Seksuele teistering by die werk: Hoe gemaak?

(Foto: Pixabay)

Dit gebeur dikwels dat nie werknemers óf werkgewers weet wat presies seksuele teistering uitmaak nie en mense is dikwels ook nie toegerus om klagtes oor seksuele teistering in die werkplek te hanteer nie.

Só sê Michael Opperman, hoof uitvoerende beampte by Omni Loubour Consultants. Opperman het die afgelope 10 jaar al talle kere as voorsitter gedien in dissiplinêre verhore oor gevalle van seksuele teistering in die werkplek. Hy het ook al baie kursusse oor dié onderwerp aangebied.

“Mense is baie oningelig oor wat presies seksuele teistering is en wat hulle moet doen as hulle daaroor wil kla. Hulle voel nie bemagtig genoeg om dit te doen nie, omdat die oortreders dikwels in hoë posisies is. Werknemers dink daar is ʼn swakker kans dat mense hulle sal glo as wat hulle ʼn senior persoon sal glo,” het Opperman gesê.

Werkgewers moet daaraan toegewyd wees om ’n omgewing te voorsien waar werknemers aan hul beroep, pligte en aktiwiteite kan voldoen sonder om aan seksuele teistering onderwerp te word. Daar moet ʼn beleid van zero-toleransie wees.

Volgens Opperman is daar verskeie vorme van onwelkome verbale seksuele teistering: kommentaar met ʼn seksuele ondertoon, seksverwante grappies of beledigings, grafiese kommentaar oor iemand se liggaam, ongepaste vrae oor iemand se sekslewe, seksuele innuendo’s of opmerkings van ʼn seksuele aard, seksuele toenadering, seksuele bedreigings, fluit op ʼn seksuele manier en om vir mense eksplisiet seksuele teks of materiaal aan te stuur.

Onwelkome nie-verbale seksuele teistering sluit in gebare, onsedelike blootstelling en die vertoon of aanstuur van seksueel eksplisiete prente of voorwerpe. Seksuele teistering kan ook insluit viktimisering, quid pro quo-teistering, die skepping van ’n vyandige omgewing,  en wanneer iemand geviktimiseer of geïntimideer word omdat hulle nie ingee tot seksuele toenaderinge nie.

“Werknemers moet klagtes van seksuele teistering so gou moontlik onder bestuur se aandag bring. Die werkgewers moet die klagtes op skrif opneem en die klaer adviseer dat daar formele en informele prosedures is wat gevolg kan word.

“Dié prosedure moet verduidelik word en die klaer moet kies watter prosedure gevolg moet word, met die versekering dat daar geen ongunstige nagevolge sal wees vir enige prosedure van die onderneming se kant af nie,” het Opperman gesê.

Die saak moet met vertroulikheid hanteer word en spesiale sorg moet geneem word om die waardighed van beide partye te beskerm. ʼn Ondersoek moet wys of daar wel seksuele teistering plaasgevind het en of daar dissiplinêre stappe moet volg.

Werknemers wat kla oor seksuele teistering moet deur hul werkgewer beskerm word. Dit kan gedoen word deur die beweerde oortreder te skors, die werksverpligtinge te verander of deur die werknemer spesiale verlof te gee voor die ondersoek begin.

“In gevalle waar die werkgewer nie reageer op die klaer nie, moet die werknemer die regsroete volg. Werknemers kan ook die kriminele of siviele roete neem in gevalle van seksuele teistering,” het Opperman gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Petro ·

En as di geval van so aard is dat di werkgewet betrokke is in di seksuele teistering wat staan n werknemer dan tedoen. En soos geskryf staan in di artikel soms is di werknemer te bang om te klae reeds oor di ander persoon n hoer pos beklee.

Corrienne ·

Dat ons vrouens en dogters eers leer normaal aan te trek. Maar hulle lyk dit om aandag te trek en te kry. As iemand wat swak in sy skoene staan dan ietsie se of probeer dan is hy die skuldige. Nee vrouens sedelik aantrek en ordentlik bly. Hoeveel vrouens sien ek wat geval het vir die wêreld se sake opsmuk en haarstyle. Sodom en Gemorra op se ergste.

Fanie ·

Corrienne dit is bog geen man het die reg om dit te doen nie hoekom moet vrouens soos klooster koeke aantrek

Fanie ·

Elke vrou het die reg om been te wys as sy mooi bene het dit gee nog steeds nie vir enige man die reg om haar goedkoop te maak of goedkoop te laat voel nie n goed opgevoede man sal altyd n gentelmin wees maar die vout word altyd by die vrou gesoek

johann ·

By my werk kla die vrouens by HR omdat hulle nie seksueel geteister word nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.