Selfoon-opsporing van Covid-19: Afgetrede regter aangestel

Oudregter Kate O’Regan. Foto: Oxford

Afgetrede regter Kate O’Regan is aangestel om die regering se gebruik van tegnologie in Covid-19-opsporing te monitor.

O’Regan is deur Ronald Lamola, minister van justisie en korrektiewe dienste, aangestel om die regering te monitor in die gebruik van tegnologie om mense op te spoor wat in kontak was met enige persoon wat Covid-19 het of vermoedelik het.

Volgens Lamola sal O’Regan ʼn belangrike rol speel om die privaatheid en persoonlike inligting van mense te beskerm tydens dié proses.

ʼn Nuwe regulasie maak daarvoor voorsiening dat die regering mense se ligging en bewegings kan nagaan deur selfoontegnologie in te span en dat mense se persoonlike inligting op ʼn nasionale register aangeteken kan word.

Die regulasie bepaal dat die direkteur-generaal van gesondheid ’n elektroniese kommunikasie-diensverskaffer mag gelas om inligting te verskaf rakende die ligging of bewegings van enige persoon wat Covid-19 opgedoen of moontlik opgedoen het, sowel as enige persoon wat moontlik met só ʼn persoon in aanraking gekom het.

Die direkteur-generaal van gesondheid moet weekliks ʼn verslag by O’Regan indien waarin die name en besonderhede vervat word van al die persone wie se liggings en bewegings bekom is.

O’Regan is by magte om voorstelle te maak aan ministers rakende die wysiging of afdwing van hierdie regulasie ten einde die reg op privaatheid te beskerm, terwyl die departement van gesondheid se vermoë om dringend en doeltreffend kontakopsporing te doen steeds verseker word.

O’Regan is ʼn voormalige regter van die Konstitusionele Hof en het van 1994 tot 2009 gedien. Sy het in 2008 as adjunkhoofregter waargeneem tydens regter Dikgang Moseneke se afwesigheid en het sedert 2010 as ʼn ad hoc-regter gedien vir die hoogste hof in Namibië.

O’Regan het ook op die Verenigde Nasies se interne regsraad gedien, was president van die Internasionale Monetêre Fonds se administratiewe tribunaal en ʼn lid van die Wêreldbank se sanksiesraad.

Sy is ook ʼn besoekende professor aan die Universiteit van Oxford en ʼn ereprofessor aan die Universiteit van Kaapstad.

“O’Regan is ’n gerespekteerde voormalige regter en is bekend vir haar onwrikbare toewyding tot menseregte, maatskaplike geregtigheid en die oppergesag van die reg. Ek is dankbaar dat O’Regan haar beskikbaar gestel het om te verseker dat mense se reg op privaatheid nie in die gedrang kom nie terwyl ons veg teen Covid-19,” het Lamola gesê.

Wil jy op hoogte bly van alle nuus oor Covid-19 op Maroela Media? Klik hier om in te teken op ʼn daaglikse nuusbrief.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Oom Sakkie

Welkom by die NWO(nuwe wêreld orde) polisiestaat. Een van die dae kry elkeen ‘n chip/ nommer op sy hand of voorkop .

JC Venter

Hulle kan dus nou ter enige tyd op mens spioeneer en net sê dit is in Korona Covid se belang.

Jack

Bloot die beginfase van die Nuwe Wereld Orde agnda om almal te beheer. Voorloper vd merk vd beast (666)

Jaco

het ek reg gesien? sy is wit? Wat dan nou van regstellende aksie en BEE?

JC Venter

So die ‘Liewe Heksie’-ANC-regering kan EERS my persoonlike inligting bekom, en DAN eers ‘n week daarna ‘n verslag met besonderhede by O’Regan indien. Ongeag die voorwaardes van monitering het die LH-ANC-regering die besonderhede dan alreeds vir ‘n week om te vertroetel en kos en water te gee, op te pas. In daardie tyd help geen kwalifikasie, of dit nou 10 Dr’s grade is wat die afgetrede regter het of nie, wat die CV ook al mag beduie, dit maak nie ‘n vaal kol voor die inligting aan haar oorhandig is nie.