Daubermann geweet het dat dit ’n ruk sal neem om ’n geskikte plaasvervanger vir Makaula te vind, was hy van mening dat ’n regter nie partydig moet wees nie.

Hy het bygevoeg dat ʼn onpartydige regter noodsaaklik sou wees vir ’n regverdige verhoor en dat, indien Makaula die versoek van die hand sou wys, ’n ander hof moontlik tot ’n ander bevinding in die saak sou gekom het. Dit sou beteken dat die hele verhoor moes oor begin.

In ’n sterk bewoorde aanval het hy Makuala daarvan beskuldig dat sy menslikheid in die pad staan om met regverdigheid oor die hofverrigtinge te presideer.

“U het haar (Zondi) geloof omdat sy getuig het en haar voorspoed toegewens met haar eksamen; daarmee het ek geen probleem nie. Maar u was buitensporig simpatiek jeens haar en u het uself openlik in haar hoek geskaar. Met respek, dit is nie u werk om ’n getuie te troos nie.”

Zondi het vir Omotoso daarvan beskuldig dat hy haar sedert 14-jarige ouderdom seksueel aangerand en verkrag het.

Daubermann het aangedui dat hy homself tot die appèlhof sal wend om teen Makaula se bevinding beswaar te maak.

Omotoso staan tereg op 63 hoofklagte van onder meer mensehandel, verkragting, seksuele geweldsmisdade en afpersing.

Sy twee medepligtiges, Sulani en Zukiswa Sitho, word daarvan beskuldig dat hulle jong meisies van reg oor die land gewerf het sodat Omotoso hulle seksueel kon misbruik.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Daan ·

Iets wat ek nie verstaan is hoekom die “pastoor” ‘n tolk moet hê. Hy kommunikeer in sy kerk in Engels. Hy kan in die openbaar Engels paar. Maar die reg stelsel word misbruik en belasting betalers se geld gemors.

Nelia van Zyl ·

Siek , siek saak!! Wat maak hierdie man in ons land?? As Nigeriër hoort hy en sy menigvuldige Nigeriese broers nie hier nie. Stuur hulle terug. Het ons nie reeds genoeg probleme nie?

Stan ·

Stem heeltemal saam!!! Dis geen wonder die misdaad in die land is so buite beheer nie, want die verdediging wil die regter vervang, waar in die lewe!!! Stuur daai verskoning van n pastoor eers tronk toe dan terug Nigerië toe!! Ek sè nie almal van hulle nie, maar BAIE van sindikate is daar Nigerièrs betrokke………

Alida ·

Daai Regter gaan nerens heen nie. Mooi so. Hy het klaar besluit om daai bordeel toe te maak en die “pastoor” tronk toe te stuur. 96 klagtes is ingedien genade wat dink Daubermann van homself. Ons is nie morone nie en kan sien wat hy probeer doen. Handel die vuil saak af en sit mnr agter tralies waar hy hoort.

$ ·

Net die feit dat Daubermann die man verdedig sê vir my reeds baie van sy karakter en uitkyk op die lewe in terme van vrouens, verkragting en geld. Sy vermetelheid en die vernederende vrae waarmee hy die slagoffer sonder om te skroom probeer ontsenu en vernietig het, spreek boekdele – al “doen hy net sy werk”. Bly van hom ook eerder maar ver weg …

Sometimes one could win the battle but lose the war – ‘n goeie naam is meer werd as die grootste rykdom.

Katvis ·

Daubermann baklei vir sy eie sak hier. Hy gaan al die pastoor see geld vat.

Sarel ·

Dauberman het blykbaar ook Panayoti verdedig en hoe lank het daai saak gesloer
Man is ongelukkig onskuldig tot skuldig bewys is. Deporteer die man en verba n lewenslank. Goedkoopste

Cornelius du Rand ·

Die advokaat doen net sy werk korrek. Sy werk is om sy klient se weergawe voor die hof te plaas en getuienis teen hom te toets. Dit het niks met hom as persoon te doen nie. Prima facie beskou ek die regter se opmerkings ook as partydig en gaan die beskuldigde nie n regverdige verhoor kry nie. Moet nie opiniea vorm op media berigte nie. Dit is gewoonlik eensydig.

Adam ·

Dankie tog. Ten minste een kommentator wat begrip het vir hoe die regbank behoort te werk. Klink asof die Regter eerder ‘n kliniese sielkundige moes geword het. Ironies genoeg veroordeel mense nie dokters wat moordenaars behandel of werktuigkundiges wat aan kapers se voertuie werk nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.