Selfverdedigingsklas word prooi van diefstal

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Twee vroue het Saterdag sowat ʼn uur lank aan ʼn selfverdedigingsklas deelgeneem voordat hulle glo die ander deelnemers se persoonlike besittings asook geld wat tydens die klas ingesamel is gebuit en op die vlug geslaan het.

Gabrielle Venter vertel Sondag aan Maroela Media dat sy en ʼn vriendin aan ʼn selfverdedigingsklas by ’n besigheidsperseel in Garsfontein deelgeneem het as deel van ʼn fondsinsameling.

Die selfverdedigingsklas is die betrokke dag onder ʼn afdak op die perseel aangebied en deelnemers is onder meer geleer hoe om te reageer en hulself te verdedig sou hulle gekaap word.

Die groep deelnemers het tydens die klas twee vroue voor een van die nabygeleë winkels op die perseel opgemerk waar meubels herstel word. Die vroue het lank rondgehang en later aan die groep verduidelik dat hulle vir hul rusbank wag om herstel te word.

Die twee vroue is toe genooi om deel te neem aan die selfverdedigingsklas terwyl hulle vir hul rusbank wag om herstel te word.

“Die een vrou was ouer. Hulle was netjies aangetrek. Ek het aangeneem dat hulle ma en dogter is. Hulle het by ons aangesluit en vir meer as 45 minute, moontlik so lank as ’n uur, saam met ons in ’n sirkel gesit en na die instrukteur geluister. Hulle het selfs deelgeneem. Hulle was baie oortuigend.”

Venter vertel dat die groep later gevra is om na ’n motor op die perseel te gaan sodat die deelnemers eerstehands kon ervaar hoe om tydens ’n motorkaping op te tree. Die groep het hulle persoonlike besittings onder die afdak gelaat en na die motor beweeg.

Die twee vroue het egter agtergebly en die groep het aangeneem dat hulle liefs naby die meubelwinkel wou bly vir wanneer hulle rusbank gereed is.

“Ek het eers nie geweet of ek my sak moet agterlaat nie en het my selfoon en kontant in my broeksak gedruk,” sê Venter.

Sy verduidelik dat sy moontlik net ’n voorgevoel moes gehad het aangesien haar vriendin se handsak, vier selfone en kontant by hul terugkeer na die afdak weg was.

Die kontant wat tydens die klas ingesamel is, was ook weg.

’n Persoon wat op die perseel vuur gemaak het sodat die groep ná die klas kon braai, het aangedui dat die twee vroue na bewering die besittings gebuit en op die vlug geslaan het.

Die polisie is dadelik na die toneel ontbied, maar daar was geen teken van die vroue nie.

Gary Lewis, die instrukteur van die selfverdedigingsklas, het die voorval aan Maroela Media bevestig. “Ons het vriendelikheid teenoor hulle getoon en hulle het misbruik daarvan gemaak,” het hy gesê.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Die Goodwoodianer ·

“Die groep het hulle persoonlike besittings onder die afdak gelaat en na die motor beweeg.” – Ek is baie jammer, ek is iemand wat van natuurs eerder wil vertrou maar ek het self geleer wat gebeur as mens vertroue in mens plaas. Kan nie almal onder dieselfde kam skeer nie maar in vandag se tyd moet mens liefs nie mens vertrou nie. Vertrou in God, ja. Maar mens, nee kyk, mens is ñ snaakse ding…

Francois Le Cochon ·

Wys jou net weer, “no good deed goes unpunished”.

Onnie ·

Sies wat ‘n skande! Diep binne in my weet ek dat hulle nie ongestraf sal bly nie. Want so iemand moet ‘n spesiale straf kry.

Niklaas ·

“Trust nobody!! ” , sien ek n tyd gelede op n plakker teen die agterkant van ‘n motor wat behoort aan n swartman. Ek stem absoluut saam met hom. Daar is desperate mense orals om ons.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.