Selfdood in parlement: Veiligheidsmaatreëls nie gevolg

Die gebou van die Nasionale Vergadering op die perseel van die parlement in Kaapstad. Foto: www.parliament.gov.za

Die senior personeellid van die parlement wat homself 12 dae gelede in sy kantoor in die parlementêre kompleks doodgeskiet het, het geweier om hom te onderwerp aan die veiligheidsmaatreëls van die instelling.

‘n Gesamentlike sitting van die parlement se portefeuljekomitees oor polisie en openbare werke het vanoggend gehoor dat die oorledene, Lennox Garane, op die oggend van sy dood geweier het om sy sak deur die skandeermasjien te sit, soos die protokol vereis.

Dit wil dus voorkom of hy die vuurwapen so ingesmokkel het. Die polisielid wat by die betrokke skandeermasjien aan diens was, is nou dissiplinêre optrede te wagte omdat hy nie die reëls toegepas het nie.

Parlementslede het vanoggend van polisielede en amptenare van die departement van openbare werke verneem dat dit gereeld gebeur dat sommige LP’s en senior personeel weier om aan die deursoekingsmaatreëls van die parlement te voldoen – iets wat nou nie eintlik verrassend is vir enigeen wat daagliks in die parlementêre omgewing werk nie.

Verdere terugvoer is dat nie alle skandeertoerusting by die parlement werk nie en nie alle toegangspunte met die vereiste toerusting toegerus is nie.

Terwyl sommige lede in die portefeuljekomitee die geleentheid gebruik het om breedsprakig aan te dring op strenger maatreëls, was van die meer senior politici meer deurdag.

Sowel die minister van polisie, genl. Bheki Cele, as die leier van die VF Plus, dr. Pieter Groenewald en die twee senior DA-LP’s, Zak Mbhele en Dianne Kohler Barnard, het gevra dat daar nie oorreageer word met die instel van oordrewe tydrowende nuwe maatreëls nie omdat dit ontsettende verkeersknope in Kaapstad-Sentraal en toeganklikheidskwessies vir die groot getalle mense wat daagliks by die parlement moet aanmeld, kan skep.

Die polisie moet net hul werk doen en die departement van openbare werke moet sorg dat die toerusting werk, was die oorwoë mening.

Polisiehoofde en departementele amptenare was dit nogtans eens dat die toepassing van sekuriteitsreëls by die parlement van volgende week af opgeskerp sal word en beter opleiding sal plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

shame ·

Voel die mense bietjie bang in die parlement? Shame nou weet julle hoe voel ons elke dag. Die ou het homself geskiet en nou worry julle oor julle veilighied. Niemand deursoek niemand by my werk en elke dag sit ek soos ‘n “sitting duck” in die verkeer werk toe. was al beroof by ‘n robot.

Ai tog ·

Nou moet die arme veiligheidswag kernuffel word vir ‘n ou wat arrogant was. Soooo verkeerd

So Jammer ·

So baie hartseer vir Lennox Garane en sy familie, niks word genoem in Parlement oor die “selfmoord” en wat het hom daarna toe gelei. Dit het sy lewe gekos. Niemand praat oor die oorsaak nie, niemand noem wat hulle gaan doen aan die ANC MP sy Bestuurder wat hom ge-bully het nie, Niemand noem waarom Mbete niks gehelp het met sy situasie nie, dit gaan skilelik oor “security”. Waar is die compassion vir Lennox?
Mag jy Rus in Vrede Mnr Garane. Ons bid dat iemand erens sal bohaai maak, oor die redes waarom jy jou lewe geneem het.
Mag Die Here by jou familie wees, wat jou elke dag, baie gaan mis.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.