Semenya voorlopig terug op baan – sónder medikasie

Caster Semenya. Foto: Reg Caldecott.

Switserland se federale hooggeregshof het Maandag in die guns van Suid-Afrika se steratleet Caster Semenya beslis en sy mag minstens voorlopig weer aan wedlope oor enige afstand deelneem. Sy hoef ook nie medikasie te gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag om dit te kan doen nie.

Die hof het die Internasionale Atletiekfederasie (IAAF) beveel om die bepalings, wat atlete soos Semenya verhoed om aan wedlope tussen 400 m en ʼn myl deel te neem, dadelik op te skort.

“Ek is dankbaar teenoor die Switserse regters vir dié besluit. Ek hoop ná my appèl kan ek weer onbelemmerd hardloop,” het Semenya gesê.

“Die Switserse hooggeregshof het welkome tydelike verligting vir Caster Semenya gebring. Dit is ʼn belangrike saak wat fundamentele gevolge vir die menseregte van vroueatlete gaan inhou,” het dr. Dorothee Schramm, Semenya se Switserse regsverteenwoordiger, gesê.

Die hooggeregshof gaan nog ʼn beslissing maak oor die moontlike permanente opskort van die IAAF se regulasies, nadat die federasie voorleggings daaroor gedoen het.

Ingevolge die IAAF se bepalings moet Semenya, ʼn dubbele Olimpiese medaljewenner, medikasie gebruik om haar testosteroonvlakke te verlaag as sy wil deelneem aan wedlope tussen 400 m en ʼn myl. Semenya is met hiperandrogenisme gediagnoseer, wat onder meer beteken sy het natuurlike hoë testosteroonvlakke. Die IAAF beskou dit as ʼn onregverdige voordeel bó ander vroueatlete.

Die hooggeregshof het die IAAF tot 25 Junie gegee om te reageer. Tot dán mag Semenya deelneem sonder om aan die bepalings te voldoen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

18 Kommentare

Schalk ·

Ja Martin as sy waarlik ‘n mediese probleem het stem ek saam.

Jimmy ·

Die IAAF moet die 400 tot myl items vir vroue skrap van al sy byeenkomste, insluitend die Wêreldkampioenskappe en Olimpiese Spele. Probleem opgelos.

Judge Dredd ·

Ai tog.
Die IAAF moet net spesiale items skep vir “atlete soos” Caster Semenya.
Daar is reeds 2 ander atlete – Wambui en Nyonsabe.

Dan kan niemand tog meer kla nie.

Stier ·

Dames atlete moet net wedrenne waarin hulle teen mansatlete moet deelneem boikot en weier om deel te neem.

My opinie ·

Ek kry haar jammer. Dit is ‘n genetiese probleem. Nie iets waaroor sy ‘n sê het nie. Sy het haar talent geoefen en ontwikkel. Gun haar die geleentheid. Micheal Phelps se liggaam produseer minder “lactic acid” (sy spiere word nie so gou moeg nie) en niemand skop ‘n bohaai daaroor op nie.
Dis ook nie soos in Kanada waar “mans wat as vroue identifiseer” mag deelneem as vroue nie.

Stem saam ·

Dankie – jy is heeltemal reg. Sy is deur God geskape net soos ek en jy. Nou moet sy gestraf word omrede sy nie aan menslike standaard voldoen nie?

Nico K ·

Ek verstaan nie wat maak die Switserse hof so belangrik dat hulle die reg het om te besluit nie. Wat van as ander lande se howe nie saamstem nie. Dit is tog ‘n internasionale organisasie. Nie ‘n Switserse organisasie nie.

Ellisras ·

Die Internasionale Alletiek Federasie is gesetel in Switserland. Dus is die Switserse Hof die hoogste hof.

Chidleen ·

Baie goeie nuus. Nou kan Caster voortgaan om ons super ‘proud’ te maak.

Steven ·

Beste nuus vandag! Caster is deur God geskape en haar talent kom van God. Ons beste atleet in jare!

Malva ·

Diegene wat so juig sal sekerlik nie in skoene wil staan van vroulike atlete wat moet meeding. Slegs wanneer vroue weier om teen Semenya te hardloop sal nugter denke weer geld.

LHS ·

Nie een XX CHROMOSOON atleet wat weet hoeveel ure en sweet dit vat om kompiterend te kan deelneem of een afrigter wat ure se tyd en energie spandeer op n XX chromosoon atleet GAAN OF SAL saamstem dat dit regverdig of reg is om teen XY chromosoom atlete deel te neem nie. Ons hoef nie eers oor al die biologiese verskille wat die verskillende chromosoon samestelling bewerkstellig te praat nie. XY= manlik en XX = vroulik en presies op daardie punt kan enige ander belaglike redenasie maar gestop word. MAROELA MEDIA SAL WEER MY KOMMENTAAR VERWYDER WANT HULLE IS TOG OOK SO BANG VIR DIREKTE waarhede en realiteite.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.