‘Selfoontoringdief’ val na sy dood

‘n Argieffoto ter illustrasie van ‘n selfoontoring. (Foto: Pixabay)

ʼn Vermeende dief wat Dinsdagoggend saam met drie van sy makkers op heterdaad betrap is terwyl hulle besig was om selfoontoringbatterye, transformatorkabels en olie te steel, het van die toring afgeval en is op die toneel dood. Die ander drie verdagtes is op die plek in hegtenis geneem.

Brig. Motlafela Mojapelo, woordvoerder van die polisie, het gesê hulle het inligting ontvang oor verdagte mans wat besig is om met die batterye en die transformator van ʼn selfoontoring in die Mohokoni-nedersetting digby Tzaneen te peuter. Hulle het onmiddellik na die toneel gejaag en twee van die verdagtes aangetref terwyl hulle besig was om die transformator uitmekaar te haal. Hulle het die olie van die transformator reeds in ’n 5 liter-houer gegooi.

Met die polisie se aankoms op die toneel het een van die verdagtes, wat steeds op die toring was, probeer wegkom deur na die grond te spring. Sy kop het die grond eerste getref en hy is op slag dood.

Die tweede verdagte het na nabygeleë bosse gehardloop, terwyl hy op die polisie begin losbrand het. Die polisie het hom agternagesit en later met die hulp van lede van die gemeenskap langs die pad in hegtenis geneem. Hy is tydens die skietery gewond en is in ʼn plaaslike hospitaal onder polisiebewaking opgeneem.

Die ander twee verdagtes het daarna met ʼn sedanvoertuig die gesteelde goedere kom oplaai. Hulle het klaarblyklik nie geweet die polisie is op hul spoor nie. Die polisie het hulle onmiddellik vasgekeer en in hegtenis geneem.

Al die verdagtes, tussen die ouderdomme van 27 en 43 jaar, is van Hammanskraal in die noorde van Pretoria in Gauteng.

Die polisie het ʼn saak van diefstal en kwaadwillige saakbeskadiging aanhangig gemaak. Die dood van die oorlede verdagte word ook ondersoek.

Die drie oorblywende verdagtes gaan na verwagting Donderdag in die Bolobedu-landdroshof in Limpopo verskyn.

Lt.genl. Nneke Ledwaba, provinsiale kommissaris van die polisie in Limpopo, het die lede van die polisie en lede van die gemeenskap geloof vir hul vinnige optrede om die verdagtes vas te trek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

9 Kommentare

jongste oudste gewildste
Genis

Live by the sword, die by the sword… dis nou tien teen dieslefde mense wat wonder hoekom is daar nie sein nie… Net bly hulle is gevang… hoop net hulle kry die straf wat hulle toekom..dis meer as net saakbeskadiging… dis ook maar n vorm van sabotasie

Stefan

‘N mate van geregtigheid.

Misky

Ek dink nie enige iemand huil nie. Hoop die ander leer daauit en gaan vertel hulle makkers wat gebeur as jy peuter met goed wat nie aan jou behoort nie.

Magda

Dis tragies – maar geen simpatie.

Carina

Goed so, ek het geen genade nie! Ek hoop die hele lot sit vir lank – maar wat’s die kanse?! Bygesê as hulle sit word ons swaar verdiende belasting geld weer daarvoor gebruik :(