Sekuriteitswag in hof ná kollega geskiet is

Argieffoto

Glory Misola Hlungwana (49), ʼn sekuriteitswag by die Shihoko-kliniek in Letsitele buite Tzaneen in Limpopo, het Vrydag vlugtig in die hof verskyn op aanklag van moord.

Hlungwana word daarvan beskuldig dat sy op 6 Augustus, omstreeks 02:45, ʼn kollega verskeie kere geskiet het.

Die twee persone was saam aan diens toe Hlungwana na bewering die man verskeie kere met ʼn dienspistool geskiet het. Sy het daarna van die toneel gevlug.

Mense in die omgewing het die polisie gekontak nadat hulle geweerskote gehoor het. Polisiebeamptes het die slagoffer kritiek beseer op die toneel aangetref. Hy het sy bewussyn verloor en is onmiddellik na die hospitaal vir behandeling geneem waar hy ʼn paar dae later aan sy beserings beswyk het.

Die vrou is by haar kêrel se huis in Shihoko aangekeer en in hegtenis geneem. Sy was steeds in haar uniform. Beamptes het ook beslag gelê op die vuurwapen wat vermoedelik gebruik is.

Kol. Moatshe Ngoepe, woordvoerder van die polisie, het gesê Hlungwana het in die Nkowankowa-landdroshof verskyn waar haar aansoek om borgtog afgekeur is. Die saak is tot 16 September 2020 uitgestel vir verdere ondersoek.

“Die motief vir die voorval is nog nie bekend nie. Die polisie se ondersoek duur voort,” het Ngoepe gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.