Seksvoorligting: parlement sê nee vir verdere openbare deelname

(Foto: pixabay)

Die DA sê die voorsitter van die portefeuljekomitee oor basiese onderwys het geweier om gehoor te gee aan die party se versoek vir verdere deelname aan die omstrede seksvoorligting-leerplan.

Nomsa Marchesi, die DA se woordvoerder oor basiese onderwys, het gesê Bongiwe Pricilla Mbinqo-Gigaba wil nie enige hersiening daarvan toelaat nie. “Dit kom basies neer op ʼn verbod op openbare deelname aan parlementêre prosesse,” het Marchesi gesê.

Maroela Media het vroeër berig dat die departement se nuwe omvattende kurrikulum vir seksuele onderrig glo behels dat leerders hul geslagsdele in die klas identifiseer, kommentaar lewer op naakfoto’s wat gebruik is in seksklets-boodskappe (sex texting) en leer wat behels vaginale, orale en anale seks.

Die inhoud is ʼn ruk gelede aan lede van die parlement beskikbaar gestel en op die groep FOR SA se webwerf geplaas.

Dit het ʼn herrie laat losbars.

Die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) het ook hewig kapsie gemaak teen die gebrek aan raadpleging en het selfs vir ʼn moontlike boikot gevra.

In ʼn brief wat die DA op 29 Oktober aan die komiteevoorsitter geskryf het, vra hy ʼn dringende vergadering oor die voorgestelde leerplan met betrokkenes “wat groot kommer” daaroor het.

Die party sê Mbinqo-Gigaba se antwoord daarop laat veel te wense oor.

“Die voorsitter het aangedui dat die departement van onderwys reeds ʼn gedetailleerde voorlegging aan die komitee oor die saak gedoen het. Die DA het reeds aan die voorsitter van komitees in die parlement, Cedrick Frolick, oor die kwessie geskryf en hom oor ons standpunt ingelig.

“Die DA is bewus daarvan dat die departement ʼn voorlegging aan die komitee gedoen het, maar die openbare herrie en kommer onder ouers en onderwys vereis dat al die betrokkenes vergader,” het Marchesi gesê.

“Dit is belangrik dat ander betrokkenes en diegene wat bekommerd is, die geleentheid gegun word om hul eie voorleggings aan die komitee te doen.”

Marchesi sê die leerplan vereis duidelik ʼn openhartige gesprek tussen alle betrokkenes en die departement én die parlement moet die geleentheid kry om na hul besware te luister.

“Die DA is van mening dat seksonderrig ʼn versigtige balans moet vind om kinders toe te rus met die kennis wat hulle benodig om die regte keuses te maak, sonder dat hulle daardeur geseksualiseer word.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

50 Kommentare

jongste oudste gewildste
Dominique kotze

OUERS MOET HULLE REG UITOEFEN EN STAAT DWING OM GEHOOR TE GEE!!

Frm

Weier net dat jou kind die klasse bywoon.

My Opinie

Dis belaglik! Dis ons kinders.
Ons moet n sê hê.

Gert van Wierdapark

Wonder of die Gigaba voorsitster verwant is aan die gewees mini-ster van Finan-$ies. Dit wil voorkom of die Groot Sirkus meer narre as enige ander “aantrekkings-kragte” het! ! !

Gert van Wierdapark

Horende doof en siende blind! – dis mos hoe ons skyn-baar regeer word! Eish!