Selektiewe hantering van rassisme baat niemand nie

selektiewe-rassisme-kon-01

Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis en uitvoerende hoof van Impumelelo, Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, RW Johnson, joernalis, politieke wetenskaplike en geskiedkundige en adv. Mark Oppenheimer, ʼn mediaregkenner, was deel van ʼn paneelbespreking wat opnuut die soeklig geplaas op die dubbele standaarde wat gepaard gaan met die hantering van rassisme in Suid-Afrika. Foto: Reint Dykema.

Kenners by die vakbond Solidariteit het tydens ʼn konferensie oor die selektiewe hantering van rassisme in Suid-Afrika aangevoer dat die uitlokking van ander rasse ʼn nasionale sport geword het, maar dit is ongelukkig ʼn soort speletjie waar niemand ooit gaan wen nie.

Rhoda Kadalie, menseregte-aktivis en uitvoerende hoof van Impumelelo, RW Johnson, joernalis, politieke wetenskaplike en geskiedkundige, adv. Mark Oppenheimer, ʼn mediaregkenner en Koos Malan, professor in publiekreg aan die Universiteit van Pretoria, was deel van ʼn paneelbespreking wat Donderdag in Centurion aangebied is. Die konferensie het opnuut die soeklig geplaas op die dubbele standaarde wat gepaard gaan met die hantering van rassisme in Suid-Afrika.

Dr. Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, het gesê dit is belangrik om te kyk hoe daar in Suid-Afrika met rassisme gehandel word in die lig van die skade wat dit aan sekere mense en ook die gemeenskap as geheel kan aanrig. Volgens Hermann is dit mense in gesagsposisies wat die massa beïnvloed en dit wat ʼn mens op sosiale media sien, is die gevolg van die elite wat onverskillig met ras omgaan. “Ons mag nie hierdie wanbalans aanvaar nie, want dit is nie hoe ʼn gesonde gemeenskap funksioneer nie,” het Hermann gesê.

“Swart politici verkoop die mites rondom ras en rassisme om hulleself in magsposisies te hou,” het Kadalie bygevoeg. “Die ANC praat baie oor nasiebou maar het tot dusver min gedoen om dit te bevorder. Inteendeel, die burgemeester van Ekurhuleni, Mzwandile Masina, het onlangs aangevoer dat individue wat in die pad staan van nasiebou en maatskaplike kohesie vergruis sal word. Soos of dít nou ʼn werkbare oplossing sal wees en samesyn enigsins sal bevorder.”

Kadalie het verduidelik sy is moeg vir identiteitpolitiek omdat dit ʼn skeiding tussen mense skep wat eenvoudig nooit oorbrug kan word nie. “Mense word aangeval op karaktereienskappe wat hulle nie kan verander nie, al sou hulle wil. Die gevolg is die debat word net daar gesluit en ons word besig gehou met retoriek terwyl belangrike gebeurtenisse wat eintlik ons aandag verdien, ons verbygaan.”

Oppenheimer het ook gesê hy meen die rassedebat is kunsmagtig geskep en aangevuur vroeg in 2016 om die aandag af te lei van die dramatiese ekonomiese impak van president Jacob Zuma se besluit om die vorige minister van finansies, Nhlanhla Nene in 2015 af te dank.

“Kyk na Zuma se reaksie op Suid-Afrikaners se protes teen sy jongste kabinetskommeling waarin hy vir Pravin Gordhan as minister van finansies afgedank het,” het Oppenheimer bygevoeg. “Zuma het dit as rassisme afgemaak. Dit is uiters belangrik dat ons nie toelaat dat ons aandag afgelei word van die werklike kwessies in ʼn tyd van krisis nie.”

Volgens Johnson is rassisme die “laaste stuiptrekkings van ʼn sterwende donkie”. Hy reken dit baat die regering om die kwessie rondom rassisme en haatspraak juis nou aan te blaas omdat die staat vinnig besig is om uit geld uit te hardloop, die ekonomie nie groei nie en die ANC ʼn verdeelde party is wat se gewildheid besig is om te taan.

