Semenya hoop hofbesluit baan weg vir ander   

Caster Semenya. Foto: PhillipMagakoe/AFP.

Caster Semenya het Woensdag buite die Europese menseregtehof in Straatsburg, Frankryk, die hoop uitgespreek dat dié hof se besluit van diskriminasie in atletiek sal ontslae raak.

Die hof moet besluit of daar van haar vereis gaan word om haar testosteroonvlakke te verlaag voordat sy weer aan die 800 m  mag meeding.

“Ek hoop dat die hof se besluit die weg sal baan vir die vurige beskerming van atlete se menseregte en dat jong vroue geïnspireer sal word om hulself in al hul diversiteit te aanvaar,” het die atleet buite die hof, omring deur haar regspan, gesê.

“Die uitkoms van hierdie saak is baie belangrik. ʼn Mens moet ʼn weg baan vir jong vroue sodat hulle nie te staan kom voor onreg, vooroordeel en diskriminasie nie.

“Die verhoor gaan nie oor my loopbaan nie. Dit gaan daaroor dat ek ʼn kampvegter is vir wat reg is; om ʼn stem te wees vir diegene wat nie vir hulself kan baklei nie.”

Die hof se besluit sal bindend wees, maar was teen middagete nog nie bekend gemaak nie.

Semenya, ʼn dubbele Olimpiese kampioen, het in Julie verlede jaar ná ʼn lang hofstryd in dieselfde hof ʼn oorwinning behaal toe daar beslis is dat Wêreldatletiek haar oorspronklike appèl teen testosteroonregulasies nie behoorlik aangehoor het nie. Die hof het ook bevind daar is teen Semenya, wat wettig as ʼn vrou geïdentifiseer word maar ook beskryf word as ʼn persoon “wat verskille in seksuele ontwikkeling het (DSD)”, gediskrimineer.

Sy veg al sedert Mei 2019 teen dié regulasies wat haar dwing om haar testosteroonvlakke medies te verlaag voordat sy aan die 800 m-item mag deelneem.

Wêreldatletiek het die regulasies in 2018 ingestel. Semenya het sedert die besluit geweier om haar testosteroonvlakke te verlaag.

“In 2009 het ek eerste op die podium gestaan by die Berlynse Wêreldkampioenskap, pas nadat ek geslagstoetse ondergaan het, wetend dat die wêreld veroordelend na my liggaam kyk en my geslag bevraagteken. In die 15 jaar daarna het ek met waardigheid volhard in die aangesig van my onderdrukking; dit het my gevorm in ʼn ware kampioen en deernisvolle ma, vrou, suster en dogter.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.