Selfdood: Bekende evangelis deel sy stryd

Pickard Henn (Foto: Facebook)

’n Liefdesteleurstelling in 2015 het hom gedryf tot ’n punt waar daar geen ander uitweg as selfdood was nie.

’n Maand lank het hy geloop met gedagtes van selfdood tot een Saterdag dat hy besluit het, “vandag is die dag”.

Pickard Henn (27), ’n bekende evangelis, gesels openlik in ’n video op sosiale media oor sy stryd met depressie en gedagtes van selfdood.

Henn onthou dit soos gister. “Hierdie liefdesteleurstelling het my op so ’n plek gebring dat ek regtig nie meer wou lewe nie.” Hy vertel dat dit gevoel het asof hy alles verloor het waarvoor hy lief was en dat niks die leemte van die mislukte verhouding sou vul nie.

Hy het talle idees oorweeg oor hoe hy sy lewe sou beëindig. Ná drie mislukte pogings op dié spesifieke Saterdag in Maart daardie jaar het hy in ’n worsteling met God getree waarna hy besef het dat hy God nie werklik geken het nie en dat slegs ’n verhouding met Hom die leemte eindelik sou vul.

Met die oog op Wêreldselfdoodvoorkomingsdag Maandag vorm dié onthulling deel van ’n nuwe webreeks vir jongmense, genaamd niePlastiek, ’n platform wat jongmense aanmoedig om onbeskaamd te gesels.

Ander bekendes soos Simoné Nortmann, Karlien van Jaarsveld, Heinz Winckler asook niebekendes inspireer in hul eie video’s op die platform se Instagramrekening. niePlastiek verduidelik op sy Instagramblad dat dié onthullings “oor die goed waarop mense antwoorde soek” praat.

Volgens Líomee Vosloo, projekbestuurder van niePlastiek, “gaan jongmense gebuk onder moeilike kwessies waaroor hulle nie reguit antwoorde in die samelewing ontvang nie. Boonop plaas sosiale media ongesonde druk op hulle om ’n sekere beeld voor te hou”.

Die ontstellende werklikheid is egter dat jongmense eerder op hul foon om hulp sal soek as om by ’n kenner aan te klop. Daarom glo Vosloo dat jongmense op relevante maniere met die regte inligting bereik moet word en so het die idee ontstaan om jongmense aanlyn met die regte inhoud te bereik.

Vosloo verduidelik verder dat niePlastiek “’n veilige kuberkuierplek is waar jongmense private boodskappe kan stuur om moontlik hulp en raad vir hulle vrae te ontvang”.

“Daar is ook een keer per week ’n regstreekse uitsending waar kykers direkte vrae aan die gaste kan stel en interaktief aan gesprekke kan deelneem.”

Besoek gerus niePlastiek se Instagramrekening vir nog boodskappe van bekendes.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

WitBlits ·

Fantastiese inisiatief en mag dit van krag tot krag, want daar is soveel gebrokenheid rondom ons van mense wat desperaat na sin in die lewe soek!

Nel ·

Hy is al persoon… op mense en prinse kan jy immers nie jou hoop en vertroue plaas nie.

Genieve ·

dankie Here dat hy weer geleentheid by u gekry het ja dis waar net Jesus kan n leemte vervul.

Pickard Henn ·

Dankie Maroela Media vir hierdie artikel. Die grootste leeun is dat “die wêreld ‘n beter plek is waneer jy weg is” maar die waarheid is dat die wêreld ‘n beter plek is waneer jy afsterf vir die opinies van mense en lewendig raak vir Jesus! Dan eers verander dinge om jou. Hoe meer ons na Jesus kyk, hoe minder tyd het ons om rond te kyk na wat verkeerd is. Hy het reeds alles reg gemaak.

Liefdevolle dag.

Mariska Meyer ·

Pickhard, jou getuienis is bewonderingswaardig. Ek glo so baie mense gaan weer moed skep deur om jou storie te lees of te hoor
Mag Abba Vader jou salf en seën en gebruik tot Sy eer.
Groete

Hartseer ·

Pickard Henn wens ek kon jou getuienis vir my seun wys, ongellukkig 2 jaar te laat en al wat oor gebly het is die waaroms en die if only en self verwyd

Yvonne ·

So bly vir jou Pickard….. my Seun 8 jaar en 6 maande gelede ook verloor deur selfmoord…. as ons maar geweet het waaroor!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.