“Politici maak ʼn groot geraas oor grondhervorming maar daar is byvoorbeeld geen geld uit die begroting vir so ʼn plan toegewys nie,” verduidelik Johnson. “As die regering ernstig met hulle planne hieroor was, sou hulle geld voorsien het daarvoor. Dit is dieselfde met die geraas oor ʼn staatsbank. Almal weet Barclays wil Absa verkoop maar die staat bied nie aan om die bank oor te neem nie – ek is seker Barclays sou verheug wees as die regering Absa van hulle hande wil afneem.”

Johnson reken die manier waarop die ANC tans optree, is ʼn klassieke voorbeeld van hoe ʼn elite hulself beskerm as hulle bedreig voel.

“Dis ʼn desperate situasie,” reken Malan. “Daar is baie mense wat weet as hulle nie vir Zuma beskerm nie, of net ʼn voetjie verkeerd sit, gaan hulle sonder werk in ʼn sinkhuisie sonder kos sit. Hulle het eenvoudig niks om op terug te val nie.

“Ongelukkig het rassisme ʼn stuk ideologiese en taktiese gereedskap geword waarmee haat en geweld teen wittes geregverdig word. Die ideologie is só allesomvattend dat dit geen ruimte laat vir die erkenning van swart presteerders nie, want hulle is dan deel van ʼn groep wat eintlik altyd arm of benadeel sal wees, terwyl wit arm mense nie gehelp kan word nie want hulle is dan deel van die sogenaamde ryk wit mense,” het Malan bygevoeg.

Volgens hom kan die soort ideologie rondom rassisme ook gebruik word om korrupsie te regverdig omdat dit deel is van die regstelling wat plaasvind omdat daar geglo word wit mense het hulself verryk ten koste van swart mense. “Dit verklaar vir my hoekom daar die soort heldeverering is vir Hlaudi Motsoeneng, Zuma en die Guptas.

“Wat kan ons doen omtrent die rassisme- en haatspraakdebat? Wel, die oorheersende ideologie het ontstaan omdat die regering besig is om te faal. Ek glo ons moet sterk bande tussen wit en swart Suid-Afrikaners bly bou om hierdie indruk van ʼn groot muur van rassisme tussen ons aan te spreek. Gematigde landsburgers moet oor die kleurgrense heen saamwerk teen die ideologie.”

Volgens Oppenheimer is dit ook belangrik om daarop te wys dat die geskiedenis aantoon dat rassistiese uitsprake en haatspraak werklike gevare vir mense inhou en selfs kan lei tot die xenofobiese aanvalle wat die land in 2008 gesien het.

Kadalie het haar toespraak afgesluit deur te sê die media speel ook ʼn wesenlike rol om die rassediskoers aan die lewe te hou. “Fokus op die goeie stories van mense uit verskillende rassegroepe wat hard werk om te keer dat Suid-Afrika faal,” het Kadalie bepleit.

  • Die konferensie is deel van Solidariteit se omvattende veldtog teen alle vorme van rassisme. Die Solidariteit Navorsingsinstituut het op 4 April ʼn verslag bekendgestel waarin ʼn duidelike patroon van dubbele standaarde getoon word wanneer die media en die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rassisme en haatspraak hanteer. Die vakbond beplan om in Mei ʼn massaklag by verskeie nasionale en internasionale instellings in te dien. Dit sluit in die Suid-Afrikaanse parlement, die MRK, die Internasionale Arbeidsorganisasie, die Internasionale Menseregtekommissie en die Verenigde Nasies (VN) se komitee vir die uitwissing van alle rassediskriminasie (CERD).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Johann ·

Bla bla vla bla…en nog n biekie bla. En? So wat nou? Nog tyd en energie aangewend om.die ooglopende aan te spreek…maar die wat blatant rassisties is teenoor vlankes en haatspraak aanhits LAG vir die petalje? Ek sien GEEN verwysing na.die MRK en hulle bydra tot die huidige stand van sake nie?

