Sekte: Kinders uit ma se sorg verwyder

Argieffoto

Argieffoto

ʼn Hof het twee kinders uit hul ma se sorg verwyder nadat sy glo by ʼn godsdienstige sekte aangesluit het, het die Sunday Times berig.

“[My vrou] is onder die indruk dat sy ʼn boodskapper van God af is,” het die kinders se pa in hofdokumente aangevoer wat by die hooggeregshof in Pretoria ingedien is. Die kinders is 10 en 12 jaar oud.

Die pa het verlede week ʼn dringende aansoek in die hof gebring om die kinders in sy sorg te laat plaas. Hy twyfel in sy vrou se vermoë om vir die kinders te sorg nadat sy glo “mal” en “irrasioneel” geraak het sedert sy by ‘n sekte wat skynbaar “satanies van aard” is, aangesluit het.

Volgens die berig beskuldig die man sy vrou daarvan dat sy die kinders vir “reinigingsrituele” gevat het nadat hy kontak met hulle gehad het. Sy het die kinders glo verbied om Coke te drink aangesien dit ʼn simbool “van die duiwel” is.

Die kinders mag glo ook nie ʼn vuvuzela geblaas het aangesien dit tot gevolg sou hê dat hulle nie vir God kan hoor nie. Volgens die man het die vrou glo probeer om die kinders se Xbox-konsole met “heilige olie” te salf.

Die hof sal na verwagting las dat die ma sielkundige waarneming ondergaan en dat ʼn familie-advokaat die saak ondersoek. Die kinders bly tans by die pa terwyl hul ma besoekregte het. Die egpaar is besig om te skei.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Patat ·

My kinders mag ook nie coke drink nie. Di’s gif!

Dit klink of die ma fanaties geraak het. Arme kinders.

Marelize ·

Die hemele sing want ‘n verlorene is gevind en soek na God in haar doen en late. Nie almal se oë is al deur ons Verlosser oopgemaak om dinge te begryp nie, maar dat sy haar kinders by God se voete gaan neerlê is wonderlik.

Patat ·

Ai Marelize. Regverdig asseblief haar doen en late vir my uit die Skrif.

Marietjie ·

Ek moet nou die ligter kant hiervan sien….”probeer om die kinders se Xbox-konsole met “heilige olie” te salf ……dis baie snaaks. Marelize – het jy gelees dat die sekte “satanies van aard” is??? Hoe bring jy God en Satanisme bymekaar?

Patat ·

Marietjie, ek ken ‘n paar mense wat daardie rituele as Bybels sien. Hulle dink nie dit is satanies nie, maar ek sal baie graag wil hê hulle moet my uit die Bybel wys waar dit staan dat jy dooie goed salf! Dit is belaglik!

Marelize ·

Marietjie – dit wat sy volgens die berig doen is nie satanisties nie. Garismaties maar nie satanisties nie.xx. Mens hoef nie saam te stem met sulke goed wat ander kerke se mense doen nie maar wat belangrik is is dat sy bid en haar na God wend in die tyd en ek dink die pa misbruik dit as iets teen haar heeltemal onnodig. Daar is niks fout met haar nie, sy soek net na God omdat sy seker voel sy kan nie die storm alleen hanteer nie. Om haar kinders hieroor weg te vat is nie reg nie.

Netta ·

Marelize, as na God wend beteken dat mens jou kinders moet traumatiseer, dan bly ek eerder ver van so tipe geloofbeoefening af weg. Gelukkig was daar ‘n objektiewe landdros wat die besluit geneem het om die kinders te verwyder en die ma vir sielkundige evaluasie te verwys. Seker sal hy nou ook in party se oë ‘n satanskind wees :)

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.