Seksuele en fisieke mishandeling: Gestremde vroue uiters kwesbaar

Vroue met gestremdheid is vier tot tien keer meer kwesbaar om die slagoffer van seksuele en fisieke mishandeling te wees.

Augustus is Vrouemaand en oral in die media word veldtogte van stapel gestuur om groter bewustheid van geweld teen vroue te kweek. Ongelukkig val vroue met gestremdheid dikwels buite al hierdie inisiatiewe, meen prof. Juan Bornman van die Sentrum vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie (AAK) aan die Universiteit van Pretoria, asook president van die Internasionale Vereniging vir Aanvullende en Alternatiewe Kommunikasie.

Ronel* is een van hierdie vroue. “Ek is bang. Wat as hy my weer kry?” tik Ronel op haar selfoon. Ronel is gestremd en kan nie praat nie. Danksy maatskaplike dienste en ná ʼn uitgerekte hofsaak, woon sy nou in ʼn veilige huis vir gestremde mense. Ronel is in dieselfde bootjie as talle ander gestremde vroue: as jong meisie is sy seksueel misbruik en mishandel, juis deur dié mense wat sy eintlik moes vertrou.

Volgens Bornman het ʼn maatskaplike werker die mishandeling en verwaarlosing raakgesien en Ronel na die AAK gebring, waar sy ʼn kommunikasiehulpmiddel gekry het. Spesiale kommunikasiesagteware op ʼn rekenaar het haar in staat gestel om te vertel wat gebeur het, en om uiteindelik geregtigheid te laat geskied.

Die eerste vrugte is reeds sigbaar, meen Bornman. “Die AAK het in samewerking met die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Pretoria en die Suid-Afrikaanse Geregtelike Opleidingsinstituut (SAJEI) begin om werksessies en lesings aan te bied wat regslui bemagtig om mense met ernstige kommunikasiegebreke ʼn regverdige kans op geregtigheid te gee. Die eerste positiewe resultate is verkry tydens ʼn hofsaak in Julie 2020 in Upington, toe die verkragter van ʼn jong spraakgestremde meisie skuldig bevind is nadat sy met haar kommunikasiehulpmiddel in die hof kon getuig.”

Binne die sfeer van gestremdheid is veral vroue met sensoriese, intellektuele en/of fisieke gebreke, wat nie deur middel van spraak kan kommunikeer nie, dubbel kwesbaar, meen Bornman. “ʼn ‘Stil’ slagoffer is immers volgens die aanrander die perfekte slagoffer. Vir die breë samelewing is hierdie vroue onsigbaar en onhoorbaar. Juis hierdie eienskappe word uitgebuit, en sodoende beskou voornemende verkragters hulle as maklike teikens.”

Daar is verskeie redes wat bydra tot hul kwesbaarheid. Hierdie vroue, soos Ronel, word dikwels as weerloos beskou omdat hulle nie terugveg, of om hulp kan roep nie, en daarom nie vir ander van hul ontbering kan vertel nie. Indien hulle wel probeer, word hulle dalk nie verstaan nie óf hul kommunikasiepogings verkeerd geïnterpreteer.

Slagoffers vrees ook die aanvaller se teenreaksie in gevalle waar die aanvaller die vrou se versorger of helper is, of wanneer die versorger die broodwinner is. Hierdie vroue wat op hulp moet staatmaak vir versorging, byvoorbeeld met aantrek, eet, of om die toilet te gebruik, is meer kwesbaar weens die intimiteit van hierdie aktiwiteite.

“Om versorging te vergemaklik word mense met gestremdheid van kleins af reeds geleer om gedwee toe te laat dat volwassenes na hul naakte liggame mag kyk, en daaraan mag vat. Daarom is dit dikwels vir hierdie mense moeilik om hulself te laat geld en nee te sê.”

Prof. Juan Bornman.

Hierdie onvermoë om hulself te beskerm het dikwels tot gevolg dat hulle geïsoleerd van die gemeenskap raak, sê Bornman. “Spesiale skole, beskutte arbeid en versorgingsoorde beperk toegang tot strukture wat hulle vir beskerming kan gebruik.”

Terwyl die graad van mishandeling en seksuele misdrywe teenoor gestremde mense styg, is die persentasie van onthulling en aanmelding minder. Volgens statistieke deur ʼn Suid-Afrikaanse hof word slegs een uit drie van alle verkragtings wat deur die polisie aangemeld word na die hof verwys, en skaars een uit 20 eindig dan in ʼn vonnisoplegging. Hierdie syfer kan egter nog laer wees as die slagoffer nie kan praat nie. Dit kan moontlik wees weens die feit dat polisielede, prokureurs, landdroste, aanklaers, regters en selfs beraders dikwels nie die kennis en vaardighede het om ʼn gestremde mens te help nie.

“ʼn Regering het ʼn plig teenoor al sy burgers om hulle te beskerm, en veral die weerloses wat nie namens hulself kan praat nie. As die regering daadwerklik die stilte rakende die mishandeling van gestremde vroue wil verbreek, sal verskeie strategieë benodig word. Vroue wat nie kan kommunikeer nie, moet gesien en gehoor word deur aan hulle kommunikasiemiddels te voorsien. Dit sluit gebaretaal, kommunikasieborde en elektroniese hulpmiddels in. Slegs dan sal die volle omvang van die euwels bekend word. Hulle moet van jongs af geleer word hoe om op te tree indien hulle die slagoffer van geweld of aanranding was. Ondersteunende hulp moet aan families verleen word, wat die onafwendbare gevolge vrees ná die aanmelding van ʼn misdaad.”

Volgens Bornman moet ʼn vennootskap tussen die polisie, die regbank en ander betrokkenes bevorder word om sodoende sistemiese samewerking te verkry wat die ondersoek sal bevorder en tot die uiteindelike vervolging en skuldigbevinding sal lei.

“Molesteerders en uitbuiters moet daarvan bewus gemaak word dat hulle in hegtenis geneem en gevonnis gaan word. Jan en San Publiek moet geleer word om dieper te kyk en harder te hoor wat die weerlose gestremde vroue wat nie namens hulself kan praat nie, vir ons probeer sê.

“Einstein het nie verniet gewaarsku dat die wêreld ʼn gevaarlike plek is nie – nie vanweë bose mense wat bose dade pleeg nie, maar vanweë mense wat kies om net toeskouers te bly … dié wat kyk en sien, en dan niks daaraan doen nie.”

* Ronel is ʼn skuilnaam.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Jr ·

Dit is goed om die campaigns te hê maar Saterdag sê GBV demo was ge kniehalter deur die einste government se brutale aksie waar 18 mense geaaresteer was. Wie kan iets wat die govt sê ernstig opvat. Of vertrou.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.