AL ·

Inderdaad moet ons brue bou met ander rasse. Rassisme word nie so lewend gehou op grondvlak nie – slegs wanneer rasse hulself isoleer aan ander rasse dat daar polirisasie kom.
Elke mens moet met waardigheid en respek behandel word in jou daaglikse handel en wandel, of dit die straatveer of n ryk sakeman is.

Alida ·

Wat help die vergaderings nou. Wie van die ANC of EFF het bygewoon? Die slim mense wat so baie praat moet hierdie feite ter tafel le in die parlement waar die skuldiges dit hoor. Menings lug onder mekaar help NIKS.

martin ·

hoe is dit dat kleurlinge nooit betrokke raak met rassisme is hulle spesiaal?

John ·

Waaroor gaan dit alles? Mense verskil, self huisgenote en die borde vlieg rond, rasse verskil en daar is verskillende ideologiee en onderskeie godsdienste, selfs boustyle en musiek… Sendingwerk is nou taboe, individualisme is ‘n onding… so viva die New Age en sy ‘boring sameness’. Druk dit in mense kele af en jy kry reaksie. Hierdie kamma-heilige kongresse rondom ‘n tog so heilig iets wat nie bestaan nie maar dit wil bewys is soos die huidige aardverwarmingskongresse met die baie lekker perks… maar moet tog net nie van die massa verskil nie, of… Uiteindelik gaan die bloed vloei van al die saamstem, saamstaan, saamloop en betoog, glimlaggies en drukkies en onderdrukte diepe frustrasie…

Gjorgi ·

Ja nee, julle is darem almal sonstrale vandag. As julle so negatief wil wees teenoor ‘n positiewe stap van solidariteit vat dan maar julle goedjies en trek.

Blits ·

ek verstaan mense nie, probeer iemand iets doen oor die selektiewe rassisme dan is jul negatief en moun, doen niemand niks dan is dit ook verkeerd, begin dink en besluit wat julle soek, ondersteun eerder die wat opstaan vir ons regte en die diskriminasie teen wit mense, e is self afrikaans spreukend maar as ek sokyk is ons witmense ook maar lekker die klits kwooit, weet nie wat ons wil he nie

Alida ·

Blits, ons is nie negatief nie. Steun al die inisiatiewe maar my vraag is bereik dit die regte mense wat skuldig is daaraan. As sulke berade gehou word moet dit mos in die teenwoordigheid van die mense wat skuldig is daaraan geskied. Verstaan julle nie wat ek probeer tuisbring nie.

John ·

Ons kerm nie, diagnoseer asb die siekte. Hoofpyn het ‘n oorsaak en ‘n gevolg as dit aanhou. Om vir ‘n sieke wat naar is te se, ag sies man, help nie… staan eerder weg, skakel die besige dokter en kry medikasie… Sommige siektes lei tot die dood en toordokter-muti help die dood aan. Kyk bv na Holland se Frankryk: Viva vryheid, gelykheid, broederskap, maar kort-kort boem-boem broederlike bomme. Niks sal ons onderkry nie.. boem-boem… blomme en kerse… boem-boem-boem…

Joe ·

Ek lees die berig en is bly dat iemand (solidariteit) darem iets probeer doen om die huidige probleem aan te spreek. Dan lees ek van die comments en dis net heeltyd negatief. Wat wil julle nou entlik he. Julle praat dat die spoeg spat daaroor om die braai vleis maar waneer daar sulke konferensies gehou word dan wil julle net bla bla bla. As jy nie iets positief kan bydra nie moet eerder nie jou comment los nie. Great werk solidariteit. Ons sou beslis slegter af gewees het sonder julle.

Afrikaanse Knaap ·

Ek hoor nooit van ‘n oorheerdend swart instansie wat homself uitspreek teen rassisme teen wit mense nie.
Hulle spreek hulleself nie daaroor uit nie, want hulle hulle glo vas dis geregverdig.
Mag die ANC soos biljoene in die SA ekonomie oor die volgende paar jaar verdwyn.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.