‘Sekspes’-busbestuurder moet glo vrygelaat word

Argieffoto

Die nasionale vervolgingsgesag (NVG) het Maandag laat hoor hulle is nie gereed om ʼn 44-jarige busbestuurder wat na bewering ʼn 13-jarige meisie seksueel aangerand het, te vervolg nie.

Dít beteken dat die busbestuurder nou vrygelaat moet word weens ʼn gebrek aan bewyse.

Die Gautengse departement van onderwys het Sondag in ʼn verklaring gesê “met die inligting wat die NVG tans het, lyk dit nie of daar ʼn prima facie-saak is nie en daarom is hulle huiwerig om in dié stadium te vervolg”.

Die staat het glo ook die polisie gevra om verder ondersoek in te stel nadat hulle in kennis gestel is daar is dalk vier leerders wat verklarings teen die verdagte sal gee.

Maroela Media het vroeër berig Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, het gesê die busbestuurder is Vrydag in hegtenis geneem nadat hy na bewering ʼn 13-jarige leerder op 13 en 16 Oktober seksueel aangerand het.

Die leerder en ʼn onderwyser het die saak by die polisie aangemeld, wat tot die bestuurder se inhegtenisneming gelei het. Hy sou aanvanklik Maandag in die Lenasia-landdroshof verskyn het.

Panyaza Lesufi, LUR vir onderwys in die provinsie, het vroeër gesê hy het met hartseer van die jongste voorval verneem. “[Die busbestuurder] sal nooit weer in ons skoolomgewing toegelaat word nie. Hierdie aktiwiteite sal nie toegelaat word om in ons omgewing pos te vat nie,” het Lesufi gesê.

Dié voorval is een van talle soortgelyke gevalle van seksuele aanranding wat onlangs aan die lig gekom het. In een geval het ʼn veiligheidswag van die AB Xuma Primary School in Soweto na bewering tot 87 leerders by die skool seksueel misbruik. In nog ʼn voorval is ʼn leerder van ʼn hoërskool in Mamelodi-Oos by die skool se matriekafskeid glo deur ʼn veiligheidswag verkrag.

David Makhura, premier van Gauteng, het intussen ʼn spesiale kabinetskomitee saamgestel om die vlak van seksuele aanrandings in die provinsie se skole te bepaal en stappe te doen om leerders se veiligheid te verseker.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

MY bloed kook ·

‘n 13 jarige dogter het ook die reg op veilige transport!!!!!!

Denise ·

Dit is nou n oop deur vir al die ander siek gedrogte wat onskuldige kinders se lewe verwoes ek hoop hulle gee haar te minste berading !!! Sterkte aan haar en haar familie!!!

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.