Sekuriteitswag tydens sakeroof doodgeskiet

Argieffoto

ʼn Sekuriteitswag is Maandag tydens ʼn sakeroof by Vlakplaas, Tarlton, in Gauteng doodgeskiet.

Volgens konst. Carmen Hendricks, woordvoerder van die polisie, het polisielede omstreeks 09:00 ʼn oproep ontvang oor ʼn sakeroof wat by ʼn drankwinkel en supermark in Tarlton plaasvind.

Een van die eienaars van die onderskeie ondernemings het die polisie in kennis gestel dat 14 gewapende rowers die supermark beroof terwyl agt gewapende rowers op die drankwinkel toegeslaan het. Dié rowers het ʼn winkeltrollie by hulle gehad en daarop aangedring dat die winkel se kluis in die winkeltrollie gelaai moet word terwyl van die rowers by die deur wag gehou het.

Hendricks sê dat een van die werknemers in die drankwinkel daarin kon slaag om die paniekknoppie te druk toe die rowers in ʼn vertrek waar die kluis staan, doenig was.

“Binne oomblikke het hulle geweerskote buite gehoor en die verdagtes het vorentoe [in die winkel] gehardloop. Hulle het sigarette, drank, twee van die werknemers se selfone en kontant gevat,” sê Hendricks.

Veiligheidswagte van ʼn plaaslike sekuriteitsmaatskappy het op dié stadium opgedaag waarna die verdagtes buite die drankwinkel op hulle losgebrand het. Dit is toe dat die sekuriteitswag raakgeskiet is.

Volgens Hendricks het die verdagtes in ʼn blou Audi-sedan en wit Toyota Hilux op die vlug geslaan.

By die polisie se aankoms op die toneel is hulle deur paramedici ingelig dat die sekuriteitswag op die toneel aan sy beserings beswyk het. Die werknemers en kliënte in die onderskeie winkels is nie in die voorval beseer nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

IK ·

TWEE-EN-TWINTIG van hulle! Hierdie is uiters ernstig en is duidelik georganiseerde misdaad. Medelye met die wag se mense, hy was uiteraard ‘n broodwinner.
Wat nou Cyril en Lindiwe?

Marinda ·

Sterkte aan die familie van die sekuriteitswag. Ai, nog ñ sinnelose dood.

Mellissa ·

My hart is in skerwe. Oom los n groot leemte in ons harte. Dankie vir al die mooi memories wat oom agter laat. So onnodig, so onwerklik

Schalk ·

Skokkend paramedici eerste op toneel briljant.Polisie seker weer kinders of familie vervoer met werksvoertuie.W Miskien taxi gery dis mos beveiliging.

fred ·

n groep van 22 bandiete…net n terroriste bende….sterkte aan die familie…waarheen is hier die wettelose,korrupte land op pad…total anargie

willem Botha ·

Die misdaad en polisie ding nou teen mekaar mee,die rowers hoeveel hulle kan roof en moor en die polisie hoe min hulle kan doen sonder om om te val en te begin stink.

jakes ·

Deesdae daag die kriminele in n konvooi by jou perseel op. Hoe meer siele hoe meer vreugde. SA word regeer deur misdadigers, sommige in die parlement en ander buite die parlement. Boonop mag jy selfs n polisieman word al het jy n misdaad rekord. Dis die land van melk en heuning.

Elna ·

Die reaksie offesier wat dood geskiet is is familie van ons en hy was so so so dierbare mens gewees. Hy laat n leemte in ons harte en ons sal sy mooi herrineringe altyd koester in ons harte. Hy sal baie gemis word deur baie van ons. Rus in vrede ou grote tot ons weer ontmoet. Ek hoop dat die rowers gevang sal word en aan die gemeenskap oorhandig sal word. Net die dood straf sal goed genoeg wees en nie tronk straf nie. Sterkte aan die res van die familie en almal wat hom geken het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.