‘Seksslaaf’-stiefpa weer in die hof

Die stiefpa tydens ‘n vorige hofverskyning (Foto: Reaction Unit South Africa (Rusa))

ʼn 43-jarige man wat op meer as 900 aanklagte van die verkragting van sy stiefdogter tereg staan, het Donderdag weer in die Verulam-gesinshof verskyn.

Die man se aansoek om borgtog is tot Vrydag uitgestel.

Die man, wie se naam weerhou word om die identiteit van sy 10-jarige dogter te beskerm, word daarvan verdink dat hy haar oor ʼn tydperk van vyf jaar meer as 900 keer verkrag het. Hy het haar na bewering as ʼn seksslaaf aangehou sedert sy vyf jaar oud was. Die dogter is nou in ʼn plek van veiligheid.

Omdat die man tereg staan op ʼn skedule 6-oortreding, rus die onus op die man se prokureur om “buitengewone omstandighede” te bewys voor hy op borgtog vrygelaat kan word.

Mondli Mthethwa, vir die man, het aan die hof gesê die man bly onskuldig voor hy skuldig bevind word. Alhoewel sy kliënt vantevore skuldig bevind is op aanklag van aanranding, het hy boetes betaal kragtens die hofbevele.

Die hof het Dinsdag gehoor die klaers in die onverwante aanrandingsake was die man se ouers. Hy het in sy oorspronklike verklaring nagelaat om te verwys na die skuldigbevindings. Hy voer aan hy het nie verstaan wat bedoel word toe hy gevra is om vorige skuldigbevindings te lys nie.

Mthethwa het aan landdros Irfan Khalil gesê sy kliënt het ook nie ʼn onverwante beskermingsbevel verontagsaam nie. ʼn Voormalige meisie het die beskermingsbevel teen hom bekom.

Maroela Media het vroeër berig die man staan ook tereg op aanklagte dat hy sy stiefdogter seksueel voorberei, haar aan pornografie blootgestel het en seksueel aangerand het. Hy het ses maande gelede met die kind van Johannesburg na Verulam, ongeveer 30 km buite Durban, verhuis. Die kind se biologiese ma en pa is albei oorlede.

Mthethwa voer aan die enigste getuie is die dogter en daar is niemand wat haar bewerings kan staaf nie. Volgens hom het die staat ook nie enige bewyse ingedien dat sy wel verkrag is nie.

Hy het die hof ook versoek om foto’s van ʼn wapen op sy kliënt se Facebook-blad te ignoreer. Daar is ook foto’s op die sosialemediaplatform waar hy saam met die kind eet, maar wat die staat nie aan die hof gewys het nie, het Mthethwa bygevoeg. “Die plasings kan nie gebruik word om afleidings te maak oor die beskuldigde se karakter nie,” het hy gesê.

Staatsaanklaer adv. San Bhartu het gesê die aansoeker het in sy vorige verklaring gejok oor die vorige skuldigbevindings; hy het die kind se familie gedreig toe hulle met haar wou kontak maak; hy is ʼn vlugrisiko; het geen vaste bates of familiebande in die gebied nie en ook nie positiewe identifikasie nie. “As hy op borgtog vrygelaat word, sal dit tot openbare wanorde lei. Die veiligheid van die beskuldigde moet in ag geneem word,” het Bhartu bygevoeg.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Niklaas ·

Laat ons hoop dat geregtigheid sal seëvier in hierdie geval.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.