‘Seksrabbi’ in hof: ‘Ek het nooit gevlug nie’

Eliezer Berland kom die hof binne. Foto: ANA

Eliezer Berland kom die hof binne. Foto: ANA

Die borgtogaansoek van die internasionale voorvlugtige rabbi, Eliezer Berland, het Vrydag in die Randburg-landdroshof voortgegaan.

Landdros Pravena Raghunandan het Donderdag beveel Berland moet na die Kgosi Mampuru-gevangenis in Pretoria geskuif word, aangesien die Randburg-polisie ʼn operasie vir Donderdagnag beplan het en Berland nie langer daar kon hou nie.

Berland, wat in Israel gesoek word op aanklagte van verskeie seksuele misdade, het vandeesweek sy borgtogaansoek in die hof begin.

Nerisha Naidoo, die staatsaanklaer, het vroeër Berland se borgtogaansoek teengestaan deur ʼn verklaring van ʼn Interpol-beampte aan die hof voor te lees wat aandui waarom Berland nie op borgtog vrygelaat moet word nie. Volgens die verklaring is ʼn versoek vir Berland se inhegtenisneming, sowel as uitleweringsdokumente, reeds ingedien.

Die verklaring het ook voorvalle gelys toe Berland na bewering vroue onsedelik betas het, asook ʼn beweerde aanranding van een van die vroue se man, nadat Berland glo sy volgelinge opdrag gegee het om “sy bene te breek”.

Die Interpol-beampte het gesê ʼn vervalste paspoort is maklik bekombaar in Suid-Afrika en Berland sal maklik die land kan verlaat en na ʼn land vlug wat nie ʼn uitleweringsooreenkoms met Israel het nie. Dit het ook in die hof aan die lig gekom die staat het Berland se diplomatieke paspoort, wat in die Ivoorkus uitgereik is, nagegaan en gevind dit is vervals.

Die verklaring het verder genoem Berland ʼn vlugteling voor die reg en daar is dus ʼn goeie kans dat hy weer sal vlug indien hy vrygelaat word.

Themba Langa, Berland se regsverteenwoordiger, het in reaksie op die staat se verklaring, ʼn verklaring van Berland voorgelees waarin hy beweer hy is al sedert November 2015 in Suid-Afrika en hy is hier om sy Joodse leringe in Afrika en hoofsaaklik onder swart Jode te versprei. Berland ontken ook hy het uit verskeie ander lande gevlug en sê die Israeliese owerhede soek hom bloot om versteekte politieke redes en nie omdat daar werklik aanklagte teen hom is nie.

Langa het ook uit die verklaring gelees Berland het bloot Nederland toe gevlug omdat sy volgelinge hom ingelig het die Israeliese owerhede beplan om hom te ontvoer.

Nadat Raghunandan die saak tot Vrydag uitgestel het, het verskeie van Berland se volgelinge in die hof opgestaan en gevra hulle wil saam met hom gaan om sy medikasie vir hom te gee en sy hare te sny.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.